Julle sal My Getuies Wees

Getuienis

Hierdie lied was die titel lied van die eerste produksie wat ons Here my toegelaat het om te maak en ek wil graag met jou deel, hoe hierdie lied tot stand gekom het.  Ek was Jeugleier van ons gemeente in 1984.
Terwyl ek Jeugleier gewees het , het ek so veel as wat ek kon met die gemeentes van ander denominasies om ons gereël, dat hulle ons besoek en andersom.
Die kere wat ons dan mekaar so oor en weer besoek het, het ons dan ook ‘n spesiale iets vir die besoekers gereël.
So kom dit toe dat ons die AGS sentraal besoek en hulle reël toe ‘n spesiale Prediker om die aand die boodskap te bring.

Nou moet ek eers iets bely.

Normaalweg as daar in ‘n diens ‘n uitnodiging gegee word, gaan ek nie na vore nie en dit is nie dat ek nie wil nie, maar my probleem is dat gewoonlik as ek vorentoe gaan vir een of ander rede, is daar die een of ander persoon wat my of my kop kom vasvat om vir my oë te bid terwyl ek ‘n heel ander behoefte het.
Ek wil jou nou wys hoe pragtig beplan ons Here iets vir Sy kinders.
Daardie spesifieke aand, het daar iets voorgeval en ek het laat by die kerk aangekom.
Terwyl ons na die kerk toe stap van die motor af, praat ek nog met myself, oor die slegte voorbeeld wat ek as Jeugleier stel om laat te kom.  Toe om die “cherry” op die koek te sit, is die kerk stampvol en net heel voor is daar nog plek.
Die aand gee die Prediker toe ‘n uitnodiging wat min of meer so geklink het:

“As hier iemand vanaand is wat iets vir die Here wil vra, laat hy of sy nou hier voor kom staan en dan gaan ons bid.”
Ek besef toe as ek nou opstaan, gaan niemand sien dat ek vorentoe gelei word nie, want ek staan mos al klaar voor.
Die aand staan ek toe daar en ek steek my hande op en sê en so ver ek kan onthou, was dit my presiese woorde:
“Here gee vir my ook ‘n joppie.”
Na die diens ry ons toe huis toe en op pad kom hierdie woorde toe in my kop op.
Toe ons by die huis kom, neem ek gou ‘n bandmasjien en sing dit sommer gou op die eerste die beste band wat ek kon kry, want ek was bang ek vergeet die wysie want ek kon nie toe nie en ek kan nou nog nie ‘n noot musiek skryf nie.
Ek wou so graag ‘n getuie vir ons Here wees. Dit was ook die titel van my eerste produksie.

Hier volg dan nou die woorde van die lied wat ons Here my daardie aand op pad huis toe gegee het.

Julle sal My Getuies Wees

Vers 1
Jy het jou bekeer jy is deur die doop bad.
En jy sê my vriend ek is op die nou pad.
En Sondae wil jy in die kerk sit.
Jy weet dit is reg om vir andere te bid.

Koor
Maar om Handelinge 1 vers 8 op te som.
Julle sal krag ontvang as My Gees oor jul kom.
En julle sal My getuies wees.
Begryp jy my broer wat jy daar lees.

Vers 2
Dis goed as jy in die kerk wil getuig.
En as jy saam met die broers en susters wil juig.
En as jy so diep uit jou hart uit wil sing.
En as jy jou kinders na die Sondagskool bring.

Koor
Maar om handelinge 1 vers 8 op te som.
Julle sal krag ontvang as My Gees oor jul kom.
En julle sal My getuies wees.
Begryp jy my broer wat jy daar lees.

Vers 3
Dis goed as jy al hierdie dinge reg kry.
Maar luister my broer asseblief tog na my.
Is jy vol van die Krag moet jy uit beweeg.
En ‘n bietjie laat tap in ‘n wêreld dol leeg.

Koor
Want om Handeling 1 vers 8 op te som.
Julle sal krag ontvang as My Gees oor jul kom.
En julle sal My getuies wees.
Begryp jy my broer wat jy daar lees.
Verstaan jy nou broer wat jy daar lees.