DIE HEILIGE GEES WAT JULLE ONTVANG HET, IS NIE ‘N GEES WAT WEER VAN JULLE VREESBEVANGE SLAWE MAAK NIE

DIE GEES WAT JULLE ONTVANG HET, IS NIE ‘N GEES WAT WEER VAN JULLE VREESBEVANGE SLAWE MAAK NIE.

Sakkie Parsons

In hierdie skrywe aan jou, wil ek weer probeer soos wat ek ook al in die verlede probeer het, om jou te oortuig om jou tog nie aan al hierdie drome en gesigte wat so rondgaan, te steur nie, wat so baie woorde het en wat eintlik niks verstaanbaar van ons Here af sê nie.

As iemand vir my iets meedeel, asof dit van ons Here kom, toets ek dit dadelik met die Woord en as daar iets is, wat – hoe gering ook al met die Woord en dit wat die Woord my leer verskil – word dit vir my iets boos van satan af.

Iemand skryf aan my oor ‘n droom wat iemand gehad het, waar – soos ek die droom verstaan – ons Here se gesig kwaad na die persoon gekyk het en toe onder andere gesê het, maar lees gou self die gedeelte wat my net my kop laat skud:

“Toe ek omdraai, sien ek die GESIG in die wolke (ek kan dit nie beskryf nie, ek weet net Hy was kwaad). Ek het so groot geskrik dat ek op die grond neergeval en net begin skree het. Terwyl ek daar lê, hoor ek Hy sê: “My geduld is nou op met die mensdom wat nie wil hoor nie. Gaan waarsku hulle, want hulle weet nie wat gaan kom (gebeur) nie. Tell them to be holy, because I AM HOLY”.

Ek het in 1973 tot bekering gekom en is op Woensdagaand die 25ste April 1973 gedoop en in al die jare wat ek met ons Here wandel, tot vandag toe, het ek nog nooit ervaar dat my liefdevolle Vader so liefdeloos teenoor my opgetree het soos wat blykbaar in hierdie droom gedemonstreer word, dat ons Here teenoor sy geliefde kinders sal optree nie.

Luister na wat die Woord sê:

ROM 8:15Die Gees wat julle ontvang het, is nie ‘n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie. Julle het die Gees van ware kind wees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons Vader.

ROM 8:16 Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is.”

Vir my is dit net nie moontlik om te dink dat my Here, my liefdevolle Vader, my ooit kwaad sal aankyk vir iets wat iemand anders gedoen het nie.

Ek kan my onder geen omstandighede indink dat ek ooit so bang vir my liefdevolle Here sal wees, dat ek van angs sal skree en op die grond val en dit nogal oor iets waaraan ek geen aandadigheid het nie en dit, nadat Hy in Sy Woord vir my, Sy kind sê dat ek in my dien van Hom, geen vrees hoef te hê nie.

Ek lees in die Woord byvoorbeeld:

MAT 7:9 “Julle as ouers sal tog nie vir julle kinders as hulle brood vra, klippe gee nie.

MAT 7:10 Of as hulle vis vra, vir hulle slange gee nie.

MAT 7:11 As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan

hulle wat dit van Hom vra!”

Met dit wat jy nou gelees het uit die Woord as maatstaf, sal jy jou kind kwaad aankyk vir iets wat iemand anders verkeerd gedoen het?

Is dit moontlik dat jou verhouding met jou kind so sonder liefde kan wees dat jou kind van vrees sal skree as jy met haar/hom praat?

Wel, as jy wat ‘n sondige mens is, dit nie sal doen nie, hoe is dit moontlik dat iemand kan dink dat ons Here wat vir ons, uit Sy groot liefde aan die Kruis gaan hang het, so iets sou doen.

Dan, dit is gewoon net nie waar dat ons nie weet wat gaan kom nie.

Niemand het nodig om jou of my te vertel wat kom nie.  Alles wat jy en ek moet weet oor wat gaan kom, is in die Woord vir ons opgeteken. En die mense wat nog nie bekeerd is nie en daarom nie die Woord gelees het nie?  Wel, dit gaan werklik nie help om hulle met vrees te probeer forseer om ons Here te dien nie.

* Ons Here soek nie mense om Hom te dien omdat hulle bang is vir die hel of wat vooraf volg nie. 

* Net soos Hy ook nie mense soek om Hom te dien net sodat dit met hulle kan goed gaan nie.

* Net soos Hy ook nie mense soek, om Hom te dien omdat hulle graag lekker in die Hemel wil gaan lewe nie.

Nee o nee!

Ons moet die Evangelie van Jesus aan die mense verkondig sodat hulle Hom kan aanneem en ‘n ware liefdesverhouding met Hom kan hê.

Ons Here soek mense wat Hom wil dien en liefhê omdat ons Hom aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, en uit liefde Hom volg en dien omdat Hy, Hy is.

JOH 4:23Daar kom egter ‘n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit ‘n hegte (dit is met volle liefde) verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid.”

As iemand wat die Evangelie van Jesus Christus hoor, Hom aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker, sal die Heilige Gees wat hulle ontvang, soos vir jou en my, as ons in die Gees luister, hulle in alle waarheid lei:

JOH 14:16  “En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees;

JOH 14:17 dit is die Gees van die waarheid. Die wêreld is nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter, omdat

Hy by julle gaan bly en in julle sal woon.”

Luister my vriendin en vriend. In die Ou Testament het mense drome gedroom en gesigte gesien en het die mense nodig gehad om iemand te kry om die droom of gesig vir hulle te verklaar maar in die Nuwe testament het jy en ek, ons wat Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker,  die Heilige Gees inwonend in ons en as jy of ek nou ‘n droom, droom, of ‘n gesig sien, en dit is van ons Here, glo my, dan sal jy weet, wat jy moet weet.

Ons lees in die Woord:

HAN 2:17 “’Só sal dit in die laaste dae wees’, sê God: Ek sal My Gees uitstort op elke mens. Julle seuns en dogters sal die Woord van God verkondig;

(nie sinnelose raaisels en of niksseggende drome verkondig en rond stuur nie) julle jongmense sal gesigte sien, en julle oumense sal drome droom.  (Daarom sal die getuienis van hulle wees).

HAN 2:18 Ja, op die mans en vroue wat in My diens staan, sal Ek in daardie dae

my Gees uitstort en hulle sal My woord verkondig.’”

      (Dit sluit na my mening nie onverstaanbare raaisels en of drome en gesigte in nie).

Nêrens in dit wat jy nou gelees het, is daar selfs iets wat jy amper kon gebruik om te sê dat ons nie gaan verstaan wat ons gaan droom of sien nie. Inteendeel, die gedeelte eindig juis deur te sê:

HAN 2:18  “Ja, op die mans en vroue wat in My diens staan, sal Ek in daardie dae my Gees uitstort en hulle sal My woord verkondig.”

As ons Here iets vir my gee om met jou te deel, of dit deur ‘n droom, gesig, of deur iets is wat ek lees ensovoorts, sal ek weet as ek na ons Here se Gees in my luister, wat ek met jou moet deel.

Daar sal nie raaisels wees nie, maar hoe verskriklik is dit dat daar Christene is wat die droom of gesig dan na ‘n droom-verklaarder of waarsêer, of wat die mense hulleself ook al noem, neem nie!

Hoe sien ek uit die Woord dat dit wat ek nou aan jou verkondig, die waarheid is? Luister wat sê die Woord:

JOH 14:26 “en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner

aan alles wat Ek vir julle gesê het”

Het jy gesien wat jy nou gelees het?

JOH 14:26 “en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner

aan alles wat Ek vir julle gesê het”

As ons Jesus vir my sê “in alle opsigte onderrig”, dan sluit dit in my boek, drome, gesigte, profesieë en wat jy dit ook al nog wil noem, in.

In elke, enkele geval in die Nuwe Testament waarvan ek weet, het elke persoon wat ‘n droom of gesig gehad het, presies geweet wat dit beteken en wat hulle handelinge nou moes wees en of wat hulle vir wie moes sê.

In een geval moes die persoon ’n rukkie daaroor gedink het, omdat hy volgens ‘n sekere godsdienstige leefwyse geleef het, maar toe help ons Here hom en hy kon dadelik doen wat hy moes doen.

As ek ‘n droom, droom en dit hinder my, maar ek weet nie wat, of dat dit enigsins iets beteken nie, dan bid ek daaroor, en as ek dan nog nie ‘n woord van ons Here kry nie, dan was dit maar net nog ‘n droom.

As iemand wat bely, dat sy/hy ‘n Christen is, aan my ‘n droom of gesig stuur wat sy of hy gekry het en die persoon kan nie vir my sê wat ons Here vir haar of hom deur die droom of gesig gesê het om vir my te sê nie, mors ek nie eens my tyd om die droom of wat dit ook al genoem wil word, verder te lees nie.

Vir diegene wat so maklik op hol gejaag word deur hierdie dromers en gesig-sieners wat nie vir jou kan vertel wat ons Here daarmee sê nie, vir julle wil ek graag vandag aanmoedig. Sorg dat jou saak met ons Here reg is en volg Hom in gees en in waarheid, want dan, my vriendin en vriend, hoef jy mos niks te vrees nie!

JHN 5:24  “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie My woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.”

ROM 8:15Die Gees wat julle ontvang het, is nie ‘n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie. Julle het die Gees van ware kind wees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons Vader.”

Ek het ‘n gedagte uit die Woord geskryf, waar ek presies verduidelik wat die verskil is in hoe ons Here se Gees in die Ou Testament gewerk het, toe die mense nodig gehad het dat iemand vir hulle die drome ens., moes uitlê en hoe Hy nou in ons, Sy kinders, werk en ek stuur dit met groot liefde op aanvraag aan jou.

Die gedagte uit die Woord se naam is:

Wat is dan die verskil.

Ek het ook die volgende gedagtes uit die Woord oor drome en droom verklaarders of uitlêers, of wat hulle ook al genoem wil word, geskryf en ook dit deel ek graag op aanvraag met jou.

Die gedagtes uit die Woord is – en as jy dit aanvra – moet jy dit asseblief in die volgorde lees wat ek dit aan jou stuur:

Oor die wegraping droom

Wanneer iemand sê: “Dit het ek van ons Here gekry.”

Groete

Sakkie

E-pos:            bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:   www.sakkieparsons.co.za

Sel:                083 457 6669

Judas 1:24-25Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,

     aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.