‘n Hele klompie jare gelede, sit ek een middag op my bed en tokkel sommer so op die kitaar. Destyds kon ek nog voorwerpe uitgemaak het as ek mooi kyk. Ingedagte kyk ek op na die muur en ek sien ‘n skildery hang. Ek was alreeds te blind om te sien wat geskilder is maar ek kon die vierkant van die skildery sien en ek kon sien dat die raam nie leeg was nie.
Toe wys ons Here vir my iets wat ‘n groot indruk op my gemaak het. Hoeveel mense het al voor ‘n skildery gestaan en die skildery bewonder en hoeveel van daardie mense wat die skildery bewonder het, het al ooit daaraan gedink, dat as dit nie vir die hak agter die skildery was, wat hom daar gehou het nie, hulle nie die skildery sou kon bewonder het nie. Ek dink toe daaraan, hoe baie ons mense bewonder en vertel hoe wonderlik hulle is maar ons gee nooit of dan baie min vir ons Here die eer vir wat Hy vir daardie persoon gedoen het.
Neem nou maar vir Naas Botha. Ek is nou nie ‘n Blou Bul ondersteuner nie maar hy was seker een van die grootste rugbyspelers van sy tyd. Ek kan goed onthou hoe die mense gaande geraak het oor hom en almal het net altyd vertel hoe goed Naas Botha is maar niemand het ooit vertel hoe goed Naas Botha se God is nie, of as iemand dit gedoen het, het hulle dit nooit gedoen waar ek dit kon hoor nie. Ek het nooit gehoor dat iemand sê: “Kyk net hoe het ons Here vir Naas Botha geseën nie.” Ons gee so maklik vir die mens al die ere en vergeet so maklik die eer aan ons Here.
Daaraan het ek gedink, toe seën ons Here my met die lied:
Vers 1
Ek kyk na die muur toe en wat sien ek daar,
‘n mooi skildery dis wat ek gewaar.
Ek sien die blomme die berge se blou,
Skildery teen die muur ek bewonder vir jou.
Koor
En ons wys met die vinger en spog by mekaar,
Oor die lieflike prentjie wat ons hier gewaar.
En almal vergeet, niemand onthou nie,
Die hak teen die muur wat hom daar vashou nie.
Die hak teen die muur wat hom daar vashou nie.
Vers 2
Ja, jy sien ‘n man standvastig en sterk,
Hy presteer in sy sport en presteer in sy werk.
En jy gee hom die pryse en jy gee hom die ere.
Maar so baie vergeet die lof aan die Here.
Koor
En ons wys met die vinger en spog by mekaar.
Oor die lieflike prentjie wat ons hier gewaar.
En almal vergeet ja, niemand onthou nie,
Die Here sy God wat hom staande hou nie.
Die Here sy God wat hom staande hou nie.
Vers 3
Of jy kyk in die spieël en jy’s selfvoldaan,
Maar wie reël jou kom mens en wie reël jou gaan.
Kry dit tog mens nou in jou verstand,
As ‘n stoffie lê jy in Sy Almagtige hand.
Koor
So wys nie met die vinger, spog nie by mekaar,
Oor die lieflike prentjie wat jy hier gewaar.
En moet nie vergeet nie, ja, jy moet onthou,
Dis die Here jou God wat jou staande hou.
Dis die Here jou God wat jou staande hou.