Oom Fanie

Getuienis

Eendag het iemand vir wie ek baie vertrou het en nie net baie vertrou het nie maar iemand vir wie ek noodwendig baie moes vertrou, vir my gelieg.  Toe kom dit ook uit dat die persoon al geruime tyd vir my oor baie dinge lieg.

Ek sit toe op ‘n dag so op my kitaar en tokkel en ek dink aan die enorme skade wat die persoon se leuens aan my en ander mense gedoen het, wat verrykend en blywend van aard was en nog steeds is. Jy sien ek het die persoon vergewe maar ek kan die persoon nie vertrou nie.  Nie omdat ek nie wil nie maar die persoon het wat dit aanbetref nie verander nie. Dit lyk ook vir my dat selfs onder kinders van God, word leuentaal al hoe meer die in ding.  Ek het eendag met ‘n Prediker gesels en toe sê hy vir my dat jy partykeer moet lieg en hy gee toe vir my ook sommer ‘n paar voorbeelde van wanneer hy sal lieg en weet jy, wat vir my so hartseer was, elkeen van daardie voorbeelde wat hy genoem het kon God vir hom opgelos het, as hy net op God vertrou het.

Wat sê God vir ons in Sy Woord?  Kom ons kyk eers na ‘n wit leuen. Hier moet ek net eers verduidelik voordat ek die gedeelte kwoteer. Die Christene wat huise of grond besit het, het in hierdie tyd dit verkoop en die opbrengs na die dissipels gebring en dit is dan so gebruik dat daar nie gebrek onder die Christene was nie. Jy kan dit gaan lees in Handelinge vanaf HAN 4:32.

HAN 5:1  Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop,
HAN 5:2  en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
HAN 5:3  Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?
HAN 5:4  As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.
HAN 5:5  En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het.

Hierdie man het ‘n halwe waarheid vertel deur sy optrede, of anders gestel, hy het ‘n wit leuen vertel en toe gebruik God hom as voorbeeld om vir jou en my te wys hoe sterk Hy oor, selfs ‘n wit leuen voel. Weet jy, God wys hier vir my, dat hy so sterk oor leuens voel, dat as ek vir een van Sy kinders lieg, dit vir God is, asof ek vir God self lieg. Hierdie man lieg vir Petrus maar kyk wat sê Petrus vir hom onder leiding van die Heilige Gees:

HAN 5:3  Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?

Verder sê God in Sy Woord vir ons.

KOL 3:9  Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het
KOL 3:10  en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,…

“So, if we believe it, let us live it!”

Hier is die lied wat ons Here my gegee het oor leuens:

Oom Fanie

Vers1
“Ag toe nou maar Oom Fanie, Oom lyk verniet geskok.
Rêrig waar Oom Fanie net somtyds moet mens jok.”
Maar Oom Fanie sê:  “Ai Sakkie,luister mooi vandag.”
Toe begin Oom Fanie praat met daai fyn glimlag.

Koor
O ek onthou nog my Oom Fanie
En daai lekker ou kaggel vuur,
En al die stories wat hy ons vertel het,
Terwyl hy in die vlamme tuur,
Terwyl hy in die vlamme tuur.

Vers 2
“Nou waarom mag ‘n mens nie jok,
En hoekom is dit so?”
Sodat ou seunie as jy praat,
Mens weet mens jou kan glo.
En ai tog daai wit een, al sou jy hom ook bieg.
Glo vir my ou seunie ‘n leuen bly maar ‘n lieg.”

Koor
O ek onthou nog my Oom Fanie
En daai lekker ou kaggel vuur,
En al die stories wat hy ons vertel het,
Terwyl hy in die vlamme tuur,
Terwyl hy in die vlamme tuur.

“Maar sê nou net Oom Fanie daar is net somtyds een?”
“Ai toggie, toggie jongie, dan skep jy ‘n probleem,
Want nou sê jy my sus, anderdag sê jy weer so,
Hoe moet ek weet ou seunie , wanneer ek jou kan glo.”

Koor
O ek onthou nog my Oom Fanie
En daai lekker ou kaggel vuur,
En al die stories wat hy ons vertel het,
Terwyl hy in die vlamme tuur,

Koor
O ek onthou nog my Oom Fanie
En daai lekker ou kaggel vuur,
En al die stories wat hy ons vertel het,
Terwyl hy in die vlamme tuur,
Terwyl hy in die vlamme tuur.