God hou geen kwitansies

Getuienis

My vrou was ‘n bestuurderes van ‘n klerewinkel in Rustenburg. Terwyl ek eendag by haar in die winkel gesit het, het ‘n kliënt wat ‘n rok gekoop het dit kom omruil as gevolg van ‘n verkeerde grote wat sy gevat het. My vrou het haar verduidelik dat sy net die kwitansie nodig het en dit dan dadelik omgeruil.  Terwyl ek luister na die kliënt en my vrou wat die klere omruil, kom praat die Heilige Gees in my hart. Ons mense is so ingestel op bewysstrokies, byvoorbeeld: “Omdat jy nie vir my ‘n guns wou doen nie, sal ek ook nie nou vir jou help nie.”
Is dit nie wonderlik, dat ons Vader, wat van al die verkeerde dinge in ons lewens weet, nie ‘n kwitansieboek hou oor al ons verkeerde dade nie.
As ek na Hom toe gaan en vergifnis vra en ek bedoel dit, sê Hy in die Woord :

Jesaja 1 vers 18:
Die Here sê:”Kom ons handel nou die saak af. Al is julle vol vlekke van die sonde, julle sal skoon word soos helderwit sneeu. Al is die vlekke bloedrooi, dit sal wit word soos wol.
Hebreërs 8 vers 12:
“Ek sal die verkeerde dinge vergewe wat hulle gedoen het,en aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie.”
Hebreërs 1 vers 17:
“Ek sal nooit weer dink aan die sonde en die kwaad wat hulle gedoen het nie.”

Dink hieraan, as God sê Hy dink nooit weer daaraan nie, dan is dit verseker nooit.  Dan word nooit, verewig. Ek dink toe hoe kan ek dit aan die mense verduidelik. Toe onthou ek die swartbord in die skool en die borsel waarmee die bord skoon gevee word.  As jy daardie bord skoon gevee het, kan niemand ooit weer sien wat daar nou net geskrywe was nie.  Net so werk dit met my sonde, as ons vir ons Vader vergifnis vra en dit bedoel, dan neem Hy die borsel, (dit wil sê die bloed van Jesus) en Hy vee dit uit en nie eens die Engele in die Hemel kan ooit weer iets oor daardie sonde sê nie.  Om weer skuldig te staan vir daardie sonde sal ek dit weer moet doen.
God verwag van my as Christen om dieselfde te doen.

In die volgende verse, waar Jesus praat word dit nog duideliker:

Mattheus 5 vanaf vers 43:
43″Julle het al gehoor die mense sê:’n Mens moet jou vriende liefhê maar jou vyande moet jy haat.’44 Maar Ek sê nou vir julle: julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir die wat julle vervolg. 45 As julle dit doen, sal julle julle Vader in die hemel se kinders wees. Want God laat sy son skyn oor almal-oor goeie mense en slegtes. Hy stuur reën vir almal vir eerlike en oneerlike mense. 46 Watter beloning sal God vir julle gee as julle net die mense liefhet wat ook vir julle liefhet? Selfs die oneerlike belastingagente doen dit! 47 Is dit miskien iets besonders as julle net julle familie vriendelik groet? Selfs die ongelowige mense doen dit ook.

God hou geen kwitansies

Vers 1
Jy staan in ‘n winkel want jy het iets gekoop,
Jy wag vir jou kwitansie voordat jy daaruit loop.
As iemand vir jou vra, sê my wat was die prys,
Dan het jy jou kwitansie wat jy vir hom kan wys.
Maar God hou geen kwitansie, my God hou glad nie boek.
Al het jy ook gedwaal toe satan jou versoek.
As jy jou skuld bely het en jou spyt aan Hom toon,
Dan neem God net die borsel en Hy vee die swartbord skoon.

Vers 2
Iemand doen jou kwaad jy sê jy het vergeef.
Maar jy sal nooit vergeet nie, hoelank jy ook al leef.
‘n Mens het mos verstand en dit is wat jy weet.
Jy sal kan vergewe maar jy sal nooit kan vergeet.
En God hou geen kwitansies, God hou glad nie boek.
Al het jy ook gedwaal toe satan jou versoek.
As jy jou skuld bely het en jou spyt aan Hom toon.
Dan neem God net die borsel en Hy vee die swartbord skoon.

Vers 3
Hier is iets my liewe Christen wat jy nou tog moet weet.
As Jesus se ou kindjie moet jy ook kan vergeet.
Bely net; Ek’s ‘n Christen dit is God wat in my woon.
Nou neem ek net die borsel en ek vee die swartbord skoon.
Ja, ek hou geen kwitansie en ek hou glad nie boek.
Al sou ou satan somtyds by my kwitansies soek.
Want ek is mos ‘n Christen dis God wat in my woon.
Nou neem ek net die borsel en ek vee die swartbord skoon.