Sakkie Parsons E-pos Bediening

 Print Page

DIE FOKUSPUNT

DIE FOKUSPUNT

Sakkie Parsons

Ek dink ek het al in hierdie verband aan jou geskryf maar omdat 'die fokuspunt' nou onlangs weer in ‘n gesprek in my teenwoordigheid te voorskyn gekom het, het ek gedink om weer iets daaroor vir jou te skryf.

As jy dit nou klaar gelees het, gaan jy een teen tien vir my wil vra:
“Wat het dit met my te doen?”
Beskou dit dan maar as my manier om êrens iemand weer die regte perspektief op hierdie saak te laat kry.  Wie weet dalk die een vir wie jy hierdie e-pos aanstuur.

Ons leef mos in ‘n wêreld waar die volgende wel geld:
“Om te sien is om te glo.”
Of soos hulle in Engels sê:
“Seeing is believing.”

Omdat hierdie soort geloof so absoluut indruis teen die ware Christen se geloof, het ek besluit om weer iets daaroor te skryf.
Want, as ek luister na wat mense my vertel hoe mense byvoorbeeld op verhoë en agter kansels te kere gaan en van watter foefies als gebruik gemaak word, om hul gehore te trek en die se aandag en bewondering te hou, is ek van mening dat ons met ‘n klemverskuiwing in die verkeerde rigting op pad is.

Dit is dan wanneer iemand so verkeerd beïnvloed word, dat sy vir my sê:
“As die gemeente te dood is, gaan ek na ‘n ander waar daar vuur is.”
Buiten dat ek nie die vuur moet soek nie maar aste ware liewer die vuur moet wees, kry ek ook die indruk, dat as gevolg van ons klemverskuiwing in die manier wat ons die Evangelie verkondig, mense ook massa histerie en sensasie met die werking van die Heilige Gees verwar.

Ons, so lyk dit vir my, is al hoe meer besig, om onsself en ons vermoëns ten toon te stel en te verkondig,.  Terwyl die mense Jesus in ons moet sien, terwyl ons suiwer Sy evangelie moet verkondig.

Ek het nog nie getel nie maar ek kan nie ver uit wees as ek sê, dat ons by die 50 video’s van Billy Graham in ons besit het nie en ek kan nie aan een dink, waar hy anders as in ‘n normale gesels toon gepreek het nie en elke keer het letterlik honderde mense op sy eenvoudige uitnodiging na vore gekom.
Jy sien, sy geheim, as jy dit ‘n geheim wil noem, is dat hy altyd toegelaat het dat die Heilige Gees hom gebruik om die mense die pad na Jesus te wys.

Persoonlik is my maatstaf altyd:
As die boodskapper meer uitstaan as die boodskap, of dan, as die evangelis meer uitstaan as die Evangelie, is daar ‘n groot probleem.
Ons is mos Jesus se volgelinge en ons doen baie goed as ons Hom volg en doen soos Hy die voorbeeld gestel het.

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.

Kom ek wys jou nou hoe het die grootste Prediker van alle tye te werk gegaan toe Hy, wat vir my seker die grootste preek van alle tye is gepreek het:

Hy het nie op en af gespring nie, of heen en weer gestorm nie.
Hy het geen “trick” of foefie gebruik om die mense sa aandag te behou, of om ‘n indruk op hulle te maak nie.
So, wat het Hy gedoen?

MAT 5:1  En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom;
MAT 5:2  en Hy het sy mond geopen en hulle geleer en gesê:

Hy het nie byvoorbeeld rond beweeg met groot gebaar nie.
Hy het nie byvoorbeeld op hulle geskreeu nie.
Nee, Hy het gaan sit en hulle geleer deur vir hulle te sê.

Net ingeval iemand dalk dink, dat ek van ‘n uitsondering die reël wil maak, lees gou hier:

MAT 13:1-3 
1 En op daardie dag het Jesus uit die huis uitgegaan en by die see gaan sit.
2  En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in ‘n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan.
3  En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek …

Iemand sê dalk nou, dat die skuit op die see was en as gevolg van die see se skommeling van die skuit Jesus dalk gesit het.
As ‘n mens onthou dat Jesus in ‘n storm op die water geloop het, is rond beweeg in ‘n skuit vir Hom soos die Engelse sou sê:  “A walk in the park.”

Kom ek volstaan egter met nog een voorbeeld waar Jesus in die kerk gepreek het:

LUK 4:20  En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig.
LUK 4:21  Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.

Ek sê nou natuurlik nie dat almal moet nou sit as hulle ‘n boodskap bring nie.  Alhoewel ek nie kan sien hoekom die boodskapdraer nie maar kan sit nie, buiten dat party deftige preekstoele dit nie sal toelaat nie.

Ek sê wel, die boodskapper moet ‘n boodskapper wees, wat ons Here se boodskap oorbring en nie ‘n kunstenaar wat sy kunsvaardigheid ten toon stel nie.

1KOR 2:2  want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Ons moet waak, ja, ons selfs distansieer van hierdie klemverskuiwing deesdae in die Christendom, weg van die boodskap af na die boodskapper toe.

Ek praat natuurlik van preek, sing, voordra of wat ook al.
Want baie belangrik:  Alle eer en heerlikheid kom ons HERE toe:

1TIM 1:17  Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.

Groete,
Sakkie

 

E-pos: bediening@sakkieparsons.co.za
Webtuiste: www.sakkieparsons.co.za
Sel:  083 457 6669    

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za
Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.
Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

“Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen." Judas 1:24-25