Sakkie Parsons E-pos Bediening

Sakkie Parsons E-pos Bediening

Die Here het vir my laat verstaan, "die mense sal jou vrae vra en jy moet hulle antwoord".

Soms stuur iemand vir my ‘n vraag en dan sê ek vir ons Here, want ek kan dit tog nie vir Hom wegsteek nie. “Here, U weet ek weet nie hoe om hier te antwoord nie maar U het my hierdie bediening gegee en U moet asseblief nou net help." Dan gaan sit ek en ek neem my Bybel en die bronne wat ek as geloofwaardig beskou en ek skryf.  Dan, soms as ek klaar gelees het wat ek geskryf het, soos destyds met van my liedere, gaan ek heerlik aan die huil as ek sien wat ons Here in ‘n mens se lewe kan doen.

Ek stuur weekliks e-pos aan mense wat dit graag wil ontvang. Indien jy ook graag e-pos van my wil ontvang, sluit asseblief aan by my E-pos Bediening. Jy kan ook al die e-pos wat ek tot dusver aan lesers gestuur het op die E-pos Argief bladsy vind.

Let wel: My eposadres het verander na bediening@sakkieparsons.co.za. Vanaf 1 Maart 2015 gaan sparsons@absamail.co.za nie meer in werking wees nie. Die ou adres kom nog voor in al die dagstukkies en ons sal dit met die tyd korrigeer. Baie dankie vir jou geduld met my in hierdie saak.

My getuienis rondom die Wally Hayward Wedloop

Sakkie Hardloop die Wally Hayward MarathonEk wil jou vertel van ‘n wilde perd wat ek opgesaal het en toe ook gery het maar eers moet jy die volgende uit ons Here se word lees naamlik : 1KOR 9:26, FIL 3:14 en HEB 12:1-3 maar ek skryf dit aaneen omdat dit in my hart vanweë hierdie skrywe in mekaar in gevloei het....

Lees meer

Getuigskrifte

19 Feb 2019

Liefste oom Sakkie,

So ongeveer 25 jaar gelede het my ouers in 'n gemeente in Vryheid, Natal die eer gehad om een van oom se optredes by te woon.

Deur genade kon hulle daardie aand van oom se musiek gekoop het en so het dit in my huis beland.

Daardie musiek het my lewe verander, en was groot hulp in my lewe om my kindertjies groot te maak en lewenslesse te leer.

Binne paar dae het ek elke liedjie geken, en veral drie liedjies het deur die jare in my kop vasgesteek en onthou ek dit woord vir woord, en het ek my lewe so begin leef.

‘'n Motor se ligte’, ‘ ryk man en Lasarus’ asook my gunsteling die ‘Jaloerse hekkie / Wielie Walie draaihekkie...’ Dit het my ankers in die lewe geword...

Baie dankie vir u mooi kindskapgees en vir so baie wyshede en lewenslesse wat ek uit hierdie liedjies kon leer en toegepas het in my lewe. Ek het vasgeklou aan dit deur die jare, dit het my deur storms gedra... my laat besef hoe baie ek het om voor dankbaar te wees - alles dinge wat geld nie kan koop nie.

Dankie so baie vir die verskil wat oom in my huis gemaak het, die verstaanbare manier dat selfs klein kindertjies dit kan verstaan.. en ek GLO dat baie mense met my sal saamstem.

Dit is my God het my baie laat besef HOE groot die God is wat ons dien... So baie dinge wat ons maar net aanvaar as die natuur... maar deur daardie treffer besef mens hoe volmaak God se meesterstuk is.

Baie Dankie oom Sakkie, dat ek deur oom se bereidwillige gees en liefde aangeraak kon word..

Groete,
Salome.

Wie is Sakkie Parsons?

Ek kan nie juis maklik oor myself praat nie. Ek dink, dit is omdat dit maar ‘n droë onderwerp is om oor te praat.

Ek is getroud en het 5 kinders, 4 meisies en ‘n seun. Ek het in moeilike omstandighede groot geword en ek was nog baie klein toe die welsyn ons van my ouers weg geneem het. Dit was ook ‘n welsynsbeampte wat agter gekom het dat daar fout met my oë is en my toe na die skool vir blindes in Worcester, wat nou bekend staan as die Pionier skool, laat stuur het. In 1973 het ek tot bekering gekom en ongeveer 3 maande later het ek vir ons Here begin werk en so ver ek kan onthou was daar net een jaar van toe af wat ek nie heeltemal betrokke by die werk van ons Here gewees het nie en dit was in 1982. Ek is volgens my vrou en van my vriende ‘n fiksheid verslaafde en as dit so is , is dit ‘n heerlike verslawing.

Toe ek my eie potjie moes begin krap, was werk moeilik om te kry en as jy nog gesiggestremd is, was dit net daardie bietjie nog moeiliker. So, ek kon destyds as gesig gestremde nie maklik werk kry nie en toe ek vir die werk as skakelbord operateur op Anglo Platinum in Rustenburg aansoek gedoen het, was ek so dankbaar om net die kans te kry om vir ‘n werk aansoek te mag doen, dat ek vir die persoon wat my geneem het vir die onderhoud gesê het, dat as ek die werk kry, ek of by daardie werk sal aftree, of hulle sal my begrawe terwyl ek nog daar werk en 39 jaar en 10 maande later kon ek deur die genade van ons Here daar aftree.

Toe die tegnologie so ontwikkel dat rekenaars met ‘n mens kon praat, was dit soos tronk deure wat vir my oopgaan. In die verlede as ek ‘n brief getik het en ek maak êrens ‘n fout moes ek die papier uithaal en van voor af begin, omdat ek nie kon sien om die fout reg te maak nie. Nou met die rekenaar wat met my praat is dit hemel op aarde.

Ek werk gemiddeld 10 plus uur op ‘n dag in my e-pos bediening, wat bestaan om te skryf wat ons Here vir my gee en mense se vrae, waar ek kan, te antwoord.

Sien jy, nou nie juis vreeslike boeiende lees stof nie maar baie dankie dat ek dit met jou kon deel.

Mag ons Here jou seën in dit wat jy op hierdie webtuiste mag vind wat jou interesseer.

Sakkie Parsons

Lees my getuienis

“Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen." Judas 1:24-25