WEES OP JOU HOEDE VIR DIE VERSPREIDING VAN VREES EN ALLERLEI VALSHEDE

WEES OP JOU HOEDE VIR DIE VERSPREIDING VAN VREES EN ALLERLEI VALSHEDE

Sakkie Parsons

Dit is so tragies maar so hartseer waar, dit wat ek nou gaan sê:

Elke nou en dan skrik sommige Christene hulle amper uit hulle geloof uit.  Dit is ook ‘n baie wankelrige geloof, as hulle vir ‘die dier’ vreesbevange raak.

Soos ek vir ‘n persoon sê.

Elke nou en dan skrik hulle hulleself en laat ek maar liewer sê, hulleself boeglam – maar eintlik skrik hulle, hulleself uit hulle swak geloof uit vir ‘die dier’ wat aan kom is.

Terwyl hulle net moet sorg, dat hulle saak met ons Here reg is en met heerlike opgewondenheid na die dinge kyk, terwyl hulle soveel ander mense as moontlik behoort te help om ook hulle saak reg te maak en Jesus Christus aan te neem as ons enigste Redder en Saligmaker.

Want as my saak met ons Here reg is, hoef ek mos nie die dier te vrees nie!

Ek gaan nie meer hier wees as, soos ek dit altyd stel, die hel letterlik hier op die aarde gaan losbreek nie!

So, waarom bevrees wees vir al die dinge wat daardie tyd gaan losbreek?

Laat ons nou terwyl ons die tekens van die tye sien, opgewonde wees en met nuwe ywer siele vir die koninkryk van ons Here help versamel.

Laat ons nie in die vyand se strik trap en vrees in ons harte toelaat wat deur valse boodskappe en profesieë aangestuur en verkondig word asof dit van ons Here is nie.

Ek het simpatie as die vrees kom by die mense wat totaal onkundig is en by onvolwassenheid in die Gees, maar ek het geen maar absoluut geen simpatie met mense wat valshede kwytraak en dan subtiel of sommer blatant voorgee, dat dit van ons Here af kom nie.

Hulle verkondig valshede, met ander woorde leuens en ‘n leuen, maak nie saak hoe wit jy hom wil verf nie, bly iets wat sy oorsprong, volgens Jesus, by satan self het:

JHN 8:44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Ja, ek het simpatie met die onkundiges en swakkes in die Gees, maar verseker nie met die wat voorgee, dat hulle gesante van ons Here is nie – en dan deur hulle belaglike valshede, ‘n bespotting van Jesus se Evangelie maak.

Hulle wat kom soos ‘engele van die lig’:

2 KOR 11:14-15

14 Geen wonder nie! Die satan self gee immers voor dat hy ‘n engel van die lig is.

15 Daarom is dit ook niks besonders dat sy diensknegte hulleself voordoen as dienaars van geregtigheid nie.  Hulle uiteinde sal wees wat hulle volgens hulle dade verdien.

Jesus laat ons ook duidelik verstaan, dat ook Hy geen, absoluut geen simpatie met hulle het nie:

MAT 7:22  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer (en die mense so laat verstaan, ons kry dit van U af nie) en in u Naam duiwels uitgedrywe (en die mense so laat verstaan, ons kry dit van U af nie) en in u Naam baie kragte gedoen nie? (en die mense so laat verstaan, ons kry dit van U af nie)

MAT 7:23  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Daarom pleit ek gedurig by mense:

Moet asseblief nie in hierdie tyd veral waar tegnologie die hele aarde as te ware in een groot dorp verander het, alles wat aan jou gestuur word sommer versprei nie.

Onthou, dat ons Here leuentaal as te ware uitsonder as een van die dinge wat Hy, om dit so te stel en met groot respek gesê, wat Hy met ‘n passie haat.

Lees gou hier:

SPREUKE 6:16-19 

16 Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ‘n gruwel:

17  trotse oë, ‘n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,

18  ‘n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,

19  een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.

Ek het jou nou gewys, dat in dit wat jy nou gelees het, lieg, of dan leuens twee keer genoem word.

Jy kan sê, dat ons Here haat hierdie dinge maar eintlik, haat Hy leuentaal en dit maak nie saak hoe wit jy die verf nie, Hy haat dit, om dit so te stel sommer dubbel soveel as die ander.

So, pleit ek by al my lesers en almal wie my ‘n kans gee om met hulle hieroor te praat.

Dink tog baie, baie mooi voor jy iets aanstuur wat vir jou gestuur is.

In hierdie tyd waar Jesus se Evangelie so verdag gemaak word.  Moet asseblief nie deel van diegene wees wat ons Here se Evangelie ‘n bespotting maak, met allerlei valse gerigte  en profesieë nie.

As jy nie 100% seker is of dit die waarheid is nie, moet dit asseblief nie versprei, voor jy dit met iemand van geestelike integriteit bevestig het, dat jy dit ter bevordering van Jesus se Evangelie kan uitstuur nie.

Daar is vandag soveel wolwe in skaapsklere wat deur satan gebruik word om wolf-wolf te skreeu. 

Laat jy en ek sorg, dat ons saak met ons Here reg is. 

Met ander woorde, kom ons sorg dat ons lampe altyd vol is. 

Want glo vir my, dan sal niemand nodig hê om vir jou te sê, dat Jesus oppad is nie.

Jesus se Heilige Gees wat in jou woon, sal sorg dat jy hoor en weet as die geroep kom:

MAT 25:6  … Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!

Luister:

1THS 4:16  Want die Here self sal van die hemel neerdaal met n geroep, met die stem van n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.

1THS 4:17  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.

1THS 4:18  Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

Ek vra weer met Jesusliefde:  Laat ons nou terwyl ons die tekens van die tye sien, opgewonde wees en met nuwe ywer siele vir die koninkryk van ons Here help versamel.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.