Sakkie Parsons E-pos Bediening

'n Motor se ligte

‘n Hele paar jaar gelede toe ek nog deur die land gereis en by kerke opgetree het, was ons een aand laat op pad terug huis toe. Destyds kon ek nog goed genoeg sien om in die nag motors se truligte te sien as hulle voor ons ry.
Op ‘n kol, kom daar toe ‘n motor van agter af by ons verby. Toe die motor langs ons ry, lê die Heilige Gees dit op my hart om na die motor te kyk.  Ek kon natuurlik niks sien as net die ligkol wat die motor se kopligte voor hom in die pad gooi nie en toe hy voor ons uit ry, kon ek natuurlik net die twee rooi spikkels van sy truligte sien.
Terloops, die laaste ding wat ‘n mens kan sien as jy begin blind word, voordat jy niks meer kan sien nie, is lig. Met daardie motor se ligte gee ons Here my toe die aand ‘n gedagte wat ‘n groot indruk op my gemaak het en toe ons Here sien watter indruk die gedagte op my gemaak het, sit Hy so glo ek toe ook sommer die “cherry” op die koek en gee Hy my ‘n lied om saam met die gedagte te gaan.

Ek wil nou graag die gedagte en lied met jou deel.

Lees net eers gou die volgende gedeelte uit die Woord:

1KOR 12:14-30

14  Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. 
15  As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? 
16  En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? 
17  As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? 
18  Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. 
19  As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? 
20  Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. 
21  En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. 
22  Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; 
23  en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, 
24  terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, 
25  sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. 
26  En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. 
27  Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik. 
28  En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale. 
29  Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie?
30  Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê?

Die gemeente of selgroep of genootskap of wat jy dit ook al noem, is soos ‘n motor.
Elkeen het sy deel gekry om te doen en as die een iemand anders se deel probeer doen, soms omdat die een wat dit moet doen dit nie wil doen nie, kan dit op chaos uitloop.

Byvoorbeeld:
Sê nou die stuurwiel besluit:
“Ek gaan nie meer hierdie motor stuur nie. As die bestuurder kwaad word vir iemand wat vrot bestuur, slaan hy met die vuis op my. Daar lê die spaarwiel in die kattebak.  Hy doen nooit iets nie, hy gaan net altyd lekker saam vir die 'ride'.”
Dink nou wat gaan by die eerste draai met die motor en die niksvermoedende bestuurder gebeur.
Of, kom ons sê, soos daar waar jy jou godsdiens uitlewe, het die motor se parte ook die vermoë om te besluit wat hulle wil of moet doen.
Die stuurwiel wil nou nie meer sy deel doen nie.  Nou moet die spaarwiel maar inval.
Dink jou nou in, as jy ‘n motor moet bestuur, wat ‘n spaarwiel vir ‘n stuurwiel het.
Of, sê nou die motor se een koplig besluit eendag;
“Ek moet altyd die meeste lig gee en al die stof en klippies en ander goed waai altyd teen my vas.
Daar sit daardie truligte daar agter.  Hulle hoef nie eens so baie lig soos ek te maak nie en geen gemors waai teen hulle vas nie.  Een van hulle kan nou maar hier voor die motor sy plek kom inneem.”
Kan jy nou die probleem van die arme bestuurder sien.
Hier bestuur hy ‘n motor wat net een lig het wat behoorlik werk.  Om nie eens te dink aan die arme bestuurder in die motor agter hom nie.  Omdat die trulig nou voor moet gaan werk, het die koplig geen ander plek om heen te gaan nie, as agter na die trulig se plek. Die arme bestuurder in die motor agter, hy kan ook nie sien waar hy moet bestuur nie, want hier is ‘n motor se koplig, wat vol in sy oë skyn.

Ek is seker dat jy, soos ek, graag wil hê dat die Evangelie-wa van Jesus glad en met spoed teen die bult wat nog voorlê uit moet beweeg - want net oorkant die kruin maak Jesus gereed om ons te kom haal. So kom ons doen met oorgawe, met ander woorde vol ywer met ons talente wat ons kan vir ons Here.

Hierdie gedagtes het deur my gedagte gegaan, toe “bless” ons Here my nog met die volgende lied ook:

Koor
‘n Motor se ligte het my geleer.
Daar’s ‘n takie vir elkeen van ons liewe Heer.

Vers 1
Een aand terwyl ons op die hoofweg ry.
Kom daar ‘n motor by ons verby.
Ek sien sy kopligte die pad aanwys.
Ek sien sy truligte terwyl hy verder reis.

Koor
Ja ‘n motor se ligte het my geleer.
Daar is ‘n takie vir elkeen van ons liewe Heer.

Vers 2
Maar sit sy kopligte nou agter hom vas.
En maak sy truligte nou voor op hom pas.
Klim nou in daai motor en probeer verder gaan.
Voor jy weet waar jy is, is jy af van die baan.

Vers 3
Maar doen jy jou deeltjie wat jy by God kry.
En ek doen myne en jy werk saam met my.
Dan sal hierdie waentjie daai steil bult uit beur.
En oorkant die kruin wag die liewe Heer.

Koor
‘n Motor se ligte het my geleer.
Daar’s ‘n takie vir elkeen van ons liewe Heer.

 

“Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen." Judas 1:24-25