ONS IS DIE WELRIEKENDE GEUR WAT DEUR CHRISTUS VIR GOD OPSTYG

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my – en ek plaas hier uit dit wat aan my geskryf was, net wat ek dink vir hierdie skrywe relevant is:

Kan jy asseblief vir ons jou mening gee ivm die volgende: Ek was in ‘n diens waar die pastoor op ‘n stadium vir die gemeente gesê het en ek kwoteer: “ Sjoe broers en susters ek ruik vir Jesus,”

My vraag is, kan ons die Heilige Gees ruik soos wat die pastoor gesê het?  Die pastoor het selfs die reuk beskryf as ‘n soet reuk.

 

Ek wil dan begin deur te sê, dat as ek die Evangelie van Jesus Christus verkondig, verkondig ek net Sy Woord en níks anders as Sy Woord nie.

As ek hoor van iets wat iemand verkondig asof dit deel van die evangelie van Jesus Christus is en ek vind getuienis daarvoor nié in die Woord nie, is dit volgens my mening nie Bybels nie en as dit nie Bybels is nie, is dit onbybels en met ander woorde, omdat dit as Sy Woord verkondig word,  gewoon net boos.

Teen hierdie agtergrond dan –

Nêrens in die Woord lees ek dat ons Jesus sal ruik nie en dat dit by dit alles letterlik “’n soet” reuk sal wees nie.

Die naaste wat ek aan Jesus wat ‘n reuk is in Sy evangelie kom is in EFE 5:2 maar ek kwoteer van af vers 1.

Ons lees:

EFE 5:1  Omdat julle God se kinders is wat Hy liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.

EFE 5:2  Ja, leef ’n lewe van liefde soos ook Christus ons liefgehad het deur Homself vir ons oor te gee as ’n lieflike reukoffer aan God.

Duidelik was Jesus ‘n lieflike reukoffer aan God:

EFE 5:2  … deur Homself vir ons oor te gee as ’n lieflike reukoffer aan God.

Ekself verkondig die evangelie van Jesus Christus nou al in die een of ander hoedanigheid vir meer as 40 jaar en ek het nog nooit Jesus geruik nie maar waarom sou ek Jesus wou ruik?

‘n Geur of dan ‘n reuk, as jy wil, is iets wat na my toe moet kom sodat ek dit kan ruik. 

Voor dit tot by my gekom het, totdat ek dit kon ruik  was die geur nie naby genoeg aan my dat ek dit kon ruik nie.

My Jesus is van my bekering af in my!

Deel van my:

GAL 2:20  Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, (wat in my lewe en nie na my toe hoef te kom nie) Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

Die rede waarom ek hierdie antwoord wat ek aan iemand gestuur het, met jou ook deel is om jou net weer te vermaan, om soos hierdie skrywer aan my ook gedoen het, dat ons nie alles wat in sommige dienste gebeur of verkondig word sommer vir soetkoek op te eet nie maar dat ons paraat moet wees deur die Woord te bestudeer sodat ons dadelik, soos die skrywe aan my, iets onbybels dadelik kan optel.

Onthou ook dat ons in die laaste dae leef en daar duik daarom maar kort-kort iemand met die een of ander wat jy dit ook al wil noem op, wat nie in die evangelie van Jesus Christus gevind word nie 

Verder wou ek ook hierdie vraag aan my as aanknopingspunt gebruik om net weer aan jou te noem, dat jy en ek wel verseker ‘n lieflike welriekende geur van Christus aan die wêreld moet wees:

2KOR 2:15  Ons is die welriekende geur wat deur Christus vir God opstyg, onder dié wat verlos word sowel as onder dié wat verlore gaan.

Verder wil ek ook weer almal wat hier lees herinner, dat ons tog altyd moet seker maak, dat satan nie ons groot ywer vir ons Here teen ons misbruik en ons dan iets aan die Heilige Gees toeskryf wat nie van Hom is nie.

Ek is net die verkondiger en wanneer ons Here dit so wil, die leraar van die evangelie van Jesus Christus.

Die Heilige Gees is die een wat in ‘n mens se hart werk en Hy het nie hierdie of daardie wat nie in die evangelie van Jesus Christus voorkom nodig om Hom aste ware ‘n hupstoot te gee nie.

Ons moet ook deeglik hiervan kennis neem dat:

2KOR 5:10  Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggaam gedoen het, of dit goed en of dit sleg was.

Op ‘n ander plek lees ons:

ROM 14:11  Die Skrif sê mos:

“So seker as Ek lewe,”

verklaar die Here,

“elke knie sal voor My buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.”

ROM 14:12  Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen.

ROM 14:13  Daarom, kom ons neem ons voor om so op te tree dat ons nie ons medegelowiges sal laat struikel of dinge vir hulle moeilik maak nie.

Ten slotte en ek hoop regtig nie iemand dink ek is nou verwaand en probeer predikers en evangeliste leer hoe om die evangelie te verkondig nie.  Ek sal myself nooit, nooit so aanmatig nie.

Ons Here ken my hart, dit is werklik nie my bedoeling nie maar met al die dinge wat satan deesdae in die kerk van Christus inbring om ‘n valse evangelie van die kansels van die kerk van Christus, hoe verskriklik tragies, te laat verkondig, noem ek maar net die volgende:

Kom jy en ek voer net die opdrag aan ons uit en verkondig die evangelie en los die verdere gebeure in die diens oor aan die Heilige Gees wat werk soos Hy wil.

Kom ons verkondig die evangelie soos wat my groot held Paulus dit gedoen het.

Dit het vir hom gewerk.

Dit sal vir ons ook werk, as ons dit eerlik in opregtheid van ons harte doen.

1KOR 2:2  Want ek het besluit om as ek by julle is, net op Jesus Christus te konsentreer en veral op sy kruisdood.

1KOR 2:3  Ek het na julle gekom in swakheid – angstig en vol huiwering.

1KOR 2:4  My boodskap en my prediking was bitter eenvoudig. (Net soos Jesus sin, nie vol allerlei tierlantyntjies, foefies ens nie) Ek het julle nie probeer oorreed deur geleerde welsprekendheid nie, maar deur die Heilige Gees wat kragtig onder julle gewerk het.

Mag dit vir jou ‘n heerlike dag wees.

Groete
Sakkie