GEE ALTYD JULLE ALLERBESTE VIR DIE HERE SE WERK – DEEL 2

GEE ALTYD JULLE ALLERBESTE VIR DIE HERE SE WERK – DEEL 2

Sakkie Parsons

In hierdie tweede skrywe van hierdie kort reeks, wil ek met jou deel oor iets wat in my hart opgekom het na aanleiding van die vraag wat aan my gevra was.

Die vraag het so gelui: “Een van die e-posse wat ek ontvang het, het onder andere hierdie gedeelte bevat: Prediker 9:10: "Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie."
Wat beteken dit vir jou? Dit maak my deurmekaar: Beteken dit dat ons in die hemel (met respek gesê) soos "zombies" gaan wees of verwys dit dalk na 'n tydperk tussen die dood en die opstanding?”

In wat ek nou gaan sê, wil ek hê, dat jy my reg moet verstaan. Ek kan nie my plek in die Hemel verdien nie. Jesus het klaar alles gedoen wat gedoen moet word.

Die dag toe ek Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker, het ons Here my aangeneem as Sy kind en het ek die ewige lewe ontvang.  Dit is genade, louter, goddelike, liefdevolle genade.

EFE 2:4-9 
4 “Maar God se onverdiende liefde is oorvloedig.  Die liefde waarmee Hy ons liefhet, is so groot
5  dat toe ons verkeerde lewe ons geestelike dood veroorsaak het, Hy ons saam met Christus lewend gemaak  het. Dis dus God se onverdiende goedheid wat maak dat julle gered is!
6  Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ‘n sitplek in die hemel gegee.
7  So sal God, ook in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van onverdiende goedheid.  Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien.
8  Dit is mos dié onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het.  En julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God.
9  Dit is nie die gevolg van julle dade nie.  Niemand kan daaroor grootpraat nie,

In ‘n ouer vertaling lees EFE 2:8 so:

EFE 2:8  “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;”

Nou goed. Die eerste wat ek net weer na aanleiding van die vraag aan my, duidelik wil stel, soos ek in my vorige skrywe in hierdie kort reeks gesê het: ons gaan nie Zombies wees nie. Ons gaan vir ewig ‘n lewe geniet waarvan die Woord onder andere sê:

1 KOR 2:9  “Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde:
"Wat geen oog gesien het;
wat geen oor gehoor het;
wat in niemand se hart opgekom het nie –
dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet."

Geen mens met sy menslike verstand kan eens amper begin om iets van die heerlikheid wat ons in die Hemel gaan ervaar, te bedink nie. Dit gesê is dit ook vir my uit die Woord baie duidelik dat nie almal van ons wat in die Hemel gaan aanland, die ewige lewe, om dit so te stel,  op dieselfde vlak gaan ervaar nie. Ek wil, om dit wat ek sê te verduidelik, begin deur OPB14:13 te kwoteer:

OPB 14:13   “Ek het ook 'n stem van die hemel af hoor sê:  ‘Skryf dit op! Gelukkig is die dooies wat van nou af in die HERE sterf.’  ‘Ja,’ sê die Gees, ‘hulle sal rus van hulle harde werk, want wat hulle gedoen het, vergesel hulle’."

Hoe moet ek die harde werk wat my sal vergesel verstaan as ek weet en ook lees:

1TIM 6:7  “Ons het immers niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons kan ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie.”

Vir my persoonlik het die oplossing van hierdie vraag eendag glashelder geword toe ek weer die volgende woorde van Jesus gelees het:

MAT 6:19 “Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar motte en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie.
MAT 6:20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie.
MAT 6:21 Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Ek vra myself toe af:
Wat op hierdie aarde kan so kosbaar wees, dat dit ook in die Hemel as ‘n skat deur ons Here beskou sal word?
En waarvan ek ‘n bydrae kan maak om dit daar te kry?
En dit dan daar sal beskou word dat ek deel daarin het?

Wel, die antwoord is vir my baie duidelik: ‘n Siel vir wie Jesus Sy kosbare bloed op Golgota gestort het en wie ek deur die genade na ons Here kon lei, of wie ek gehelp het om terug by ons Here uit te kom.
Of waar ek iemand wat vir ons Here gewerk het, op die een of ander wyse gehelp het om ‘n siel by of weer terug by ons Here te kry.

In hierdie verband skryf my groot held Paulus die volgende:

1 KOR 3:8  “Die een wat plant en die een wat natgooi, werk saam en het een gesamentlike doel, alhoewel elkeen sy eie beloning sal ontvang in ooreenstemming met sy eie harde werk.”

Alhoewel al ons Here se kinders gered sal word, is dit ook vir my baie seker uit die Woord, dat ons nie almal eendag dieselfde behandeling by ons Here gaan ontvang nie, gewoon omdat ons nie almal hier op aarde ewe hard en met dieselfde opregtheid, ywer en opoffering in Sy koninkryk werk nie.

Party van ons, Sy kinders, gaan ‘n baie groot beloning by Hom ontvang.  Party minder en daar gaan ook van Sy kinders wees wat geen beloning by Hom gaan ontvang nie. Die voorbeeld uit die Woord wat ek wil gebruik – maar ek kon ander ook gebruik het om te staaf wat ek sê, is die volgende:

1 KOR 3:11-15 
11 “Want niemand kan 'n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus
12  As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy (die keuse lê geheel en al by die een wat bou) goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels.
13 Daar kom egter 'n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.
14  Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.
15 Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit 'n brand gered word.”

Daar is mense wie se lewensuitkyk is:

Ek het my bekeer.
Ek het my laat doop.
Ek is nou op my pad Hemel toe.

Oor daardie soort uitkyk kan ‘n mens redeneer of ek wel op my pad Hemel toe is, as ek so redeneer.

Dan is daar mense wat redeneer:

Ek het my bekeer en ek het my laat doop en ek gaan Sondae kerk toe

Of sò iemand werklik bekeerd is, wel, daaroor kan ‘n  mens redeneer en so kan ek aan en aan gaan.

Een ding is, soos ek die Woord verstaan, egter baie seker, dit is nie die soort redenasie wat ons Here van Sy volgelinge verlang nie:
Ek, Sy kind, het ‘n opdrag van Hom gekry:

MAT 28:18-20 
18 “Jesus kom toe nader en sê vir Sy dissipels: "God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou.
19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis."

Nou sê ek nie ons moet almal rondgaan en preek nie. Ekself byvoorbeeld, sou graag nog wou preek maar weens my persoonlike omstandighede kan ek dit net nie meer doen nie.

So, wat sê ek vir jou?
Alhoewel nie almal van ons dieselfde talente of geleenthede het nie, is dit ook, volgens hoe ek die Woord verstaan, so dat elke ware dissipel van Jesus nie tevrede kan wees om, wat die Evangelie van Christus aanbetref, ‘n siening te hê soos die gesegde lui: “Dat Godswater maar oor Godsakker kan loop nie.”

‘n Wáre dissipel van Jesus, soos ek die Woord verstaan, kan nóóit passief teenoor die Evangelie staan nie, maar sal altyd probeer om Jesus se Evangelie te bevorder.

Kyk hoe stel Jesus dit by geleentheid:

MAT 10:27   “Wat Ek vir julle vertroulik sê, vertel dit vir almal.  En wat in julle ore gefluister word, basuin dit oor die dakke uit.
MAT 10:28  Moenie bang wees vir hulle wat julle wil doodmaak nie.  Hulle kan net julle liggame doodmaak, aan julle innerlike kan hulle nie raak nie.  Wees veel eerder bang vir Hom wat julle  liggaam en siel, in die hel kan vernietig”

So, vir al my passiewe broers en susters herinner ek net weer aan ons Verlosser en Saligmaker se woorde, amper aan die einde in Sy Woord, aan ons:

OPB 22:12  “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.“

Ten slotte my vriend / vriendin – Ek wil dít wat ek nou met jou gedeel het, afsluit met die volgende uit die Woord en ek hoop dat dit tot bemoedigende aansporing vir jou sal dien:

1 KOR 15:58 “Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd.”

Groete,
Sakkie