BELY MEKAAR JULLE MISDADE EN BID VIR MEKAAR, SODAT JULLE GESOND KAN WORD

BELY MEKAAR JULLE MISDADE EN BID VIR MEKAAR, SODAT JULLE GESOND KAN WORD

Sakkie Parsons

Ek het ‘n skrywe uitgestuur waar ek geskryf het oor hoe absoluut geheel en al ons Here ons vergewe, as ons met werklike berou ons sonde teenoor Hom bely.  Toe skryf iemand aan my, met die volgende vraag en ek kwoteer die vraag uit die skrywe aan my, net soos ek dit ontvang het:

“… Ek is seker dat die Here in my hart sien as ek Hom vra om my sonde te vergewe.  Maar waarom staan daar dan ook in die Woord dat ons, ons sondes teenoor mekaar moet bely (onder andere Jak 5:16)”.

Ek wil net graag een gedeelte uit my skrywe wat ek vir hierdie persoon gestuur het, vir agtergrond doeleindes hier kwoteer.

Ek het onder andere die ‘Onse Vader’ kwoteer en toe skryf ek die volgende:

“Het jy gesien wat sê Hy hoe moet jy oor jou sonde bid?

Jy hoef nie almal by die naam te noem nie, in elk geval is jy nie gebore in staat om dit te doen nie.  Nee, jy hoef maar net werklik berou te hê oor die feit dat jy Hom in baie opsigte gefaal het en met daardie werklike berou in jou hart vir jou vader ekskuus te sê vir al die kere van die vorige keer af dat jy ekskuus gesê het.”

Mat 6:9  Só moet julle dan bid: …

Mat 6:12  en vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

As ek dan vir Hom vra om al my sondes wat ek vandag gedoen het te vergewe en dit bedoel met ‘n opregte bedoel, wat Hy in my hart kan sien, het ek daardie heerlike sekere wete.

1JHN 1:9  As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Soos ek altyd sê, sê ek nou maar weer.

As ons Here sê:

1JHN 1:9  …en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Dan kan jy maar verseker weet dit is, “alle ongeregtigheid.”

Nou goed, laat ek verduidelik hoe ek na Jakobus 5:16 kyk.

In Jak 5:14-15, lees ons wat ons moet doen as iemand siek is.

JAK 5:14  Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het.

JAK 5:15  En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.

Dan lees ons in vers 16:

JAK 5:16  Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Die eerste wat hier vir my skrywe aan jou belangrik is, is die volgende.

JAK 5:16  Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. …

Hy het dan nou net geskryf wat ons moet doen as ons siek is, waarom stel hy dan nou

weer iets anders voor wat ons kan doen as ons ongesteld is?

Ek sien dit so:

In verse 14 en 15 praat hy van liggaamlike ongesteldheid en in vers 16 praat hy van

geestelike, of emosionele ongesteldheid.

Ek weet van meer as een geval waar iemand vir ons Here om vergifnis gevra het vir

iets wat hy/sy aan iemand anders gedoen het en alhoewel ons Here hom/haar vergewe

het, kon die persoon nie homself/haarself vergewe het nie, totdat hy/sy dit met die

betrokke persoon gaan uitmaak het.

Let ook op dat daar nie staan, dat jy dit moet doen nie.  Dit word aste ware soos ek

dit sien, as baie goeie raad vir ons gegee en dit werk.  Ek weet, ek het dit al gedoen.

Dan ook:

Miskien het jy ons Here om vergifnis gevra maar jy kan net nie vrede in jou hart kry

nie, al weet jy ons Here het jou vergewe.  Dan werk dit ook heerlik as jy ‘n geestelik

volwasse persoon kan kry om saam met jou oor jou probleem te bid.

Kyk wat staan in die tweede gedeelte van Jakobus 5:16.

JAK 5:16   … Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Ten slotte nog net dit.  As jy laasgenoemde weg volg, maak asseblief baie, baie seker dat die persoon wat jy gaan vertrou om saam met jou te bid wel ‘n wáre geesgevulde kind van ons Here is.

Ek het nog ‘n skrywe oor die onderwerp ‘Belydenis’ geskryf naamlik:  “Bely sover dit in die liefde is” wat hierby aansluit en wat ek met groot graagte op aanvraag aan u sal stuur.  Dit is ook op my Webtuiste beskikbaar.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.