DIE MANIER WAAROP JY BEGRAWE WORD IS NIE BELANGRIK NIE MAAR WEL OF JY MET JESUS AAN DIE ANDERKANT ARRIVEER

DIE MANIER WAAROP JY BEGRAWE WORD IS NIE BELANGRIK NIE, MAAR WEL OF JY MET JESUS AAN DIE ANDERKANT ARRIVEER

Sakkie Parsons

Ek het ‘n e-pos ontvang waarin ‘n man te velde trek teen verassing en ‘n paar stellings maak, wat ‘n mens selfs oor sou kon glimlag as dit nie was dat dit so ‘n ernstige saak was nie.

Die eerste punt waarop ek wil reageer is die volgende:

Hy sê en ek haal hom aan:

“daar mag nie eers tatoeëermerke daarop aangebring word nie” (Lev 19:28): “Julle mag ook terwille van ‘n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen in geprikte

tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE.” 

‘n Mens moet baie versigtig wees hoe en wanneer jy die Skrif/Bybel kwoteer.

Ek het gesê ‘n mens kan glimlag as dit nie so ‘n ernstige saak was nie.

As ek nou die vers in die Bybel net so in dieselfde konteks as hy moet verstaan, dan is ek en baie ander mense verlore, want ek het al ‘n hele paar operasies gehad en het dus heelwat snye aan my.

Hierdie vers is deel van die Wet.  Ons moet onthou ons is nie meer onder die wet nie maar onder die genade:

Gal 3:25-25

24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.

25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.

Gal 3:13 Christus het ons losgekoop van die wet deur vir ons ‘n vloek te word – want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang –

ROM 6:14  Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.

Ek praat nie tatoeëer goed nie, ek sê net wees versigtig hoe jy die Skrif kwoteer.

Dan maak die man nog ‘n stelling, maar hy vertel nie hoe die graf of grafte gelyk het nie.  Ek haal hom aan:

Mense wat getrou was in die HERE en in hulle geloof, sal begrawe word.

Abraham, Isak en Jakob is begrawe (Gen 25:9-10; 35:29 en 47:29).”

Weer maak hy ‘n stelling wat volgens my mening nie heeltemal korrek is nie.  Destyds het die kinders van GOD, en ook baie heidene, gewoonlik nie hulle dooies begrawe soos in die grond nie, maar in grotte of dan spelonke soos ons dit in die Skrif kry.

Genesis 49 :29-33

29 Daarna het hy hulle bevel gegee en aan hulle gesê: Ek word versamel by my volk.  Begrawe my by my vaders in die spelonk wat op die stuk grond van Efron, die Hetiet, is

30 in die spelonk wat op die stuk grond van Magspel is, wat oos van Mamre lê, in die land Kanaan; die stuk grond wat Abraham van Efron die Hetiet, as eiendoms

graf gekoop het.

31 Daar het hulle Abraham begrawe en Sara sy vrou; daar het hulle Isak begrawe en Rebekka, sy vrou; en daar het ek Lea begrawe –

32 die stuk grond en die spelonk wat daarin is, wat gekoop is van die seuns van Het.

33 Toe Jakob klaar sy bevele aan sy seuns gegee het, trek hy sy voete terug op die bed en blaas die asem uit; en hy is by sy volksgenote begrawe.

As ek nou die Bybel moet verstaan soos die man dit klaarblyklik verstaan, beteken begrawe om in, of ‘n grot/spelonk, of dan in ons moderne tyd seker grafkelder, begrawe te word.  As dit was hoe ons die Bybel moes verstaan, sou ‘n nis nie so ‘n slegte keuse gewees het nie.  ‘n Nis sou dan kon deurgaan as ‘n miniatuur grafkelder.

Dit is egter nie hoe ons die Bybel moet lees nie.

Terloops, selfs in Jesus se tyd het die gebruik nog wyd voorgekom. Jesus is ook nie in die grond, in ‘n kis begrawe nie. Ook nie Lasarus nie.  Beteken dit dan dat ons nou sondig omdat ons, ons dooies op ‘n ander manier begrawe?

Die woord ‘begrawe’ beteken nie noodwendig “ in ‘n kis, in die grond nie.”

Ek glo dat jou en my GOD heeltemal tevrede met ons is, as ons, ons geliefdes met liefde en deernis begrawe of veras.  Ek dink ook nie GOD wat die mens so liefhet, sal ‘n probleem daarmee hê as ek my liggaam vir orgaanskenking of vir navorsing gee nie.

Wat my veral ontstel het is die volgende stelling wat die man gemaak het:

As iemand uit vrye wil verkies om sy liggaam na afsterwe te laat verbrand,

kan God se Naam daar nie by betrek word nie.

As dit nie so skokkend was nie, sê ek weer sou ‘n mens daaroor kon lag, maar juis die stelling van die man het my gedwing om te reageer.

Wat dan nou van al die kinders van God wat, byvoorbeeld  in geboue of motors verkool word?

Wat van al die vroeë Christene wat deur die Romeinse keisers verbrand is?

Hy gebruik die woorde “vrye wil” ek glo dit is juis om van die tameletjie af weg te kom.

Daar is egter nog ‘n tameletjie wat hy seker nie raakgesien het nie en dit is die volgende: 

Dit wil vir my voorkom of die man ‘n probleem met ‘as’ het.

Alhoewel ek nie die verheerlikte liggaam sien soos sommige mense nie,  sal dit nie vir my GOD ‘n probleem wees, of dit ‘as’ of ‘stof’ is nie.

Wat ek nou sê, sê ek met die tong in die kies.  Of soos my groot held Paulus dit sou stel;  Nou praat ek soos ‘n dwaas.

As dit ‘n probleem sou wees, kan jy dink hoe groot die probleem sou wees met al die vroeë Christene wat vir die wilde diere gevoer was.  As iemand ‘n probleem het met ‘as’, dan is die probleem nog veel groter met leeumis en ander diere wat al deur die eeue mense verskeur en opgevreet het.  Om nie eens te praat van al die mense wat op see vergaan en deur visse opgevreet en uitgeskei is en deur die water van die see opgelos is nie.

Kom mense, laat ons tog nie kleinlik word oor so ‘n belangrike saak nie.  Stof, as of mis of wat ook al – GOD sal nie ‘n probleem met die opwekking van jou verheerlikte liggaam hê nie.

So ek dink nie verassing is vir GOD ‘n probleem nie.  Verassing sal jou nie uit die Hemel hou nie.

Ek gaan nie my siening oor die verheerlikte liggaam nou hier verduidelik nie, maar ek wil darem net ook ‘n paar verse uit GOD se Woord kwoteer:

1 Kor 15:40  En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as die aardse.

1 Kor 15:44  ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek

Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.

1 Kor 15:49-50

49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Ek wil nou iets sê en ek wys die vinger na niemand nie.  Ek sê dit net sodat ons moet weet dat ons maar altyd baie versigtig moet wees voordat ons sommer ‘n stelling wat iemand maak aanvaar, of agter enige een aangaan wat sê hy of sy is van die Here

Jesus sê:

Matteus 7 :21-23

21“Dit is ook nie almal wat My ‘Here, Here, noem wat in God se nuwe ryk sal ingaan nie, maar dit is iemand wat doen wat my Vader in die hemel wil hê, wat daar sal ingaan.

22Op die dag van die oordeel sal daar baie mense wees wat na My sal roep en vra: ‘Here, Here, is dit dan nie u boodskap wat ons vir die mense gebring het nie? Is dit nie u naam wat ons genoem het om duiwelse geeste uit mense uit te drywe nie? Is dit nie deur u naam te noem dat ons baie wonderwerke gedoen het nie?’

23Dan sal Ek vir hulle reguit sê: ‘Ek het nooit met julle iets te doen gehad nie. Gee pad van My af, want julle was nooit aan God gehoorsaam nie!’ ” 

Iemand het eenmaal ‘n baie mooi stelling gemaak.

Die stelling is in Engels maar ek gaan poog om dit in Afrikaans vir jou te kwoteer:

“Jy kan nie praat waarvan jy nie weet nie. 

Jy kan nie iets meedeel wat jy nie self voel nie. 

Jy kan nie oordra wat jy nie self ervaar het nie. 

Jy kan nie gee wat jy nie self het nie.

Om te weet, om te voel, om te ervaar en om te gee, moet dit eers deel van jou wees.”

Ek dink nie daar is iets waarop dit meer van toepassing is, as van my kindskap van God en daarmee saam kennis van Sy kosbare Woord nie.

Luister my vriend/vriendin en hiermee sluit ek af:

Die manier van hoe daar van jou liggaam na jou uittrede uit hierdie lewe ontslae geraak gaan word, of dan hoe jy begrawe word, het hoegenaamd geen, om dit so te stel, geen sê in waar jy die ewigheid gaan deurbring nie.

Daar is net een bepalende faktor wanneer ek hierdie lewe uittree, wat gaan bepaal waar ek of jy die ewigheid gaan deurbring!  En dit is:

Gaan jy aan die anderkant van die graf met JESUS arriveer?

Met ander woorde; Het jy, in hierdie lewe terwyl jy die kans gehad het,  vir Jesus Christus aangeneem as Jou Verlosser en Saligmaker?

Met ander woorde, Woon Jesus se Heilige Gees in jou?

GAL 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

As jy dit nié gedoen het nie, maak dit werklik nie saak hoe wonderlik en op watter wyse jy begrawe is nie, jy gaan soos die ryk man van wie Jesus ons vertel het, jou oë in die hel oopmaak:

LUKAS 16:23-26 

23 En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.

24  En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.

25  Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.

26  En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.

JHN 3:36  Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.

JHN 3:16-18 

16 Want so lief het God die wêreld (mensdom) gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het,  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

17  Want God het sy Seun (Jesus Christus) in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Daarom – dit is goed om te beplan hoe jy begrawe wil word, maar dit is lewensbelangrik, ja, ewige-lewensbelangrik, dat jy seker maak, jy arriveer nie aan die anderkant van jou graf sonder Jesus nie.

Groete

Sakkie

E-pos:            bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:     www.sakkieparsons.co.za

Sel:                 083 457 6669

Judas 1:24-25Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,

     aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.