My uniform

Getuienis

Ek luister eendag na ‘n Evangelis se getuienis en ek deel dit wat ons Here met my gedeel het ook met jou.

Hy vertel, dat hy eendag in, ek dink dit was sy tuisdorp ‘n diens moes gaan waarneem. Die Pastoor wat hom uitgenooi het om die diens te kom waarneem, het vir hom vertel, dat dit ‘n groot byeenkoms gaan wees. Hy vertel toe, dat hy toe so ‘n bietjie in die vlees besluit maar as dit ‘n groot ding gaan wees gaan hy spesiaal op sy voorkoms let. Hy gaan toe en koop ‘n nuwe pak klere, nuwe skoene, nuwe kouse, nuwe hemp en ‘n nuwe das. Alles wat baie mooi bymekaar en by hom pas. Hy sê toe maar so met die kopery en aanpassery, het hy nie die tyd dop gehou nie en toe hy kyk hoe laat dit is, sien hy, dat as hy nou nie gou maak nie, gaan hy laat by die kerk uitkom. Gelukkig ken hy ‘n kort pad, wat hom sommer binne ‘n paar minute by die kerk gaan uitbring en hy loop toe sommer van die winkels in sy nuwe klere na die kerk. Op pad moes hy net een groot kruising oor en dan is hy by die kerk. By die kruising gekom, staan hy en wag vir ‘n geleentheid om gou oor die pad te draf maar hy het een ding vergeet. Dit is laat middag en die verkeer is amper op sy ergste, want mense gaan huis toe van die werk af. Hy staan en hy wag. Dit is later vyf minute. Dit is later tien minute. Na twintig minute, besef hy, dat sy kortpad nie meer ‘n kortpad is nie maar hy is nou “passed the point of no return” en as hy nie hier oor kom nie hy in elk geval gaan laat wees, maak nie saak wat hy doen nie. Hy sê, maar toe kom daar ‘n motorfiets en hou hier langs hom stil en ‘n verkeersman wat gewoonlik daardie tyd van die dag die verkeer daar kom reguleer, omdat daar nog nie verkeersligte daar is nie, klim van die motorfiets af en hy stoot sy stofbril op, trek sy handskoene reg, steek sy hand uit en stap in daardie pad in. Hy sê: “Mense julle moes dit sien! Groot vragmotors, dubbeldekker busse, luukse motors, ryk sakemanne en “smart opgetofde dames in hulle motors, almal kom tot stilstand.” Hy sê en dit was nie omdat die man die fisiese krag gehad het nie. Dit was omdat hy geklee was vir die okkasie. Hy het die regte uniform aangehad. Hy sê: “Hier staan ek met nuwe klere, wat maklik twee of drie keer gekos het wat sy klere gekos het maar as ek probeer doen het, wat hy gedoen het, was ek ‘n “goner.” Ek het toe die verhaal van hoe sy ydelheid hom amper in ‘n groot verleentheid laat beland het, baie geniet en toe kom ons Here en sit die “cherry” op die koek en gee my die lied wat ek nou met jou deel.

My uniform

Vers 1
Eendag staan ek by ‘n kruising, om oor te gaan.
Maar die motors was so woelig daar, ek moes net doodstil staan.
Maar toe kom daar ‘n motorfiets en hou hier langs my stil.
‘n Verkeersman klim daar af en lug sy stofbril.
En hy steek net sy hand uit en hy gaan in daai pad staan.
En jy hoor net die remme, soos die manne brieke slaan.
Want hy het die klere hy het die drag.
Sy uniform gee hom die mag.
Want hy het die klere hy het die drag.
Sy uniform gee hom die mag.

Vers 2
Ek dink toe aan die storms wat somtyds om my woel
En hoe terneergedruk ek baie kere voel.
Maar ek het mos vir Christus, ek is met Hom beklee.
Toe besluit ek vir die duiwel is dit van nou af; Nee.
Nou steek ek net my hand uit en ek sê in Jesus Naam.
En jy kan byna hoor hoe daai ou bose brieke slaan.
Want ek het die kleding, ek het die drag.
My uniform gee my daai mag.
Ek het die kleding, ek het die drag.
My uniform gee my daai mag.
So, wil jy ook net hand uitsteek en sê, in Jesus naam?
En wil jy hoor hoe daai ou bose, al sy brieke slaan?
Beklee jou met Christus en jy het die drag.
Jou Uniform gee jou daai mag.
Beklee jou met Christus en jy het die drag.
Jou Uniform gee jou daai mag.