Sakkie Parsons Email Ministry

My Dankgebed

Jare gelede maar laat ek eers iets verduidelik. Ek het altyd ‘n oogprobleem gehad en het ook skool gegaan in die skool vir blindes in Worcester. Ek kon egter eens op ‘n tyd baie goed gesien het.  Eintlik moet ek seker sê, dat vir iemand met ‘n oogprobleem, kon ek baie goed gesien het. Ek kon selfs in die strate met ‘n fiets ry, sonder om in ‘n ongeluk te beland. Al my kinders was al gebore en ek het reeds heerlik hard vir ons Here gewerk, toe ek agterkom, dat my oë skielik vinnig begin agteruit gaan. Ek het natuurlik dadelik geweet dat ek soos so baie ander blinde mense wat ek van weet, al of feitlik al my sig gaan verloor. Alhoewel ek nooit dit wat ons Here toegelaat het om met my te gebeur bevraagteken het nie, want by daardie tyd was (Rom 8:28) al lankal my slagspreuk in my lewe.

Rom 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Was daar tog tye wat ek hartseer geraak het oor die feit, dat daar sekere dinge is wat ek nie meer gaan sien nie en vir my was die belangrikste hiervan, my kinders se gesiggies.

Eendag staan ek by my agterdeur en ek staan en luister hoe my kinders in ‘n sandbak wat ek vir hulle gemaak het speel en ‘n groot hartseer kom oor my toe dit my weer tref, dat binne ‘n paar maande en op die meeste ‘n jaar, gaan ek hulle gesiggies nooit weer sien nie. Ek sak toe af op my hurke en roep hulle na my, want ek kon toe al klaar nie tot by die sandbak sien nie. Hulle kom toe en ek druk hulle teen my vas en toe besef ek hoe gelukkig ek is.
Daar is mense wat nie een kind het nie en ek het drie.
Ek los hulle toe dat hulle weer kan gaan speel en stap die huis in. Op pad na die voordeur, stap ek verby die yskas en op die yskas is ‘n bak met perskes. Ek neem toe een en terwyl ek hom so loop en eet, dink ek daaraan, dat my God so mooi na my kyk.  Hy gaan selfs in die grond in en sorg dat die perskeboom kos kry, sodat die boom vir my hierdie heerlike vrug kan gee.

Toe ek by my voordeur uitstap, val die middagsonnetjie se strale so heerlik koesterend oor my en ek dink, dat die strale van die son nou op my val net soos konfetti op ‘n bruid val, as sy uit die  kerk stap. Daar kom toe ‘n groot dankbaarheid in my op, oor die fyn presiese detail waarmee ons Here agter my kyk en ek hierdie groot sekerheid kan hê, dat alles in my lewe, ‘n baie, baie goeie doel het en toe wil ek net ons Here se Naam groot maak.

Toe dring die voëltjies se gesang uit die bome tot my deur en ek dink. Ek wil nou skielik ons Here se Naam groot maak maar daar sit die voëltjies in die bome en hulle kindertjies word gevang en opgevreet.  Ek het so baie wat hulle nie het nie en tog het hulle vanoggend begin sing en vrolik wees en nou nog nie opgehou nie.

Toe soos so baie in die verlede, kry ek die gevoel om my kitaar te neem en ek deel nou met jou die lied wat ons Here in my hart laat opkom het.

Vers 1
Ek hoor my kinders in die sand wat maak hulle daar?
Ek hoor hul kinderstemme sê, maak koekies gaar.
Ek roep en hoor hul voetjies loop, hul kom na my.
Wat het ek gedoen, om soveel goed van God te kry.
Maar ek dank U my Here vir alles wat ek het.
O hoor tog my God my dankbare gebed.

Vers 2
Ek eet ‘n perske en die sap sê in my mond.
Weet jy, jou God is oral oor, selfs in die grond.
Ek dank U God, dat ek kan weet my God is Gees.
En oral waar ek ook al gaan U by sal wees.
Ja, ek dank U my Here, al sou ek dan ook treur.
My God is altyd by om my op te beur.

Koor
Selfs as dit koud is in my huis, ek stap net uit.
Sonstrale val op my, soos konfetti op ‘n bruid.
Ek wil U prys, U Naam grootmaak, ja, vir U sing.
Maar wat hoor ek, die Voëltjies het my voor gespring.
Ja, mens en dier sing almal van U Roem.
Hul wil U majesteit, U krag, U liefde noem.
Amen, amen.

 

Lied: 

“To him who is able to keep you from stumbling and to present you before his glorious presence without fault and with great joy – 25 to the only God our Saviour be glory, majesty, power and authority, through Jesus Christ our Lord, before all ages, now and forevermore! Amen." Jude 1:24-25