IS ‘N OPVOERING VAN JESUS SE KRUISIGING VERKEERD?

IS ‘N OPVOERING OOR JESUS SE KRUISIGING VERKEERD?

So sal elkeen van ons dan vir homself aan GOD rekenskap gee

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende:

“Ek voel dat dit is nie reg om die kruisiging op te voer nie. My kerk – die Baptiste – is nogals lief om sekere gebeurtenisse uit die Bybel op te voer. Het jy enige teenkanting in dit?”

Ek deel graag met jou my antwoord aan die persoon.

Ekself is nou nie ‘n Baptis nie.  Nie omdat ek nié een wil wees nie, want persoonlik dink ek die Baptiste in die algemeen het van die beste lering wat daar vir ons is, maar gewoon omdat ek nie gebind wil wees in my beantwoording op mense se vrae as gevolg van die denominasie se leer waartoe ek sou behoort nie.

Ek sien hoe jy voel – maar gaan dink net ‘n bietjie hieroor:

Iemand berei ‘n preek voor en preek oor die kruisiging en hoe Jesus mishandel was en toe dood is ens.

Iemand anders skryf ‘n lied oor dieselfde  onderwerp en sing oor hoe Jesus mishandel was en toe gesterf het ens.

Iemand anders hou ‘n opvoering en wys aan hoe Jesus mishandel is en toe gekruisig is en hoe Hy toe gesterf het ens.

Iemand anders neem die Bybel en lees vir mense voor hoe Jesus mishandel is en hoe Hy gesterf het ens.

Wie het die reg om te doen wat hy doen en hoekom?

Wie het nie die reg om te doen wat hy doen nie en hoekom?

Ekself is nou nie mal oor opvoerings nie maar dit is seker omdat ek nie kan sien wat daar gebeur nie. ‘n Dowe persoon byvoorbeeld, sal dalk weer ‘n ander siening hê.

Dit is maar net twee ooglopende voorbeelde van waarom daar ‘n verskeidenheid maniere is om die kruisiging van Jesus te herdenk.

Ons, die mens, is so verskillend van mekaar en het so ‘n geweldige groot diverse uitkyk op die lewe. Om maar net nog ‘n voorbeeld te noem: Daar is mense wat byvoorbeeld nie van preke hou nie, maar hulle is weer mal oor geestelike sang en so kan ek aangaan.

My groot held Paulus skryf by geleentheid in hierdie verband soos volg oor mense en hulle verskillende redes waarom hulle die Evangelie verkondig. Hier dan is hoe hy dit op daardie tyd in sy eie lewe ervaar het en uiteindelik is dit ook maar dieselfde as wat ek nou met jou gedeel het. Jy kan maar sê, dit is in baie opsigte dieselfde “gravy,” net ‘n ander sousie. Eers skryf hy:

FIL 1:15-17 

15 “Sommige preek Christus wel ook uit afguns en twis, maar ander ook uit welwillendheid:

16  die eerste verkondig Christus uit naywer, nie met suiwer bedoelinge nie, met die mening om aan my boeie verdrukking toe te voeg;

17maar die ander uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is tot die verdediging van die evangelie.”

Dan skryf hy die volgende en dit is vir my in my mensheid soms ook maar moeilik om amen op hierdie skrywe van hom te sê, veral as ek sien met watter soort foefies mense soms vorendag kom en die Evangelie misbruik, om soms niks anders te probeer bereik as om hulle eie persoon en talente te adverteer nie.

Hy skryf:

FIL 1:18  “Maar wat maak dit? In alle geval, op allerlei wyse, of dit onder ‘n skyn of in waarheid is, word Christus verkondig; en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.”

As iemand egter ‘n valse Evangelie verkondig en dan voorgee dat dit die ware Evangelie van Jesus is, sal ek verseker daarteen praat.

Uiteindelik onthou ek ook dat almal, ook ons – Sy kinders – voor Sy regterstoel gaan verskyn en dan werk ek hard daaraan om liewer vir mense met wie se manier van bedien en/of getuig ek nie saamstem nie, sowel as vir myself te bid, want ek lees:

Rom 14:10-14 

10 “Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.

11  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.

12  So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.

13  Laat ons dan mekaar nie meer oordeel nie, maar besluit dít liewer, om nie die broeder ‘n hindernis of struikelblok in die weg te lê nie.

14  Ek weet en is oortuig in die Here Jesus dat niks op sigself onrein is nie, maar hy wat reken dat iets onrein is, vir hom is dit onrein.”

So, ek bid maar oor al hierdie dinge en probeer my uiterste om die Evangelie van my kant af so suiwer as moontlik te verkondig, omdat ek onthou dat daar ook geskryf is:

1KOR 3:11-15 

11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.

12  En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—

13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.

14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;

15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”

Groete

Sakkie

E-pos:            bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:   www.sakkieparsons.co.za

Sel:               083 457 6669

Judas 1:24-25Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,

     aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.