DRA DAN VRUGTE WAT BY DIE BEKERING PAS

DRA DAN VRUGTE WAT BY DIE BEKERING PAS

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my ‘n brief en in die brief kom ek agter dat die persoon eintlik ‘n groot probleem met mense het wat hulself Christene noem, maar net by die kerk en ander Christelike byeenkomste en tussen ander Christene werklik soos ‘n Christen optree. In die week, of wanneer hulle nie tussen ander Christene is nie, tree hulle op soos die wêreld en soms selfs nog erger.

Hier is dan hoe ek na hierdie groot probleem in die Christendom kyk:

Die eerste wat ek dan wil noem, is dat hierdie mense oor wie die persoon aan my skryf, natuurlik nie ‘n nuwe verskynsel is nie.

Jesus het al met hulle te doen gekry nog voor Hy Golgota toe gestap het  en hulle was van meet af van Sy grootste teenstanders. Jesus het so sterk teenoor hierdie soort mense en hulle optrede gevoel, dat Hyself hulle met slange vergelyk het.

Eers sê Jesus by geleentheid vir mense wat so lewe die volgende – en ek glo – dit geld natuurlik vir almal wat in daardie kategorie val:

Mat 23:25-28 

25 “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.

26  Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.

27  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.

28  So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.”

Dan sê Jesus – en hoe verskriklik armsalig is ek as Jesus na my kyk en Hy moet van my sê:

Mat 23:33  “Slange, addergeslag, hoe sal julle (jy) die oordeel van die hel ontvlug?”

Dit is natuurlik ook as gevolg van sulke optrede van mense wat bely dat hulle Christene is, dat die wêreld in ‘n groot mate die Christene nie meer ernstig opneem nie.

Ons sal ook, na my mening, ‘n fout maak as ons sou dink dat dit ‘n klein persentasie sogenaamde Christene is wat so lewe. Daar is ‘n groot, baie groot persentasie Christene wat in ‘n mindere of meerdere mate so leef. As die meeste van ons tog maar net wil besef dat daar ‘n wêreld wye verskil is tussen, “godsdienstig vroom” en “dissipel van Jesus wees” is. Daarom het Jesus dan ook by geleentheid gesê:

MAT 7:16-20

16 “Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ‘n mens ‘n boom aan sy vrugte kan uitken.  ‘n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosseaf, of vye van dissels nie.

17 ‘n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ‘n siek boom slegte vrugte.

18 ‘n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra en ‘n siek boom goeie vrugte nie.

19 Elke  boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

20 So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.”

Vroom praatjies tel nie in God se koninkryk nie

MAT 7:21 “Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie.  Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader     gehoorsaam was.”

Van watter vrugte praat Jesus hier, wat jy en ek moet dra? Wel vir my is dit baie duidelik.  Die vrugte van die Heilige Gees, die Heiliege Gees wie in woon jou en my woon natuurlik.

Nou hoe lyk hierdie vrugte wat, om dit so te stel, as’t ware aan jou en my sigbaar moet hang, as die Heilige Gees van ons Here in ons Woon? Dit lyk so:

Gal 5:22  “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

Sjoe!

Sal dit nou wonderlik wees as ‘n toeris wat Suid-Afrika wil besoek en sy/hy gaan  Google:  “What is a South African like?” En sy/hy sal lees: “A South African is loving, joyful, peaceful , patient and kind. Also full of goodness and faithfulness.  As well as gentle and self-controlled.” Gal 5:22

Dit kan gebeur maar dan moet ons, die Christene, die vrugte dra wat by die bekering pas en ook ons kinders so opvoed – om te lewe soos wat die Woord sê dat ons moet leef.

Klink dit vir jou te vergesog, dat iemand ooit kan Google: “What is a South African like?” En sy/hy sal lees: “A South African is, loving, joyful, peaceful , patient and kind. Also full of goodness and faithfulness.  As well as gentle and self-controlled.”

Wel miskien kan jy dalk reg wees maar dit is binne jou en my bereik, as ons werklik daaraan werk, dat as iemand dalk sou vra: “What is (sit hier jou naam in) like?” dat die persoon dan as antwoord sal kry: “(sit hier jou naam in) is, loving, joyful, peaceful, patient and kind. Also full of goodness and faithfulness.  As well as gentle and self-controlled.” GAL 5:22 

Dit kán gebeur, want soos jy gesien het, ons Here verwag dit van ons en Hy sal nooit van ons iets verwag wat nie volgens Hom haalbaar is nie.

Een ding wat jy en ek verseker nie moet doen nie is om slegte gevoelens teenoor hierdie mense, wat Christen-wees so sleg aan die wêreld vertoon, in ons harte te koester. Want dan laat ons toe dat hulle slegte optrede ons besoedel. Bid liewer vir hulle en wys hulle deur jou voorbeeld wat dit beteken om Christen te wees.

Want jy sien – Om ‘n wrok, haat of dan slegte gevoelens as jy wil, teen wie ook al te koester, is soos wat ek al van tevore gesê het – dis soos om gif te drink, in die hoop dat daardie ander persoon sal doodgaan.  Jy vernietig uiteindelik jouself.

So vriend/vriendin –

Mat 3:8  Dra dan vrugte wat by die bekering pas.”

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.