Sakkie Parsons Email Ministry

Visserskuitjie

Hierdie lied het sy ontstaan gehad uit ‘n gedeelte van die Bybel wat vir my op ‘n tydstip in my lewe, spesiaal geboei het. Ek het heelwat gedagtes van God gekry deur die besondere gedeelte en sal dit graag met jou wil deel.

Om mooi te verstaan hoe die lied in my gedagte gestalte gekry het, moet ‘n persoon eers die onderstaande gedeelte in God se woord lees.

Matteus14 vanaf vers 22: Jesus loop op die water 
22 Toe alles klaar was, het Jesus gesê sy dissipels moet dadelik in die skuit klim en solank oorgaan na die oorkant van die meer toe. Hy sou eers die mense huis toe laat gaan. 23 Nadat Hy hulle laat weggaan het, het Hy alleen teen die berg uit gegaan om te gaan bid. Toe dit donker word, was Hy alleen daar teen die berg. 24 Teen daardie tyd was die skuit al ’n hele ent van die strand af. Hulle het moeilik gekry teen die branders, want die wind was reg van voor.
25 Net voor dagbreek die volgende môre het Jesus na hulle toe gekom. Hy het op die water geloop. 26 Toe die dissipels Hom op die see sien loop, was hulle baie benoud en het gesê: “Dis ’n spook!” Hulle was so bang dat hulle hard geskree het.
27 Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat: “Nee, bly kalm,” het Hy gesê, “dit is Ek. Julle hoef nie bang te wees nie.”

Die eerste ding wat my altyd tref as ek die gedeelte lees, is die volgende:

Jesus wat alles weet, met ander woorde wat ook geweet het dat daar ‘n storm gaan opkom, stuur sy dissipels  die storm in.

Matteus14 vers 22:
22 Toe alles klaar was, het Jesus gesê sy dissipels moet dadelik in die skuit klim en solank oorgaan na die oorkant van die meer toe.

Jesus doen nooit iets sonder ‘n baie goeie rede nie en hier was dit dan weer so. (Onthou Jesus was al die tyd besig om Sy dissipels voor te bery vir hul groot taak wanneer Hy nie meer in die vlees by hulle sou wees nie.) Ek glo die groot les wat Jesus sy dissipels en ook sommer vir my hier wou leer, was die volgende:

As kind van God kan ek en jy gerus wees dat daar geen situasie  in ons lewens sal wees, waar God nie ten volle in beheer sal wees nie.

Wie is hierdie Jesus wat in beheer is?

Matteus14 vers 27:
27Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat: “Nee, bly kalm,” het Hy gesê, “dit is Ek. Julle hoef nie bang te wees nie.”

Hy noem nie sy naam en sê nie “dit is Ek Jesus” nie,  maar Hy sê wel vir die dissipels, “ .. dit is Ek.”   Want jy sien, wie sou dit dan tog anders wees wat na hulle toe aangeloop gekom het op die water?  Wie anders kan al die wette en die elemente van die natuur buig soos Hy dit wil hê?  Wie anders, as Jesus, kan met een spreuk van ‘n woord, die natuur onmiddellik laat reageer?

Jy sien hier openbaar Jesus Hom nog meer aan die dissipels en aan jou en my.  Hy wys vir hulle en vir ons wie Hy eintlik is. Hy is eintlik die groot “Ek Is.”  Hy is eintlik, God Die Almagtige, die Skepper van die heelal.

In die volgende gedeeltes van Exodus en Johannes kom dit nog duideliker na voor:

Exodus 3 vanaf vers 13:
13 Toe sê Moses: “Maar as ek by die Israeliete aankom en vir hulle sê: ‘Dit is die God van julle voorvaders wat my na julle toe gestuur het,’ en hulle vra, ‘Wat is sy naam?’ hoe moet ek dan sê?” 
14 God antwoord: “sê vir hulle Hy word genoem ‘Ek is wat Ek is’ . Sê vir hulle dit is die Een wat genoem word ‘Ek is’ wat jou na hulle toe gestuur het. 15 Jy moet ook vir die mense van Israel sê: ‘Die Here, wat julle voorvaders se God was, het my na julle toe gestuur. Hy is Abraham en Isak en Jakob se God. Dit sal vir altyd my naam bly, en hulle moet My altyd so noem, ook die geslagte wat nog gebore moet word.

Johannes 1 vanaf vers 1:
1 Die Woord was van altyd af daar. Hy is die Seun van God wat by God was en wat self ook God is. 2 Dit is Hy wat van altyd af saam met God was 3 en dit is deur Hom wat God alles geskep het. Daar is niks—nie ’n enkele ding—wat nie deur Hom gemaak is nie. 4 Hy besit lewe en kan lewe gee. Dit is hierdie lewe wat vir mense lig gebring het. 5 Sy lig skyn in die donker, en die donkerte kan dit nie uitdoof nie.
6 God het ’n man gestuur met die naam Johannes die Doper 7 om mense van die Lig te vertel sodat hulle almal kan glo. Hy moes bevestig dat die Seun van God die ware Lig is. 8 Johannes self was nie die Lig nie, maar hy moes mense van die Lig vertel, 9 want juis in daardie tyd was die ware Lig op pad na die wêreld toe—die Lig wat op elke mens se lewe sou skyn.
10 Toe die Seun van God na die wêreld toe gekom het, het die mense nie geweet wie Hy is nie—en tog is dit Hy wat die wêreld gemaak het! 11 Selfs in sy eie land het sy eie mense Hom nie aanvaar nie. 12 Maar almal wat Hom aangeneem en in Hom geglo het, aan hulle het Hy die reg gegee om kinders van God te wees. 13 Om ’n kind van God te word, is ’n nuwe geboorte wat God aan ’n mens gee. Daarom verskil dit van die natuurlike geboorte wat kom deur ’n menslike vader en ’n menslike besluit.
14 Die Woord het ’n mens geword en saam met ons gewoon. Sy lewe was vol goedheid en waarheid. Ons het sy Goddelike majesteit gesien—Hy is die enigste Seun van God die Vader.
15 Johannes het die mense van Hom vertel. “Daar is Hy!” het Johannes uitgeroep. “Dis van Hom wat ek gepraat het toe ek gesê het: ‘Daar kom Iemand wat baie belangriker is as ek, want lank voor ek gebore is, het Hy al bestaan.’ ” 
16 Hoeveel het Hy nie vir ons almal uit sy rykdom gegee nie, die een goeie ding na die ander. 17 Lank gelede het God ons deur Moses die wet gegee. Maar deur Jesus Christus het die genade en waarheid gekom. 18 Daar is niemand wat God al ooit gesien het nie. Maar die enigste Seun van God is self ook God en Hy staan baie naby aan die Vader. Dit is Hy wat vir ons kom leer het wie God is.

Hierdie les van Jesus aan Sy dissipels, (ek moet eintlik sê openbaring) het so ‘n groot indruk op Johannes die geliefde dissipel gemaak, dat alhoewel Johannes gesien het hoe Petrus op die water loop en Jesus die storm stil maak, hy nie een van die twee gebeurtenisse noem in sy beskrywing van die besondere nag nie.

Johannes 6 vanaf vers 16:
16 Teen die aand het sy dissipels teruggegaan na die strand toe. 17 Daar het hulle in ’n skuit geklim en oorgevaar in die rigting van Kapernaum. Dit was al donker, maar Jesus het nog nie teruggekom na hulle toe nie. 18 Op die see het ’n kwaai wind opgesteek sodat daar gevaarlike branders was. 19 Toe hulle ’n stuk of vyf kilometer geroei het, sien hulle Jesus naby hulle boot op die water loop. Hulle het baie groot geskrik. 20 Maar Hy het na hulle geroep: “Dit is Ek! Moenie bang wees nie!” 21 Toe hulle dit hoor, was hulle nie meer bang om Hom by hulle in die boot te neem nie. Net hierna gaan hulle toe aan wal waar hulle wou wees.

Soos ek dit sien, Het net twee sake vir Johannes regtig enige werklike betekenis gehad.

Eerstens, dat Jesus gesê het:

Vers 20:
20 Maar Hy het na hulle geroep: “Dit is Ek! Moenie bang wees nie!”

Tweedens, dat met Jesus by hulle, was hulle veilig en het  hulle dan ook veilig aan wal gekom:

Vers 21:
21 Toe hulle dit hoor, was hulle nie meer bang om Hom by hulle in die boot te neem nie. Net hierna gaan hulle toe aan wal waar hulle wou wees.

Ek het toe opnuut besef hoe geweldig wonderlik dit is, dat as jy Jesus in jou lewensboot het, kan jy enige storm  trotseer en Hy sal jou veilig hou.

Aan al hierdie dinge het ek gedink, toe word ek geseën deur God met hierdie lied.

Vers 1
‘n Klein visserskuitjie, stuur weg van die land.
en agter allenig, staan ‘n Man op die strand.
En die wolke skuif nader en begin saam te pak.
En die son sien die onheil, terwyl hy in die weste sak.

Koor

En die winde se loei, die geluid begin groei.
En die sagte gesuis, groei tot ‘n gedruis.
Ja, die winde se loei, die geluid bly steeds groei.
En die sagte gesuis, is nou ‘n gedruis.

Vers 2
En die hande moet vasvat en die armes moet beur.
En die longe moet diep teug, want die spiere wil skeur.
En die wolke laat die sterre, so een, een verdwyn.
En die golwe groei groter, om die skuitjie so klein.

Koor
En die winde se loei, die geluid bly steeds groei.
En die sagte gesuis, is nou ‘n wrede gedruis.
Ja, die winde se loei, die geluid het gegroei.
En die sagte gesuis, is nou ‘n wrede gedruis.

Vers 3
En toe deur die winde, die reën en mis rook.
Wat sien hul daar, God help, dis ‘n spook.
Maar kalm stap Hy nader, nie eens ‘n druppeltjie spat.
Kompleet soos op reis, op die Jericho pad.

Koor
En die winde se loei, die geluid het gegroei.
En die sagte gesuis, is nou ‘n woeste gedruis.
Ja, die winde se loei, die geluid het gegroei.
En daai sagte gesuis, is nou ‘n woeste gedruis.

Vers 4
Maar toe kom Sy sterk stem en die storm word stil.
Halleluja Gods wonder, die natuur doen Sy Wil.
Maar jy sê, nou goed vriend, sê my waar is Hy.
As jy soek, Hy’s daar langs jou en Hy staan hier by my.

Koor
En as die winde se loei, as die geluide weer groei.
En daai sagte gesuis, groei tot ‘n gedruis.
Ja, as die winde se loei, as die geluide weer groei.
Vra en die gedruis, word ‘n sagte gesuis.
Vra en die gedruis, Word ‘n sagte gesuis.

 

“To him who is able to keep you from stumbling and to present you before his glorious presence without fault and with great joy – 25 to the only God our Saviour be glory, majesty, power and authority, through Jesus Christ our Lord, before all ages, now and forevermore! Amen." Jude 1:24-25