WAT MOET JY EN EK DOEN OM NIE LOU TE RAAK NIE?

WAT MOET JY EN EK DOEN OM NIE LOU TE RAAK NIE?

Die brief aan die gemeente van Laodicea wat lou geword het.

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra, of ek nie openbaring 3:16 wil verduidelik nie.

Ons lees, en ek begin by vers 14:

OPG 3:14-16 

14 En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:

15  Ek ken jou werke, dat jy nie koud  en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!

16  Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.

Eers net die volgende:

Laodicea is vandag as gevolg van aardbewings, ‘n verwoeste stad.  Daar is net ruïnes en goed georganiseerde toere deur die ruïnes, as jy die geld wil spandeer om daarna te gaan kyk.

Ek wil nou met jou oor die drie soorte mense praat wat jy in die gemeente van Laodicea gevind het.

Ek gaan ook drie persone, eintlik moet ek sê drie persoonlikhede uit ons Here se kosbare Woord gebruik om uit te wys wat ek bedoel.

Eers deel ek met jou oor die persoon wie koud is.

Waarom sou ons Here iemand verkies wat koud is bo iemand wat lou is?

In my antwoord moet jy onthou, dat ek nou van mense in en om die gemeente van die evangelie van Jesus Christus praat.

Gewoonlik is hulle familie, vriende of kennisse van mense wie reeds deel van die gemeente is – maar dit is nie noodwendig die geval nie.

Jy weet wat die geloof in Jesus Christus aanbetref presies waar jy met hulle staan.

Hulle gee nie iets voor wat nie so is nie.

Hulle gee nie om om met jou geassosieer te word nie maar hulle glo nie wat jy glo nie punt.  Ja, jy weet presies waar jy wat die geloof aanbetref met hulle staan.

Sulke mense wie koud is wat die evangelie van Jesus Christus aanbetref, kan jy nog met jou lewe en getuienis van die evangelie na Jesus bring.

En sulke mense is gewoonlik, soos ek in my meer as 51 jaar van vir ons Here werk ondervind het, wanneer hulle dan tot bekering kom, groot getuies vir Jesus Christus en ek deel met jou die beste voorbeeld uit die evangelie van Jesus Christus wat ek ken:

Min mense, ek wil eintlik sê, geen mens in die Nuwe Testament van ons Here aan ons, was so ysig yskoud teenoor die evangelie van Jesus Christus soos Saulus van Tarsus nie.

Hy was volgens die Woord en sy eie getuienis skuldig aan medepligtigheid aan moorde en groot vervolging op die eerste Christene:

HAN 9:1  Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan

HAN 9:2  en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.

Jare later skryf Paulus van Christus, wat vroeër yskoud, as Saulus van Tarsus, Christene vervolg het aan een van die gemeentes wat hy gestig het as volg:

GAL 1:13  Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodedom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het;

Dit bring my dan by die warm persoon wat ek as voorbeeld oor my verduideliking van Openbaring 3:16 wil gebruik – naamlik Paulus, (nou ‘n nuwe mens/persoonlikheid na sy bekering) wie ek graag Paulus van Christus noem.

God kan werk met iemand wie warm vir die evangelie van Jesus Christus is

Paulus was nie net warm nie, hy het nie net geborrel as dit by die evangelie van Jesus Christus gekom het nie hy het oorgekook – en wat kan ons Here nie met so iemand vermag nie?

Ons Here gebruik toe vir Paulus om die meeste boeke van die Nuwe Testament te skryf en wat inhoud aanbetref, leer hy ons verreweg die meeste van al die apostels oor die evangelie van Jesus Christus.

Ek moet egter nog ook met jou gesels oor iemand wat lou is.  Dit is die persoon wat op die punt staan om deur ons Here figuurlik uitgespoeg te word en wat ‘n voorbeeld is, van as jy nie dadelik verander en werklik jou saak met ons Here regmaak nie, jy by ‘n punt gaan kom waar jy nie meer jou saak met ons Here kan regmaak nie – gewoon, omdat jy nie meer werklik gaan omgee of jou saak met ons Here reg is nie.

So ‘n persoon was Judas Iskariot.

Hy was deur ons Here uitgesoek as een van die twaalf apostels om Jesus te help om die evangelie te verkondig en nog veel meer te doen. Ons lees:

MAT 10:1  En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees. (En Judas Iskariot was een van die twaalf wat mag oor bose geeste gehad het en wat elke kwaal en siekte kon genees)

Judas Iskariot het egter na satan begin luister en het begin afkoel, totdat hy so lou geword het, dat Jesus, wie hom met die hand uitgesoek het, later van hom getuig:

JHN 6:68-71 

68 En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.

69  En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.

70  Jesus antwoord hulle: Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel!

71  En Hy het bedoel Judas Iskáriot, die seun van Simon; want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.

Onthou, Ons moet net mooi verstaan:

Ons Here sal nooit Sy rug op jou of my draai nie – maar jy en ek het ‘n vrye wil van ons eie. Ons is nie God se marionette nie en ons Here respekteer ons wil, net soos wat Hy wil, dat ons Sy wil moet respekteer.

Hy hou ons vas in sy goddelike hand maar as ons, ons hand uit Sy hand wil losmaak, gaan Hy ons ‘wil’ respekteer – maar ons gaan die gevolge van so ‘n dwase stap dra.

So, wat moet jy en ek doen om nie lou te raak nie?

Jesus sê vir jou en my, soos wat Hy vir Sy dissipels gesê het toe satan hulle menslike swakheid aangeval het:

MAT 26:41  Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

Jy sien,

Jy en ek moet gedurig onsself ondersoek om te sien of ons nog op die plek in ons geestelike lewe is waar ons moet wees want:

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

As ons nie waak en bid nie,

As ons nie gedurig seker maak, dat ons geestelik nog vir Jesus volg nie, kom ons op die plek waar ons Sondae in die kerk sit en alles doen wat ons mede broers en susters doen.  Met ander woorde, om dit so te stel, saam met Jesus en ons ander broers en susters aan tafel sit – en dan eintlik oppad hel toe is:

JHN 13:2  En gedurende die maaltyd—die duiwel het dit al in die hart van Judas Iskáriot, die seun van Simon, ingegee om Hom te verraai—

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.