Somer aandjie

Getuienis

Hierdie lied het sy ontstaan gehad, op ‘n skemer aandjie, een laat Lente .

Ek het een skemer aand by my voorhekkie gestaan, en gedink hoe wonderlik goed my God vir my is. Dit was ‘n bewolkte aand en dit sou enige oomblik begin reën. ‘n Dankbare blydskap, wat amper te groot vir my hart was, het in my opgewel en ek wou die Here loof en prys vir wat Hy vir my gedoen het en nog steeds besig is om vir my te doen.

Toe begin ‘n kriekie hier langs my teen die heining te kriek. Terwyl ek so na die kriekie luister besef ek hoe suiwer die klank is, maar dit kan dan ook nie anders nie want hy kry daardie suiwer geluid en daardie lied wat hy kriek van ons Here. Ek dink toe so, ek kan dalk nie in die kriekie se taal saam sing nie en ek ken ook nie die kriekie se woorde van sy lied nie maar ek kan darem saamstem.

Toe klink dit so:
Die kriekie sing: “kriek, kriek” en ek stem saam “amen, amen.”
Toe klink dit so daar by my voorhek:
“Kriek, kriek.”
“amen, amen.”
“Kriek, kriek.”
Amen, amen.”

Soos dit nou maar gewoonlik hier gebeur, net voor dit begin reën, begin die windjie saggies te waai. Ek dink toe so, die windjie het gesien dat hier by die hekkie ‘n verheerliking tot God aan die gang is en die windjie wou ook toe deel hiervan wees.  Die windjie kan nie saam met ons sing nie nou dans die wind maar op maat van ons sang al hier om my en die kriekie.  Aan my linkerkant in my bure se tuin was daar ‘n Jasmyn plant en soos die windjie waai het die geur van Jasmyn blommetjies my omvou. Ek dink toe so, die Jasmyn het ook die verheerliking gesien wat by die hekkie aan die gang is en wou ook deel hiervan wees en stuur toe maar die Jasmyn wierook om ons te seën. Toe natuurlik, soos die belofte al die hele aand was, val die eerste reëndruppels op my kop. Ek dink toe so, die wolkies het daar van bo af gekyk en wou ook deel wees van wat hier by die hekkie aan die gang is en so stuur die wolkies die druppeltjies om ons verder te seën.

Toe gaan dit so daar by die hekkie.  Die kriekie sing sy lied en ek stem saam met my “amen.”
Die windjie dans vrolik hier om ons, op maat van ons sang.
Die Jasmyn seën ons met sy wierook.
Die wolkies seën ons met hul druppeltjies en saam het ons ‘n vrolike tyd in die Here.

Stadig maar seker was ek egter besig om lekker nat te word en my seun, wat toe nog maar bitter klein was kom uit na my toe en gryp my hand en sê:
“ Haai Pa, Pa moet nou inkom”
In sy stem hoor ek egter:“Pa ek is lief vir pa en ek wil nie hê pa moet nat word nie.”
Toe wou my hart van dankbaarheid en van al die baie geluk daarin amper oopbars.

Om en by ‘n kilometer van my huis af is die myn se Ingenieurs-afdeling en daar is ook baie beweging van die myn se treine. Terwyl ek so met my seun se hand in myne terug stap na die huis toe, hoor ek die veraf gedreun van die myn se bedrywighede en ek dink by myself dat hulle kan maar raas en die lug besoedel maar vir ‘n oomblik in tyd is ek hier in my eie hemel op aarde.

Terwyl ek met my seun na die voordeur toe stap, sing ek toe net so vir oulaas saam met die kriekie:
“Kriek-kriek”
“Amen”
“kriek-kriek”
“Amen”

Vers 1
Dis ‘n koel somer aandjie en die windjie waai saggies hier om my.
Die son het gesak en ‘n kriek sing sy liedjie, net vir my.
Van êrens hier langs my stuur die Jasmyn haar geur en dit streel my.
En vêr bo my kop los die wolkie ‘n druppeltjie op my.

Koor
En saam met die kriekie sing ek ‘n lied vir die Here.
Saam met die windjie en die Jasmyn en die wolkie, juig my siel dit!
Hoe groot is die Here!!!
Meisie koor:
Kriek-kriek, kriek-kriek.
Hoof sanger:
Amen, amen.
Meisie koor:
Kriek-kriek, kriek-kriek.
Hoof sanger:
Amen, amen.

Vers 2
Ek staan by my hekkie en my seun sit sy handjie in myne.
Hy sê: “Hallo Pappie” en sy stemtoon sê: “Pappie jy’s myne.”
En vêr in die verte hoor ek die klanke van motors en treine.
Maar ek is gelukkig, ek staan hier in my hemel in kleine.

Koor
En saam met die kriekie sing ek ‘n lied vir die Here.
Saam met die windjie en die Jasmyn en die wolkie, juig my siel dit!
Hoe groot is die Here!!!
Meisie koor:
Kriek-kriek, kriek-kriek.
Hoof sanger:
Amen, amen.
Meisie koor:
Kriek-kriek, kriek-kriek.
Hoof sanger:
Amen, amen.

 

Somer aandjie