SONDEBELYDENIS – DEEL 3

SONDEBELYDENIS – DEEL 3

Skrywer:  Sakkie Parsons

Hierdie is die derde en laaste skrywe in hierdie kort reeks van gedagtes uit die Woord, oor iemand wat as volg aan my geskryf het:

“Ek sien elke keer die verse in die Bybel dat as mens jou sondes bely dan sal jy vergewe word. Aan wie moet jy jou sondes bely? Sekerlik weet God watter sondes ons pleeg? Ek wonder maar net oor diegene wie seergemaak kan word as sekere sondes bely word aan hulle. Ek wil verseker nie weet as my vrou ontrou aan my was nie want dit sal my net seermaak as ek dit moet weet. Nog minder wil ek weet of 'n geliefde gesteel het van my of enige ander mens. Dit sal die verhouding skade aandoen want jy sal die persoon nie meer vertrou naby jou besittings nie. Ek het maar net gewonder oor wie presies aan bely moet word en hoop jy kan bietjie lig werp.“

In hierdie skrywe deel ek met jou oor belydenis teenoor my medemens teen wie ek gesondig het.

Nou is die vraag: Moet ek, as ek teen iemand gesondig het, dit teenoor die persoon bely; en beteken dit ek moet, sonder uitsondering, altyd alles bely?

Dan is my antwoord dat ek persoonlik glo dat ons die verkeerd, of dan, sonde wat ons teen iemand anders doen, waar moontlik, eintlik moet ek sê, waar nodig, aan die persoon bely. Ek dink egter nie dat ek ongekwalifiseerd, alle sonde wat ek teenoor iemand anders doen, sommer teenoor daardie persoon moet bely nie.

Ek moet natuurlik alle sonde wat ek doen, teenoor ons Here bely, natuurlik ook dit wat ek teen my medemens sondig.

Daar is egter vir seker gevalle waar ekself sou sê, dat jy dit wat jy nou teen iemand gesondig het, teenoor ons Here moet bely, maar dan vir ons Here vra of jy dit aan die persoon self ook moet bely en dan baie mooi luister wat die Heilige Gees in jou hart vir jou sê.

Ek gee ‘n voorbeeld:

Ek sien ‘n vrou in die winkel en ek kry allerlei wellustige gedagtes oor haar in my hart.
Ek kan mos nou nie, om my gewete te streel, na haar gaan en teenoor haar bely dat ek nou gesondig het, en haar vertel wat ek gedink het en so my sonde teenoor haar bely nie.
Wat ek onmiddellik moet doen, is om satan te bestraf wat daardie bose pyle op my afgeskiet het en so gou moontlik in opregtheid daardie bose sonde aan ons Here bely om so die mooi verhouding tussen Hom en my wat satan nou kom besoedel het, skoon en rein te hou.

Soos wat ek genoem het. Voordat ek sonde teenoor iemand bely, behoort ek eers teenoor ons Here dit te bely en dan by Hom klarigheid kry of ek dit ook teenoor die persoon teen wie ek gesondig het, moet bely.

Ek deel met jou nog ‘n voorbeeld van wat ek bedoel en jyself weet daar is geweldig baie voorbeelde wat ek kan gebruik.
Ek wil by ‘n parkering parkeer en iemand wat sien ek wil daar parkeer, en ook parkering soek, skiet by my verby en gaan parkeer daar. Nou word ek verskriklik kwaad en ek wens die verskriklikste dinge gebeur met daardie persoon. Nou, en ek dank ons Here vir Sy Gees, kla my gewete my, as kind van ons Here, aan – en soos wat dit ‘n kind van ons Here betaam, bely ek die verkeerd wat in my hart opgekom het en vra ek dadelik by ons Here vergifnis.

As ek nou uit my motor klim en na daardie persoon toe gaan om teenoor hom te bely dat ek nou … teenoor hom in my hart gewens het en dat hy my moet vergewe, maar, omdat hy weet dat hy my ‘n onreg aangedoen het, gaan hy tien teen een dink ek is nou sarkasties en gaan dit net olie op die vuur wees wat smeul en net wag om op te vlam.

Dan sommer vir die interessantheid daarvan, ingeval jy dalk nie kennis dra daarvan nie –
Alhoewel daar geweldig baie voorbeelde in die Woord is dat ons teenoor ons Here ons sonde moet bely, is daar na my kennis net een gedeelte waar ons lees dat ons, dit is nou ‘n Christen, aangesê word dat ons, ons sonde teenoor mekaar moet bely en dit is in JAK 5:16:

JAK 5:16 “Daarom moet julle, julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het 'n kragtige werking.”
 

Nou sê ek nie dat, omdat daar net een voorbeeld in die Woord is dat ons, ons sonde teenoor mekaar moet bely nie, dat dit beteken dat ons nié ons sonde aan mekaar hoef te bely nie.

Vir my sê dit juis, die ideaal behoort te wees om ons sonde teenoor mekaar te bely, maar omdat jy teenoor ‘n mens, met al die mens se tekortkominge, gaan bely, is dit die beste om altyd eers die saak met ons Here uit te maak en as jy vanweë jou betrokkenheid nie ons Here se stem, om dit so te stel, mooi kan hoor nie, omdat jy in jou mensheid te betrokke is, soek ‘n ware kind van ons Here, iemand met integriteit wie jy kan vertrou en bespreek die belydenis wat jy wil maak, ook met daardie persoon.  Bid dan weer daaroor en besluit dan oor jou optrede.

Ons vertrekpunt moet egter altyd, in alles, soos ook in hierdie geval, nadat ons daaroor gebid het, die Woord wees.

Wat ek bedoel is dit:

As ek in ‘n situasie beland en ek twyfel oor wat nou, van my as kind van God verwag word, gaan kyk ek wat die Woord oor hierdie situasie sê, en dan sê ek vir myself:

“Daar staan geskrywe”, en ek neem dit dan biddend van daar.

Dit moet altyd die vertrekpunt wees waarvandaan ek onder leiding van die Heilige Gees moet besluit of dit iets is wat ek teenoor ‘n mens ook moet bely, as ek dit teenoor ons Here in opregte berou bely het.

Om dan op te som en hier sal ek begin deur te sê, soos wat my groot held Paulus ook by geleentheid gesê het:

1 KOR 7:12 “Nou gaan ek met die res van julle praat alhoewel ek nie 'n direkte opdrag van die Here het nie. …”

So, ek as kind van God wat hierdie bediening van ons Here ontvang het, sê dan ook nou:
Nou gaan ek met jou praat alhoewel ek nie 'n direkte opdrag van die Here het nie.

Dit staan nie so in die Woord geskryf nie, maar, soos wat ek jou hierbo gewys het, ons behoort nie ongekwalifiseerd, nadat ons die sonde aan ons Here bely het, dit sommer teenoor die een teen wie ons gesondig het, dit ook bely nie.

Bid eers en vra ons Here se leiding.
Want ons Here weet hoe die persoon jou belydenis gaan hanteer en of die persoon jou belydenis hoegenaamd sal kan hanteer.

In JAK 5:16 gaan dit daarom dat ek my sonde, wat ek teenoor iemand gedoen het, ek aan die persoon moet bely sodat daar genesing kan kom en dit sluit ook geestelike genesing in.

JAK 5:16 “Daarom moet julle, julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. …”

My belydenis moet genésing bewerkstellig, nié ‘n beskadigde, stukkende verhouding of mens nog verder beskadig of verwar nie.  Belydenis teenoor mekaar moet dus geskied sover dit in die liefde is.

Dus, ek moet bely dit wat genesing gaan bring, nie dit wat gaan afbreek of selfs gaan vernietig nie.

Met watter gesag skryf ek aan jou wat ek nou aan jou geskryf het?
Ek antwoord dan soos my groot held Paulus ook op ‘n stelling wat hy gemaak het geantwoord het. Hy het naamlik by geleentheid oor dit wat hy mense geleer het, geskryf:

1 KOR 7:40 “Ek is egter van opinie dat sy gelukkiger sal wees as sy ongetroud bly. En ek meen dat hierdie advies van my van God se Gees afkomstig is.”

So, omdat ons nie direk uit die Woord aangesê word of ons alle sonde wat ons teen wie ook al gedoen het, aan daardie persoon moet bely nie, sluit ek dan hierdie gedagte uit die Woord af deur te sê:
Ek is egter van opinie dat dit wat jy nou gelees het, die wyse is hoe ons na sondebelydenis teenoor ons naaste moet kyk en ek meen dat hierdie advies van my van God se Gees afkomstig is.

Groete,
Sakkie