Wieliewalie draaihek

Getuienis

Baie jare gelede toe my kinders nog klein was, stap ek eendag met hulle na die park wat destyds op Klipfontein was en waar ek toe gewoon het.

Ek het daardie jare op die kerkraad gedien en op die kerkraad was daar twee mans.  Die een was ‘n wonderlike man en ‘n harde werker vir die Evangelie. Die ander was ook ‘n goeie man en iemand wat ook baie wou doen maar in die proses het hy ook seker gemaak dat almal weet wat hy doen en ook hoe hard hy werk. Ongelukkig het hy ook ‘n ander swakheid gehad en dit was dat hy baie jaloers geword het as iemand anders die kalklig gekry het, dan het hy sommer kwaad en ‘n onaangename persoon geraak.  Hy het egter ‘n baie sterk persoonlikheid gehad en op ‘n keer was hy so onaangenaam, as gevolg van ‘n sekere saak, dat ‘n paar gemeentelede uit die gemeente bedank het.

Op die spesifieke dag wat ek my kinders na die parkie geneem het was dit baie warm.  Die parkie het ‘n draaihekkie gehad waar jy moes deurgaan en dan  nog ‘n ent verder die park inloop om by die skoppelmaai en ander speelgoed uit te kom. By die speelgoed en skoppelmaai was daar ‘n groot boom.  Die boom se skaduwee was so groot, dat die skoppelmaai en die meeste van die ander speelgoed in sy skaduwee was. Terwyl my kinders op die skoppelmaai speel, sit ek onder die boom met die heerlike koelte en dink aan al die verwikkelinge in die kerkraad en met eens kry ‘n storie in my gedagte-wêreld gestalte van diè draaihekkie en diè koelteboom.

Die Storie:

Eendag was daar ‘n parkie en in die parkie was daar ‘n groot reuse peperboom  waaronder al die speelgoed was wat die kinders op kon speel. Om in die parkie in te kom was daar ‘n draaihekkie. Die draaihekkie was baie opgewonde omdat hy baie kinders kon help om in die parkie te kon in kom. Om die waarheid te sê, hy het gedink dit is die beste ding wat ooit met hom kon gebeur het.

Vir ‘n tyd het dit baie goed gegaan. Die draaihekkie en die boom het hul bes gedoen om dit vir die kinders lekker te maak, maar toe kom die draaihekkie agter dat die kinders altyd by hom ingaan maar dan reguit na die boom gaan en dan op die skoppelmaai en ander speelgoed speel terwyl hy alleen eenkant staan totdat die kindertjies weer huis toe gaan.
Die hekkie word toe baie jaloers oor die feit dat die kinders net onder die boom speel en nie by hom ook nie.

Toe maak die draaihekkie (wat hy gedink het) ‘n slim plan. Elke keer as die kinders in die parkie wou kom speel dan hou die draaihekkie homself baie stram sodat die kinders dit baie moeilik gevind het om in die parkie te kon ingaan. Dit was vir die kinders so moeilik om die hekkie te draai en om in te gaan na die skoppelmaai en speelgoed dat party van die klein kindertjies glad nie die hekkie kon draai nie en het dan maar weer huis toe gegaan.

Na verloop van tyd het die kinders al minder en minder in die parkie gaan speel want dit was te moeilik om in die parkie te kom en omdat die draaihekkie van yster gemaak was en niemand hom meer gedraai het nie, het die draaihekkie heeltemal vas geroes en al die speelgoed het met tyd tot niet gegaan.
Net die ou boom het groter geword en steeds floreer.

Die lessie in die storie is dit:

Jaloesie by die mens oor seëninge wat oor sy medemens kom, is van die duiwel.
Ook moet ‘n mens weet, met jaloesie doen jy net jouself skade aan, jy kan selfs jouself vernietig.

Aan al die dinge het ek gedink toe kom die volgende gelykenis in die vorm van ‘n lied in my hart op.

  • Die parkie is die Kerk.
  • Die skoppelmaai en speelgoed is die Bybel en die Evangelie wat deur die kerk verkondig word.
  • Die draaihekkie van die park is die een tipe Christen.
  • Die boom binne in die park is ‘n ander tipe Christen.
  • Die kinders is die mense  in die gemeente wat nog swak en soekend is. 

Vers 1
Wieliewalie draaihek het altyd mooi gedraai.
en die kindertjies kon ingaan tot by die skoppelmaai.
Hulle het so lekker onder die boom gespeel.
Toe word die hek jaloers en sê die boom sal hom wat verbeel.

Koor
Wieliewalie hekkie hou tog nie op met draai,
Laat die kindertjies ingaan tot by die skoppelmaai.
Laat die kindertjies ingaan tot by die skoppelmaai.

Vers 2
Die jaloerse hekkie voer toe ‘n plan in die mou.
Besluit om die kindertjies van die boom af weg te hou.
Spot toe met die boom en sê: “Ry jy nou skoppelmaai.
Want ek gaan my nou so styf hou dat niemand my kan draai.”

Koor
Wieliewalie hekkie hou tog nie op met draai,
Laat die kindertjies ingaan tot by die skoppelmaai.
Laat die kindertjies ingaan tot by die skoppelmaai.

Vers 3
Na verloop van tyd het die kinders toe op ‘n ander plek gaan speel.
Want die moeite om in die parkie te kom was vir hulle te veel.
En die hekkie het geglimlag omdat hy so slim was.
Maar mettertyd van al die staan, toe roes die hekkie vas.

Koor
Wieliewalie hekkie, jy wou mos nie draai.
Hoe sal die kinders nou ingaan tot by die skoppelmaai?
Hoe sal die kinders nou ingaan tot by die skoppelmaai?

Vers 4 
En die lessie my vriend wat ons in hierdie storie kry.
Is hier ‘n geroeste draaihekkie en is daai hekkie jy?
Is jy jaloers op die seëninge wat oor jou medemens kom?
Jy speel in die hand van die duiwel en dit is baie dom.

Koor
Wieliewalie hekkie begin tog gou weer draai.
Laat die kindertjies ingaan tot by die skoppelmaai.
Wieliewalie hekkie hou tog nie op met draai.
Laat die kindertjies ingaan tot by die skoppelmaai.

 

Wieliewalie draaihek