Testimonials

Jul 8, 2013

Hello Sakkie,

Ek weet sommer dat jy saam met Jesus, met hierdie webtuiste, mense se voete letterlik en figuurlik onder hulle gaan uitslaan.  Ek dink nie jy besef wat se groot werk jy doen nie en ook nie hoeveel mense jy regtig bereik nie, ek weet van so baie mense wat nie eens by jou geregistreer is nie, maar wat wel jou epos van ander kry!

Ons is so 11 hier in ons kantoor, en gereeld praat ons oor jou epos en die lekkerste is dat ons saam met jou antwoord ook die antwoord in die Woord van die Here, letterlik met ons oë kan sien en inneem, net omdat jy al die antwoorde in die Woord ook vir ons gee, swart op wit!

Wat ek veral van jou waardeer is dat jy nie sommer halsoorkop vir 'n mens 'n antwoord gee nie, en ook dat jy nie mens se gevoel spaar nie, jy bid, en praat en antwoord dan net soos ons Here wil hê jy moet, ons sê altyd; "Sakkie praat met ons uit die Groot Boek se Waarheid"  (Jou ou groot maatjie (Kenneth) sê altyd met baie groot respek : Sakkie praat uit die perd se bek!)

Wat ook vir my wonderlik is en ook 'n bewys is dat die Here in en deur jou werk, is dat ons so baie keer epos van jou kry wanneer ons dit regtig nodig het en dan is dit sowaar op die regte tyd en plek en mens kan dan voel dat die Here spesifiek met ons praat.   Vir my bly dit altyd die wonderlikste en kosbaarste ervaring as ek voel die stuk is spesiaal vir my geskryf en dan weet ek diep binne my Sakkie het geluister toe Jesus praat!

Die lekkerste lekker is natuurlik as iemand my bel en vra of ek Sakkie se mail gekry het, man dan klop my hartjie warm, want iewers binne-in my is jy en Nella mos my eie! Dis al meer as 8jaar dat ek epos van jou en haar kry en nog nooit was dit vervelig en nog altyd was daar vir my iets in om te leer!

Vir my persoonlik is dit om elke keer as ek van jou mail kry en dit klaar gelees het, treetjie vir treetjie nader aan ons Hemel Vader te kom en uit my hart wil ek vir jou dankie sê vir die ongelooflike baie wat ek uit die Here se Woord by jou kon leer!

Ek bid jou die keur van Jesus se liefde en genade toe, ook vir hierdie wonderlike werk wat jy vir ons Vader doen, daar is so baie van ons wat nie in die oggend kans kry om uit die Bybel te lees en tog deur die besige dag kan ons deur jou epos stil word!!

Mooi dag vir jou!

Sparkle

Jul 8, 2013

Hallo Sakkie

Ek het so pas jou mail gelees oor Dit Is My God wat ‘n vriend vir my aangestuur het,hy stuur gereeld vir my jou mails aan. Ek het baie jare gelede ‘n diens bygewoon wat jy in die Volle Evangelie Kerk in Secunda by Pastoor Barnard aangebied het met boodskap en sang. Jou sang en boodskap was ‘n belewenis en die nederige,eenvoudige en praktiese manier waarop dit aangebied was is iets wat ek saggies toegevou het en nou nog jare later koester. Dankie Sakkie jy het my lewe verryk en my geleer om met kinder oë na die Bybel en Evangelie te kyk. Ek het van jou sang bande gekoop en dit baie geniet maar ek het nou nie meer ‘n bandspeler nie,alles is mos nou net digitaal. Mag jy ‘n besondere dag hê en mag die HERE jou seën deur hierdie jaar.

Sarel Marais

Jul 8, 2013

Liewe Sakkie

My oggende het altyd begin met n koppie koffie, maar vandat ek ingeskryf het by jou e-pos bediening het my hele roetine natuurlik verander, ek is elke oggend so angstig om by my e-mails uit te kom om te sien wat jy vandag weer vir my gestuur het en soos altyd is jou boodskap net vir my bedoel, ek vind die waarheid in die Woord wat jy verkondig, ek vind leiding, ek vind vertroosting, my dae is gevul met trane van blykskap. Jy sal nooit weet wat jou bediening vir my beteken nie, die dag toe ek jou lied "Dit is my God" van jou ontvang, het dit so 'n geweldige permanente afdruk in my gemoed gemaak, as dit reen, dan weet ek dit is ons God wat die wêreld was, as die wind waai, dan weet ek dit is God wat die veld uitvee, as ek die voels in die lug sien vlieg, dan sien ek God se hand hoe Hy hulle deur die lug dra, en die vissies, ja, dit is net God wat hulle kan leer swem. Ek kyk met ander oe na ons wonderlike Hemel Vader.

Baie baie dankie Sakkie vir jou bediening en wat dit vir my en ek glo baie ander mense beteken. Mag jou bediening net van krag tot krag gaan en mag God jou op hoogtes laat ry en jou na dieper dieptes neem. Geseend is jy my vriend en geseend is jou geliefdes.

Baie dankie ook vir die pragtige voorbeeld wat jy vir baie mense stel deur jou eerlike opregte diepe liefde vir die Here.

Weet net altyd, jou skrywe maak my dag.

Groete
Magda

Jul 8, 2013

Sakkie baie dankie vir jou e-posse wat jy so getrou stuur.  Ek is so besig in die dag by die kantoor en kan so maklik oorval word deur negatiewe gedagtes en die sorge en stress van die werk – jou e-pos is 'n ligstraal in my kantoor.  Ek maak tyd om dit te lees en dwing myself dan om stil te word al is dit soms moeilik.

Baie dankie dat jy so getrou is.

Liefde groete,
Anneke

May 16, 2013

Goeie more Sakkie,

Hiermee wil ek net graag baie dankie sê vir die Heilige Gees wat jou so lei en vir ons almal n inspirasie is.

Dit gaan maar rof by die werk en ontvang baie epos rondom die werk van dinge wat gedoen moet word, of al klaar moes gewees het en dit laat mens maar stres, maar ai, as ek jou epos sien en ek lees dit is dit of mens weer rustig word en nuwe krag kry.

Partykeer het die onderwerpe so te doen met ons daaglikse pligte, dat dit voel of jy net geweet het wat nodig is.

As jy al ooit gewonder het oor jou posisie in die lewe, dan wil ek vir jou sê jy is presies waar ons Hemelse Vader jou die nodigste het. Die werk wat jy doen, die moeite wat jy insit om die bediening te versorg en so baie mense wat daardeur geraak word. Mens raak so betrokke in jou eie lewe, jou eie dinge, jou eie kinders, jou eie probleme – mens vergeet dat daar baie ander rondom ons is wat erger daaraan toe is.

Soms wonder mens, of jy twyfel, en vra ons Here hoekom dit, Here hoekom ek? Here hoekom nou? Dan dink jy, sjoe, dit was nou seker die ergste ding wat met my gaan gebeur en dan gebeur daar nog iets erger.

Ons is ook maar mens en raak sommer benoud oor wat volgende gaan gebeur.

Ek is in 2002 geskei nadat my man iemand anders ontmoet het en ek en my seun, toe 3 jaar oud, het alleen gebly. In 2007 is ek met aggressiewe borskanker gediagnoseer. Die knop en kliere is verwyder is deur 8 chemoterapie sessies en 36 bestraling sessie. My seun was toe maar 8 jaar oud en hy het al die dinge saam met my beleef – die siek word, die hare wat uitval. Toe het ons mos gedink die ergste is verby. Maar in 2008 is my seun gediagnoseer met ‘n gewas op die klein brein en moes gaan vir die inplanting van ‘n pompie wat die vog dreineer wat vir altyd daar moet bly en ‘n week later is die gewas verwyder. Ai, dit is maar swaar vir ‘n moeder se hart.

Maar hier kan ek vandag sê: “Dankie Here!” Ons al twee is gesond met die genade van Bo. Ons is positief en wat ons geleer het hieruit is dat elke dag spesiaal is en dat almal om ons spesiaal is.

Dankie vir jou inspirasie, motivering en aanmoediging!

Antoinette