Intercare 21 kilometer wedloop

Ek deel graag met jou hierdie foto’s en ondervinding uit my eerste 21 kilometer wedloop in 20 jaar!

My gids in wedlope, Marix Venter, het ons ingeskryf vir die ‘Intercare 21 kilometer wedloop’ op 1 Februarie 2020 en ek het dit gebruik om te kyk of ek nog so iets kan doen voordat ek die Wally wedloop 21 kilometer op 1 Mei, ‘n dag na my 73ste verjaarsdag, sal kan aanpak.

Marix het een van haar vriendinne, Annelie Du Plessis gevra, om dit so te stel, deel van die span te wees.

Laat ek gou verduidelik:

As ek en Marix in ‘n wedloop hardloop, kom daar soms mense van agteraf by ons op my linkerkant verby en swaai dan dadelik voor my in. Aangesien ek fisies blind is, is dit ‘n probleem.

Dink as jy jou motor bestuur en iemand kom by jou verby en swaai dan dadelik voor jou in en in my geval weet ek dit nie.  So, nog voor arme Marix my kan keer het ek klaar in die persoon vasgehardloop en veral as jy al klaar baie moeg is, wil jy nie hê iemand moet in jou vashardloop nie en jyself wil ook nie, veral as jy moeg is naby die einde van ‘n wedloop , in iemand vashardloop nie en my gids, dierbare  Marix, moet nou nog met daardie spanning ook hardloop.

Daarom vra sy toe vir Annelie, met haar so mooi gesindheid, om aan my linkerkant te hardloop om te help dat mense nie dadelik voor my kan inbeweeg nie.

Sy het haar so baie goed van haar taak gekwyt en die hele wedloop langs my op my linkerkant gebly, al is sy baie fikser as ek en kon sy baie lank voor my reeds haar medalje gehad het en saam met Marix het hulle twee my aangemoedig ook, toe ek begin voel het ek kan nie eintlik meer nie.

So met ‘n glimlag;

Hulle het dit nie toe geweet nie maar die wyse wat hulle gesels het hier van 18 kilo’s af, asof hulle in ‘n sitkamer sit en tee drink, het my amper laat vra of daar nie ‘n mediese tent naby is nie.

Na die wedloop toe ek aan hulle twee terugdink, het dit by my opgekom hoe wonderlik dit is om links en regs van jou werklike omgee-vriende te mag hê – maar oor ware Christenvriende ietsie ‘n bietjie later.

Ek was so na 18 kilo’s baie moeg – maar die mooiste vir my van die hele wedloop was toe ek oor die wenstreep gaan en hierdie mooi, vol blydskap-stem my verwelkom en my verloofde, Lynette, my omhels en my gelukwens dat ek my medalje met nog amper 11 minute oor voor die afsnytyd kon kry.

Nou iets wat ek ook weer in daardie wedloop opnuut besef het:

As ek so terugdink aan die wedloop en aan my geliefde Lynette, my wonderlike gids Marix, haar man Hennie en Annelie die beskermengel aan my anderkant en al die ander wonderlike Christen vriende in ons Agape klub, het ek ook weer die groot waarheid besef wat ek in my lewe geleer het en dit is:

Verkondig die evangelie aan almal waar jy die geleentheid kry.

Wees vriendelik teenoor alle mense en laat die mense so Jesus deur jou sien:

ROM 12:18  Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.

Maar kies jou vriende versigtig en sorg dat die vriende wat jy het, Christenne is – sodat julle dieselfde beginsels het en mekaar altyddeur bemoedig.

EFE 4:32  Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.

Dankie dat ek hierdie met jou kon deel.

Groete met Jesus liefde,
Sakkie