Braille Alfabet

Omdat ek fisies blind is en van braille gebruik maak, deel ek graag met jou die Braille alfabet sodat jy ‘n idee daarvan kan vorm.

‘n Blinde lees hierdie Braille met sy/haar twee voorvingers.

In my kop sien ek die Braille, as ‘n grootse groot liefdevolle geskenk van ons Here af.  Want dink net –  Met hierdie 6 dotjies kan ons wie blind is, in enige taal skryf en lees en daar is selfs ‘n braille snelskrif.

Hoe kom daardie ou koortjie nou in my kop op as ek dink, dat ons Here vir ons wie blind is ook ‘n skrif gegee het wat ons kan gebruik:

Ek weet die Here maak ‘n weg vir my.

Ek weet die Here maak ‘n weg vir my.

As ek altyd heilig leef,

Sonde haat, na goedheid streef.

Ek weet die Here maak ‘n weg vir my.

Hoe wonderlik om dan ook te onthou, as ek hierdie koortjie sing, hoe groot en hoe ver ons Here se liefde strek:

MAT 5:45  … Hy laat immers sy son opgaan oor slegtes en goeies.

En Hy laat sy reën val op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen.

So gee Hy ook Sy evangelie vir almal wie geestelik blind is.

Ons moet net soos met braille aan mense wie fisies blind is, sorg dat Jesus se Liefdesevangelie uitkom by hulle wie geestelik blind is.

Kom dat jy en ek help, dat veral en as eerste prioriteit Jesus se Liefdesevangelie by al die mense wat geestelik blind is uitkom.

Ja, kom jy en ek is na die beste van ons vermoë gehoorsaam aan ons Here Jesus se opdrag aan ons, wat al die geestelik blinde mense in die wêreld aanbetref:

MAT 28:19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels,

en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Ek laat jou dan wat hierdie skrywe aanbetref met die volgende groot heerlike waarheid uit ons Here se Woord:

JOH 3:16  “God het die mensdom (dit sluit alle geestelike blinde mense in) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen (dit sluit alle geestelike blinde mense in) wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense (ook nie een enkele geestelike blinde mens) te veroordeel nie, maar sodat die mense (en Hy herinner jou persoonlik, daarom lees jy dit nou ook weer, dat dit op alle mense wat geestelik blind is, van toepassing is) deur Hom verlos kan word.

Groete,
Sakkie