TATOEËRING

TATOEËRING

Sakkie Parsons

Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe

Iemand skryf aan my en vra die volgende.
“Ek wil by oom weet waar in die Bybel is die gedeelte wat God vir ons sê dat tatoeëer merke 'n sonde is?

Hier volg dan nou my antwoord aan die persoon soos ek dit sien:
Ons lees in Lev 19:28:

LEV 19:28  Julle mag ook ter wille van ‘n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE.

In ‘n nuwer vertaling lees Lev 19:28 as volg.

LEV 19:28  Julle mag ook nie snye of tatoeëermerke aan julle liggaam maak as julle rou vir iemand wat dood is nie. Ek is die Here.

Ek weet dat dit wat ek nou kwoteer het, deel is van die Mosaïese wet/Wet van Moses tussen Israel en ons Here en dat ons Christene nie onder daardie wet is nie, soos ek byvoorbeeld in  Gal 3:22-26  lees:

GAL 3:22-26 
22 Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.
23  Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.
24  Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
25  Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.
26  Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;

As ek egter nie ‘n direkte antwoord op ‘n vraag in die Nuwe Testament, wat op die Christen van toepassing is kan kry nie, gaan ek gewoonlik na die Ou Testament om ‘n idee te kry hoe, om dit so te stel, ons Here se hart klop wat die saak aanbetref.
Wat my liggaam aanbetref, lees ek wel baie duidelik in die Woord:

1KOR 3:16  Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
1KOR 3:17  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.

Daar is nou mense wat hierdie gedeelte wat ek nou kwoteer het wil vergeestelik, wat natuurlik absoluut verkeerd is, veral as jy onthou dat daar ook geskryf staan:

1KOR 6:15  Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? Sal ek dan die lede van Christus neem en dit lede van ‘n hoer maak? Nee, stellig nie!

In die Nuwe Lewende Vertaling waarvoor ek so lief is, lees hierdie gedeelte as volg.

1KOR 6:15 Besef julle nie dat ons liggame deel is van Christus nie?  Sal ‘n mens dan jou wat aan Christus behoort, met ‘n prostituut verenig?  Dit kan tog nie!

Dan leer die Woord my ook natuurlik, dat ek as Christen, behoort in alles wat myself en dit sluit my liggaam in wat ek ook al wil doen, myself te vra of dit wat ek nou gaan doen tot verheerliking van ons Here is.

1KOR 10:31  Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.
1KOR 10:32  Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie;

In ‘n nuwer vertaling lees 1Kor 10:31-32 as volg.

1KOR 10:31  alles wat julle doen, of dit nou eet of drink of wat ook al is, moet julle doen om God te eer.
1KOR 10:32  Maar julle moet ook so lewe dat julle ander mense nie daardeur benadeel nie—of dit nou Jode of nie–Jode of die kerk van God is.

Daar is natuurlik ook ‘n ander sy van tatoeëer en dit is of ek Christelike tatoes, soos byvoorbeeld ‘n vissie op my mag aanbring.
Die redenasie is dan dat ek so mense met my aan die praat kan kry en hulle so tot bekering sal kan lei.
Dit is ook natuurlik nie die enigste foefie wat deesdae gebruik word om dan konsuis mense tot bekering te lei nie.

Om te wys hoe fataal hierdie en ander soortgelyke redenasies is, vertel Jesus die volgende:
Daar was die man wat in die hel gewees het, wat graag wou dat iemand uit die dood moes opstaan en sy broers tot bekering moes gaan lei.

LUK 16:27-31 
27 En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur—
28  want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.
29  Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.
30  Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.
31  Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

Moses en die Profete was op daardie stadium die hele Woord.  Die Nuwe Testament gaan nie lank hierna geskrywe word.

As jy met die hulp van die Heilige Gees die Woord met iemand deel en hulle nie hulself wil bekeer nie, dan volgens Jesus sal hulle hulleself nie bekeer nie al kom iemand wat hulle begrawe het en sê hulle moet hulle bekeer.
Met dit in gedagte, kan jy seker tog sien, dat ek en byvoorbeeld my vissie op die arm, of enige ander foefie wat deesdae so, sal ons maar sê mildelik deur mense en soms selfs deur party gemeentes in die kerk gebruik word, minder kans het om iemand tot bekering te lei as wat die spreekwoordelike sneeubal het om in die hel te oorlewe.

Ek dwaal nou so ‘n bietjie af maar dit was vir my so verstommend dat ek dit net met jou moet deel –
Die, sal ons maar sê, rofste foefie wat ek al van gehoor het, is die volgende:
Ek hoor eendag oor ‘n godsdienstige program oor die radio, dat daar ‘n gemeente in Kanada is, wat na die oggend diens op ’n Sondag, al die stoele na die kante toe skuif en dan vir die gemeente wat by die diens opgedaag het ‘n rofstoei vertoning aanbied.
Luister:
As die Woord onder leiding van die Heilige Gees mense nie tot bekering kan lei nie, sal al die ander foefies wat gebruik word, hulle vir ‘n tyd amuseer, vermaak ens maar bekeer, volgens Jesus, nee.

Terug by my eintlike onderwerp:
Volgens my is wat my liggaam aanbetref, tatoeëring vir my verkeerd maar nadat jy alles gelees het wat ek vir jou geskryf het en jy wonder nog oor tatoeëring, is daar volgens die Woord ‘n maklike maatstaf vir elke mens wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker maar net voor ek dit met jou deel, net die volgende wat jy verseker kennis van kan neem.
Volgens die Woord kom daar ‘n tyd, dat die oorgrote meerderheid van die wêreld se bevolking wel met ‘n, nee, sommer twee tatoeëerings mee gaan rondloop en jy kan meer hiervan lees, as jy onder andere OPB 13 gaan lees maar ek deel vir nou net met jou OPB 13:16-17:

OPB 13:16  Hy (dit is die monster) verplig al sy volgelinge, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk (of dan tatoe) op hulle regterhand of op hulle voorkop te kry.
OPB 13:17  Dit word gedoen sodat niemand kan koop of verkoop sonder die merk (of dan tatoe) van die naam van die monster, of die getal van sy naam nie.

Ons, Jesus se volgelinge, gaan volgens wat ek die Woord verstaan, dan nie meer hier wees nie.

Ek laat jou met hierdie gedagte en jy, ware kind van God,  kan dit as maatstaf gebruik vir alle beginselsake in jou lewe, om te weet of dit verkeerd is – nie net vir tatoeëermerke nie:

ROM 14:23  Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.

In ‘n nuwer vertaling lees Rom 14:23 as volg.

ROM 14:23  Maar as ’n mens iets eet terwyl jy twyfel of jy nou reg doen, sê God dit is verkeerd, want jy eet nie met die oortuiging dat dit reg is nie. As ’n mens iets doen waarvan jy nie oortuig is dat dit reg is nie, is dit sonde.

Dalk is daar iemand wat reeds ‘n tatoe het en wonder, wat nou?
Jou en my liefdevolle Here sê in Sy Woord:

1JHN 1:9  As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

So, as jy nie daarvan ontslae kan raak nie en vir ons Here opreg om verskoning daaroor gevra het, weet dat ons Here die tatoe, of dan ingeprikte merk nie meer teen jou hou nie.

Groete
Sakkie