DEUR DIE SONDE DIE DOOD

DEUR DIE SONDE DIE DOOD

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende:

“Help nou gou vir my met ondergenoemde stelling,  ek persoonlik dink dis verkeerd maar sal graag jou opinie wil hê!
In geval van n geliefde se dood, sal jy soms hoor dat die dominee sê  “Die Heer het die mooiste blommetjie vir Sy tuin kom pluk” maar verseker is dit mos NIE die Heer wat doodmaak nie, of verstaan ek dit heeltemal verkeerd.”

Ek wil dan graag begin deur te sê, dat soos ek die Woord verstaan, was dood nie in ons Here se bloudruk van Sy skepping nie.
Ek weet nie hoe ons Here dit presies oorspronklik wou doen nie maar dan, ek hoef ook nie te weet hoe Hy dit wou doen nie.  Want, om dit te weet, of dit nie te weet nie, kan niks bydra of wegneem van my saligheid, of my verkondiging van Sy liefdes Evangelie, soos ek dit sien nie.
Wat ek wel in die Woord, waarvan ek elke woord glo, lees en verstaan, is dat (dood) die direkte gevolg is van die mense se ongehoorsaamheid.  Met ander woorde, die mens se sonde het dood in die wêreld in gebring.

ROM 5:12  Toe Adam gesondig het, het sonde in die wêreld ingekom en deur Adam se sonde ook die dood.  En so het die dood tot alle mense deurgedring, want almal het gesondig.

Eerstens, op jou stelling:
“… verseker is dit mos NIE die Heer wat doodmaak nie.”

As jy dit afsny tot op die been, gebruik ons Here tog soms die dood, omdat so
verstaan ek dit, dat die mens, van nature soveel ontsag vir die dood het.
Ek gee een voorbeeld uit die Nuwe Testament.
Jy kan die hele gedeelte self gaan lees.  Ek gee hier net dit wat relevant vir dit is
waaroor ek nou met jou deel.

HAN 4:33-35 
33 Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus, en God het sy genade ryklik aan elkeen gegee.
34  Nie een van hulle het ‘n tekort gehad nie, want gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring
35  en vir die apostels gegee.  Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

HAN 5:1-11 
1 Daar was egter ook ‘n sekere man, Ananias, wat saam met sy vrou, Saffira, ‘n eiendom verkoop het.
2  Hy het met die medewete van sy vrou van die verkoopprys vir hulleself gehou en net ‘n gedeelte daarvan gebring en vir die apostels gegee.
3  Petrus sê toe:  “Ananias, hoekom het jy jou deur die satan laat omhaal? (Hoekom het satan jou hart gevul?)  Jy het vir die Heilige Gees gelieg toe jy ‘n deel van die geld teruggehou het. (deur voor te gee dat dit die volle bedrag was)

4  Die grond was joune om te verkoop of nie.  En selfs na jy dit verkoop het, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou.  Hoe kon jy so iets doen?  Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.”
5  Toe Ananias hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterf.  Almal wat hiervan gehoor het, het groot geskrik.
6  ‘n Paar jong mans het hom toegedraai en gaan begrawe.
7  Omtrent drie ure later het sy vrou ingekom, onbewus van wat gebeur het.
8  Petrus vra haar toe:  “Het julle die grond vir hierdie bedrag verkoop?”
      “Ja” het sy geantwoord, “dit was die bedrag.”
9  Toe sê Petrus vir haar:  “Waarom het julle twee saamgesweer om die Gees van die Here te toets?  Net hier buite die deur is die jong mans wat jou man begrawe het, en hulle gaan jou ook uitdra.”
10  Onmiddellik het sy by sy voete neergeval en gesterf.  Toe die jong mans inkom en sien sy is dood, het hulle haar by haar man gaan begrawe.
11  Die hele gemeente het groot geskrik en al die ander wat hiervan gehoor het, het net so geskrik.

Wat vir my egter skokkend in jou skrywe aan my was, is dat daar selfs dominees kan
wees wat, so ‘n, wat vir my ‘n belaglike stelling is te kan maak soos en ek kwoteer
jou:
“In geval van n geliefde se dood –sal jy soms hoor dat die dominee sê:”
“Die Heer het die mooiste blommetjie vir Sy tuin kom pluk”

Die sagste wat ek myself kan uitdruk as ek hoor dat ‘n opgeleide teoloog so ‘n
belaglike stelling gemaak het, is om te sê dat na my mening, dit ‘n siek stelling is om
te maak.
Ek lees, dat Jesus in sy Woord juis vir jou en my aangaande ons Sy kinders, almal
wat Hom aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker sê:

JHN 10:10  Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig.  Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê.

Ek het gesê, dat die ligste wat ek persoonlik dit kan uitdruk, is dat dit ‘n “siek”
stelling is, om te sê, dat ons Here iemand doodmaak, omdat Hy byvoorbeeld:
“Die mooiste blommetjie vir hom, of Sy tuin wil pluk.”
Ek lees in Lukas die volgende gebeure:

LUK 9:51-56 
51 Toe die tyd naderkom vir Jesus se terugkeer hemel toe, het Hy vasbeslote die tog na Jerusalem begin.
52  Hy het boodskappers vooruit gestuur na ‘n Samaritaanse dorpie om vir sy koms gereed te maak.
53  Maar hulle is weggewys.  Die mense van die dorpie wou niks met Jesus te doen hê nie omdat Hy van plan was om Jerusalem toe te gaan.
54  Toe Jakobus en Johannes dit hoor, het hulle vir Jesus gesê:  “Here, moet ons vuur uit die hemel laat kom om hulle te verbrand?"
55  Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; (1953 V)
56  want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na ‘n ander dorp vertrek. (1953 V)

Het jy gesien wat was Jesus se antwoord as iemand om Sy ontwil iemand anders wil
doodmaak.

LUK 9:56  want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na ‘n ander dorp vertrek.

Daar is natuurlik altyd ‘n rede waarom ‘n mens sterf maar ons weet in baie, baie
gevalle nie waarom ons Here toegelaat het dat die persoon gesterf het en selfs
hoekom die persoon gesterf het op die wyse wat sy/hy gesterf het nie maar as kind van ons Here weet ek dat daar altyd ‘n goeie rede is,  waarom dit gebeur het soos wat dit gebeur het, al verstaan ek dit die meeste van die tyd nie.

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Ek weet byvoorbeeld nie waarom Johannes van wie Jesus self sê –

LUK 7:28  “Ek sê vir julle, van almal wat ooit geleef het, is niemand groter as Johannes nie.  …

Soos ek sê, ek weet nie hoekom Johannes in die fleur van sy lewe moes sterf en dit op so ‘n wrede manier nie.

MAT 14:8-10 
8  Aangepor deur haar ma vra sy toe:  “Bring vir my op ‘n skinkbord die kop van Johannes die Doper!”
9  Die koning was bitter ontsteld hieroor, maar omdat hy ‘n eed afgelê het en nie voor die gaste sleg wou lyk nie, het hy opdrag gegee dat haar wens uitgevoer moes word.
10  Hy stuur toe soldate en laat Johannes in die tronk onthoof.

Een ding aangaande hierdie gebeure weet ek egter verseker.  As jy na hierdie gebeure vir Johannes sou vra, of hy dinge anders sou wou hê, sou, so glo ek, sy antwoord verseker iets soos die volgende gewees het:
“Nooit!  Ek is dan nou in die Hemel.”
Nee, ons het verseker nie altyd die antwoord, oor waarom iemand gesterf het nie maar prys die Naam van ons Here!
Hoe wonderlik heerlik!
Ons weet waarom Jesus gesterf het.

JHN 3:16  God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JHN 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.

Het jy al Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker?
Die Woord sê van Jesus:

JHN 3:36  “Wie glo in die Seun, besit nou reeds die ewige lewe, wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom.

Onthou, wat die mense ook al om jou sê, van hoe jy die ewige lewe en daarmee saam die Hemel sal kan beërwe.
Jesus sê, dat daar net een manier is om vir ewig in die Hemel by ons Here te lewe.

JHN 14:6  Daarop het Jesus gereageer:  “Ek is die pad en die waarheid en die lewe.  Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

Groete,

Sakkie