WAT BETEKEN DIT OM ‘N NUWE MENS TE WORD WANNEER JY JESUS AANNEEM?

WAT BETEKEN DIT OM ‘N NUWE MENS TE WORD WANNEER JY JESUS AANNEEM?

Ek leef nie meer nie maar Christus leef in my.

Sakkie Parsons

Iemand gesels met my oor die feit dat wanneer jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, jy dan ‘n nuwe mens in jou gees is en vra wat dit behels.  Ek deel met jou hoe ek dit uit die Woord sien:

Ons lees in hierdie verband wat Paulus geskryf het, nádat hy tot bekering gekom en Jesus aangeneem het as sy Verlosser en Saligmaker en Saulus,- die man wie hy eers gewees het – gekruisig is, en so dood is dat hy, Paulus nou ‘n nuwe mens is, wie verewig by Jesus in die hemel gaan leef:

GAL 2:20  Ek is met Christus gekruisig, (Saulus is wat die wêreld se sondige wyse van lewe aanbetref gekruisig) en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. (hoe wonderlik sou dit wees, as alle Christene dit ook so kan regkry en dit by die meeste Christene nie net lippetaal is nie) En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Ek moet hierdie sekere wete hê, dat die ‘ou ek’ se lewelose lyk van die kruis waaraan ek gekruisig was, afgehaal en van ontslae geraak is.

Jy vind hierdie verwarde gemoedstoestand van skeiding tussen die ou en nuwe mens, sonder dat hulle gewoonlik self daarvan bewus is, veral by mense wie nog klou aan die Mosaïese wet.  Natuurlik, om dit so te stel, klou hulle net aan die dele wat hulle aan wil klou en skuif die ander eenkant – maar ons onthou:

EFE 2:15-20 

15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep

16  en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.

17  En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle (dit is ons wie nie Jode is nie) wat ver was en aan die wat naby was; (naamlik die Jode)

18  want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.

19  So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,

20  gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,

Baie mense kry dit nie regtig heeltemal reg om die ou mens dood te maak nie.

Jy kan maar sê, hulle het hom op ‘n drup daar waar hy aan die kruis hang, en so elke nou en dan draai hulle die drup so ‘n bietjie oop en hou hom so aan die lewe – maar ons Here sê ons moet daardie drup afhaal en dan die lyk van die kruis afhaal en vir altyd van daardie oumens lyk ontslae raak, sodat ons nie in verwarring verder hoef te leef in wie ons werklik nou is nie:

EFE 4:22-24 

22 dat julle, wat die vorige lewenswandel betref (finaal, eens en vir altyd) die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan,

23  en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed

24  en julle met die nuwe mens (eens en vir altyd) moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.

Die Nuwe Lewende Vertaling lees as volg:

EFE 4:21-24

21 …  Julle het tog die waarheid oor julle verhouding met Jesus geleer,

22 naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek.  Bedrieglike begeertes laat hierdie mens te grond gaan.

23 Julle moet op ‘n nuwe, geestelike manier leer dink.

24 Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is:  iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is

In die tyd waarin ons leef, waar mense allerlei kompromieë in hul Christen-wees maak, en ‘hierdie’ uit die Woord haal, of so en so verander, omdat dit glo nie meer op ons vandag van toepassing is nie en dan kry jy dit, dat mense soms baie godsdienstig is – maar ook baie ver van God af is.

Ons Here verwoord hierdie valse wyse van Christen-leefwyse as volg in Sy Woord:

2TIM 4:3  want daar sal n tyd wees (en in jou en my lewe is dit in die tyd wat ons nou in leef) wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,

2TIM 4:4  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Maar jy en ek moet vas staan in wat ons in die Woord lees wat op die Christen in Jesus se nuwe testament vir Sy volgelinge opgeskryf is en nie kompromieë met die wêreld aangaan deur hier of daar in die Woord te verander of uit te haal nie:

ROM 13:14 Nee, soos ‘n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus ‘aantrek’, en nie ‘n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie

Laat jy en ek daarna strewe om al die tyd so te leef soos wat jy nou gelees het.

Hoe kry ons dit reg na ons bekering en ons Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker?

HEB 12:2-4 

2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

3  Want julle moet ag gee op Hom wat so n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. (terwyl ons dan ook onthou, as ons so na al die kompromieë kyk wat deur mense om ons aangegaan word)

4  Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.