Pedro die gidshond

Pedro terwyl hy nog by sy puppy walker gewees het, voor sy opleiding by die Gidshondvereniging. 'n Puppy walker is 'n baie spesiale mens. Iemand wat bereid is, om 'n "puppy" wat deur die gidshondvereniging goed gekeur is, van 6 weke oud af groot te maak en op te voed en dan na 'n jaar die toekomstige gidshond aan die Gidshondvereniging terug te besorg, vir sy of haar verdere opleiding.Ek wil graag met jou deel hoe goed ons Here vir my was wat my nuwe gidshond aanbetref en hoe ons as kinders van ons Here nie moet moed opgee oor dít waarvoor ons bid nie.

Jesus self verduidelik dit ook baie mooi in LUK 18:1-8 en dit lees as volg in die NLV:

Hou áán totdat die regter luister!

  1. Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om aan te toon dat hulle moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.
  2. Hy het gesê: “In ’n sekere stad was daar ’n regter wat God nie geëer en sy medemens nie gerespekteer het nie.
  3. Daar was ook ’n weduwee in daardie stad wat aangehou het om hom te vra: ‘Laat aan my reg geskied in my saak teen my opponent.’
  4. “Vir ’n tyd lank was hy onwillig, maar hy het naderhand vir homself gesê: ‘Al eer ek God nie en respekteer ek ook nie my medemens nie –
  5. omdat hierdie weduwee my so onophoudelik teister, sal ek haar saak behartig, anders sal sy my nog heeltemal gedaan maak.’”
  6. Toe sê die Here: “Luister net wat sê die onregverdige regter.
  7. Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes nie – hulle wat dag en nag na Homroep? Sal Hy aanhou om hulle geduld te toets?
  8.  Ek sê vir julle:
  9. Hy sal aan hulle reg laat geskied, en baie gou ook! Nietemin, sal Ek, die Seun van die Mens, wanneer Ek kom, geloof op aarde vind?”

Ek het die 28ste Augustus By die gidshondvereniging met my opleiding begin om my 6de gidshond – ‘n Labrador, genaamd Pedro, te ontvang. Na 2 weke op die 12de September het ek en Pedro gekwalifiseer en is ons huis toe en het onmiddellik ‘n groot probleem opgetel. Ek woon in ‘n woonstel op my dogter se perseel en reg van meet af wou Pedro en Driscoll, my dogter se Duitse herdershond, niks van mekaar weet nie.  Hulle wil net baklei as ons hulle naby mekaar toelaat.Siende dat albei honde baie waardevol is – Pedro se waarde is R80,000 – kon ons nie waag om hulle by mekaar te los voordat hulle vriende gemaak het nie.

Vir die volgende 2 weke het die gidshond instrukteur my en Pedro saam vertroud gemaak met die roete waarop ek vir ‘n begin met Pedro wou loop en het ons gesorg dat die honde nie kontak met mekaar het nie.Na die 2 weke het die gidshondvereniging al hulle aandag gefokus om Pedro en Driscoll vrede en vriende te laat maak.

Al hierdie tyd moes my dogter, my skoonseun en my kleinkinders met hierdie ongemak saamlewe, dat as ek my hond wil laat uitgaan, moes hulle, hulle honde in die huis inneem en dit het weer behels, dat ek hulle soms op die onmoontlikste tye moes pla maar al die tyd het hulle dit vir my gedoen sonder om een keer te kla.

Hier moet ek dan ook net melding maak van die moeite wat die Gidshondvereniging gedoen het om my en Pedro ‘n sukses te maak.

Vanaf die 30ste September tot en met die 13de November, het hulle elke dag 2 instrukteurs uitgestuur van af Johannesburg na Pretoria om vir ‘n paar uur tyd met Pedro en Driscoll te spandeer. Dink net daaraan – Die Gidshondvereniging kry nie staatshulp nie en vir bykans 2 maande doen hulle al daardie moeite om my en Pedro ‘n suksesverhaal te maak. Op Vrydag die 13de November kom mnr. Nxumalo, die hoof instrukteur van die Gidshondvereniging en bring hy saam met hom Dr Quixi Sonntag.  Sy is ‘n honde kenner van Onderstepoort Dierekunde Akademiese Hospitaal.Ook saam met hulle is Joël, my nasorg instrukteur en Karin, die instrukteur wat hom met Driscoll elke dag gehelp het. Dr Quixi Sonntag evalueer die twee honde en maak ‘n paar voorstelle wat ons moet probeer.

Saterdag die 14de, terwyl ek by my rekenaar sit en besig is met hierdie bediening, kom my dogter Alta na my en sy sê ons moet die eerste opsie probeer. Dit het in baie kort behels, dat ons Pedro aan die binnekant van die swembad op my dogter se erf sit en Driscoll aan die buitekant los.Pedro, wat baie lief is vir water sal homself dan moeg speel in die water en dan kyk ons wat gebeur as hulle daarna mekaar deur die omheining sien ens. Pedro ken toe nie die swembad nie maar ons Here sorg toe dat daar ‘n bal is en Pedro is baie lief om met balle te speel.Pedro hardloop daar rond met die bal en later kom hy en gooi die bal voor Driscoll neer, wat aan die anderkant van die omheining staan en hom dophou. Dan hardloop Pedro weer ‘n draai, kom gryp weer die bal en hardloop ‘n draai en kom gooi dit weer voor Driscoll neer wat al die tyd aan die anderkant van die omheining staan en vir Pedro stilswyend dophou. Later los Pedro die bal en begin aan Driscoll deur die omheining ruik en Driscoll doen dieselfde. Toe besluit my dogter en Barend my skoonseun, dat hulle nou die kans gaan neem en die hek oopmaak. Hulle maak toe die hek oop en Pedro kom uit en dadelik is hy en Driscoll na meer as 2 maande se onverdraagsaamheid teenoor mekaar sommer groot vriende.

Ek wil net weer melding maak van die baie, baie moeite wat die Gidshondvereniging gedoen het om ons ‘n suksesverhaal te maak. As jy onthou, dat sover ek weet, hulle net van donasies en borge afhanklik is en jy dink van die onkoste wat hulle met my en Pedro gehad het en nie van plan was om sommer handdoek in te gooi nie, dank ek ons Here vir sulke toegewyde mense.

Een van die baie lesse wat ekself weer opnuut hier beleef en geleer het is die volgende: Baie mense het saam met my gebid en baie van hulle het my gereeld gekontak om te hoor hoe dit gaan en my verseker hulle bly saam met my bid.

Ek het weer opnuut geleer en beleef dat:

1JOH 5:14  Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister.

1JOH 5:15 As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, toestaan.

Ek het ook al die tyd onthou:

HEB 11:6  As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon.

Gelukkig het jy en ek so ‘n wonderlike liefdevolle God, dat selfs wanneer ons, Sy kinders, wie Hom aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker, se geloof wil wankel, Hy met deernisvolle liefde na ons kyk en daarom kon ek ook soms met groot vrede en dankbaarheid in my hart uitroep, soos daardie kind se pa in die Woord: “Ek glo! Help my tog om nie meer te twyfel nie!”

MRK 9:19-24
19 Jesus sê toe vir hulle: “Julle ongelowige mense! Hoe lank moet Ek nog by julle wees voordat julle glo? Hoe lank moet Ek dit nog uithou met julle? Bring die kind hier.”
20 Hulle bring hom toe vir Jesus. Toe die gees Jesus sien, het hy die seun dadelik stuiptrekkings laat kry, en hy het op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond.
21 Jesus vra toe vir die pa: “Hoe lank gebeur dit nou al met hom?” “Van kleins af,” was sy antwoord.
22 “Die gees het hom al baie keer probeer doodmaak deur hom in die vuur of in die water te laat val. Kry ons tog jammer en help ons as U kan!”
23 “As Ek kan, sê jy,” het Jesus hom geantwoord. “As ’n mens glo, is álles moontlik!”
24  “Ek glo!” roep die kind se pa dadelik uit. “Help my tog om nie meer te twyfel nie!”

Baie dankie dat ek hierdie getuienis met jou kon deel en baie dankie ook dat jy my webtuiste besoek het.

Ek sal baie dankbaar wees as jy al jou vriende van my webtuiste sal vertel en sodoende deel word om ons Here se Evangelie te versprei.

Groete,
Sakkie

Lanti en Pedro , Pedro se puppy walker, wat 'n hele jaar haar liefde en tyd afgestaan het om pedro sosiaal op te voed, dat hy die wonderlike gidshond kon word wat hy vandag is.

Lanti en Pedro , Pedro se puppy walker, wat ‘n hele jaar haar liefde en tyd afgestaan het om pedro sosiaal op te voed, dat hy die wonderlike gidshond kon word wat hy vandag is.

Pedro klaar opgelei by die Gidshondvereniging

Pedro klaar opgelei by die Gidshondvereniging

Hier sien jy vir Lanti en Pedro saam met my kort voordat ek en Pedro saam gekwalifiseer het, sodat ek die wêreld onafhanklik saam met hom vol te kan stap.

Hier sien jy vir Lanti en Pedro saam met my kort voordat ek en Pedro saam gekwalifiseer het, sodat ek die wêreld onafhanklik saam met hom vol te kan stap.

Perci & Hayley Die twee instrukteurs met hulle klas wat gekwalifiseer het in Sept 2015.

Perci & Hayley Die twee instrukteurs met hulle klas wat gekwalifiseer het in Sept 2015.

Hier poseer ek en Pedro heerlik trots nadat ons gekwalifiseer het.

Hier poseer ek en Pedro heerlik trots nadat ons gekwalifiseer het.

Hier stap ek en Pedro heerlik saam. Hier stap ek en Pedro heerlik saam.

Hier stap ek en Pedro heerlik saam.