HOE BELY EK MY SONDES EN WEET DAT GOD MY VERGEWE HET?

HOE BELY EK MY SONDES EN WEET EK DAT GOD MY VERGEWE HET?

Sakkie Parsons

Iemand het my die volgende vraag gevra en ek probeer om sy vraag so getrou moontlik te herhaal:

“Hoe bely ek my sondes as ek nie eens almal kan onthou nie en hoe weet ek dan dat God my vergewe het?”

Persoonlik hanteer ek hierdie probleem as volg:

Eerstens weet ek, dat Hy, met wie ek praat oor my sondes, God Almagtig en natuurlik ook Alwetend is.

Hy kan in my hart sien en daarom weet Hy verseker as ek met Hom praat oor my sondes, of ek werklik bedoel al my sondes as ek vir Hom vra om: “Asseblief tog al my sondes te vergewe.”

PSM 69:6   “O God, U weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie.”

Jy sien – as ek vir ons Here vra om my sondes te vergewe, weet Hy, die Alwetende God, of ek dit werklik bedoel of nie; en of ek al my sondes bedoel of nie; en dan, so glo ek, handel Hy volgens wat Hy sien.

Daarom hoef ek net vir Hom te vra om al my sondes te vergewe en dit werklik so te bedoel en Hy neem die borsel, die bloed van Jesus en Hy vee die swartbord skoon en nie eens die engele in die hemel kan ooit weer sien wat op daardie swartbord geskryf was nie. Om dan weer skuldig te wees vir daardie sonde, sal ek dit letterlik weer moet gaan doen.

1JHN 1:5-10 

5 “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.

6  As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

7  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, Sy Seun, reinig ons van alle sonde.

8  As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

9  As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

10  As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is Sy Woord nie in ons nie.

Omdat ons liefdevolle Vader weet dat ons feilbare mense is, met feilbare menslike verstand en ons nie eens een dag lank al die verkeerd wat in ons harte opkom en wat by ons monde uitkom en wat deur ons oë na ons brein gaan en wat deur ons ore na ons brein gaan, kan onthou nie, wat nog te sê, dit een vir een kan opnoem, het Hy wat Sy kosbare bloed gegee het; om juis ons skoon te was van daardie vuil sondes, wat ons nie eens ‘n dag lank almal kan onthou nie, het Hy vir ons gesê:

MAT 6:9-13 

9  “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word;

10  laat U koninkryk kom; laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

11  gee ons vandag ons daaglikse brood;

12  en vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

13  en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

Het jy gesien wat sê Hy hoe moet jy oor jou sonde bid?

Jy hoef nie almal by die naam te noem nie, in elk geval is jy nie gebore in staat om dit te doen nie.  Nee, jy hoef maar net werklik berou te hê oor die feit dat jy Hom in baie opsigte gefaal het en met daardie werklike berou in jou hart vir jou Vader ekskuus te sê vir al die kere van die vorige keer af dat jy ekskuus gesê het:

MAT 6:9  “Só moet julle dan bid: …

MAT 6:12  en vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;…”

As ek dan vir Hom vra om al my sondes wat ek vandag gedoen het te vergewe en dit bedoel, met ‘n opregte bedoel, wat Hy in my hart kan sien, het ek hierdie heerlike sekere wete:

1JHN 1:9  “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

Soos ek altyd sê, sê ek nou maar weer – as ons Here sê:

1JHN 1:9   “…en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

Dan kan jy maar verseker weet, dit is, alle ongeregtigheid.

Jy kan nou net daar waar jy sit, die volgende gebed bid:

“Here ek weet ek het weer vandag baie verkeerde ding in my lewe toegelaat. Ek vra asseblief, kyk in my Hart en vergewe my al my sondes wat ek gedoen het. Ek weet U kan alles sien. Niks is vir U verborge nie. Vergewe my asseblief. Ek vra dit vir U in die Naam van Jesus en ek sê baie dankie. Amen.”

As jy daardie gebed in opregtheid gebid het, sit jy nou daar as ‘n skoon gewaste kind van God.

Die Lewende Bybel stel dit so:

PSM 103:11-14

11  “Sy getroue liefde vir die wat Hom vereer is net so oneindig as die afstand tussen die hemel en die aarde.

12  Ons sondes het Hy so ver weggevat as wat die ooste van die weste af is.

13  Die Here is begaan oor dié wat Hom vereer, soos ’n vader oor sy kinders.

14Hy weet baie goed hoe ons saamgestel is, dat ons van grond gemaak is.”

Om dan op te som.

Jy vra: “Hoe weet ek dan dat God my vergewe het?”

As jy werklik berou het oor dit wat jy gedoen het, het jy ons Here se Woord, dat Hy jou vergewe het.

Nou kan jy met vrymoedigheid Hom loof, prys en dank.

‘n Verdere Gedagte uit die Woord wat hierby aansluit en wat jy by my kan bestel en ek dan met groot liefde aan jou sal stuur is:  “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.”

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.