LAAT DIE MENSE ONS VRUGTE VAN BEKERING PROE

LAAT DIE MENSE ONS VRUGTE VAN BEKERING PROE

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my van wie word daar in SAG 11:17 gepraat?

Lees net gou weer dit wat daar geskryf staan:

SAG 11:17 “So ’n nikswerd herder wat sy trop verlaat, sal verseker veroordeel word!

Mag die swaard sy arm afkap en sy regteroog deurboor!

Sy arm sal onbruikbaar word en sy regteroog heeltemal blind!”

Nou, van wie word hier gepraat, as ons lees:

SAG 11:17  So ’n nikswerd herder wat sy trop verlaat, …

Daar is ‘n verklaring deur baie teoloë wat meer direk op die Jode en die toekoms van toepassing is en ons lees volgens hierdie teoloë onder andere van hierdie herder die volgende:

DAN 9:27  Hy sal met baie ‘n ooreenkoms sluit vir ‘n tydperk van een eenheid van sewe.  Vir ‘n halwe eenheid sal hy die praktyk van die offer ophef.  Hy sal ‘n veragtelike ding oprig wat die tempel verontreinig totdat die tyd aanbreek dat dit wat oor hom bepaal is, oor hom sal losbars.

Daar is nog ‘n paar plekke waar daar volgens hierdie siening van hierdie bose herder gepraat word.

Of die mense wat die Woord hier so verstaan reg is of nie gaan ek nie nou hier spekuleer nie.

Ek deel egter met jou, dit wat na my mening, vir nou vir jou en my relevant is.

Nou goed –

Hierdie SAG 11:17 So ’n nikswerd herder …“ kry jy natuurlik oral.

Mense wat baie maklik in die naam van die Evangelie van Christus sommer ‘n klomp drek verkondig en dit dan die Evangelie van Christus noem.

Dan praat ek nie eens van daardie sogenaamde herders en of evangeliste,wat soms soos narre of toneelspelers optree nie.  Selfs tot by die nagemaakte lag en huil. 

Asook die wat so lief is om te skreeu en nee, ek weet nie hoekom sommige van hulle dink hulle gehoor het gehoorprobleme nie.

Ek sê altyd dat as die boodskapper groter is as die boodskap, het die boodskapper gefaal en moet daar vir my rooi ligte aangaan.

‘n Maatstaf vir my persoonlik is:

As ek na so en so se diens gaan om so en so te hoor preek, en ek gaan daar weg en so en so was meer indrukwekkend as dit wat hy in die naam van die Evangelie van Christus verkondig het, is daar verseker ‘n probleem.  Jy kan dit selfs letterlik ‘n helse probleem noem.

Luister wat sê Jesus by geleentheid  vir hierdie vertoon predikers en die wat ‘n valse evangelie verkondig:

LUK 11:42-52

42 “Maar ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle is nougeset om ‘n tiende van selfs die kleinste deel van julle inkomste te gee, maar julle vergeet geheel en al van regverdigheid en die liefde vir God. Ja, julle behoort tiendes te gee, maar julle moet nie die belangriker dinge ongedaan laat nie.

43 “Ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle hou van die ereplekke in die sinagoges en om eerbiedig gegroet te word wanneer julle deur die markpleine loop!

44 Ja, ellende wag vir julle! Want julle is soos versteekte grafte in die veld. Mense loop daaroor sonder om te weet van die korrupsie waaroor hulle loop.”

45 “Leermeester,” sê ‘n wetskenner, “U beledig ons ook met wat U nou gesê het.”

46 “Ja,” het Jesus geantwoord, “ellende wag ook vir julle, wetskenners! Want julle belas mense met onmoontlike godsdienstige eise, en julle lig nooit ‘n vinger om die las te verlig nie.

47 “Ellende wag vir julle! Want julle bou grafte vir die profete wat julle voorouers lank gelede vermoor het.

48 Moordenaars!  Julle stem saam met julle voorouers dat wat hulle gedoen het, reg is.  Julle sou dieselfde gedoen het.

49 “Dít is wat God in sy wysheid oor julle gesê het: ‘Ek sal profete en apostels na hulle toe stuur, en hulle sal sommige doodmaak en ander vervolg.’

50 “En julle van hierdie geslag sal verantwoordelik gehou word vir al God se profete van die skepping van die wêreld af –

51 van die moord van Abel af tot die moord van Sagaria wat tussen die altaar en die heiligdom vermoor is. Ja, dit sal sekerlik teen julle gehou word.

52 “Ellende wag vir julle, wetskenners! Want julle verberg die sleutel tot kennis vir die mense. Julle gaan self nie die koninkryk binne nie, en julle verhinder ander om in te gaan.”

Weet jy uiteindelik kan dit alles wat jy nou gelees het ook op jou en my as individue van toepassing gemaak word, as ons verkondig, dat ons Christene is maar ons net Christene is, in dít wat vir ons gerieflik is en waar dit vir ons gerieflik is.

Ons behoort só as denominasie, gemeente, herder en of gemeentelid te lewe, dat die mense ons ernstig kan opneem, deur die vrugte te dra wat by die bekering pas.

Jesus stel dit by geleentheid so:

MAT 7:17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.

Hoe lyk die vrugte waarvan Jesus praat, wat by jou en my gevind behoort te word?

GAL 5:22 Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,

GAL 5:23 sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ‘n wet nie.

As Christene, het jy en ek die toerusting.  Kom ons gebruik dit.

Met ander woorde:

“If we believe it, let us live it.”

ROM 6:22  Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe.

So, laat die mense daardie heerlike vrugte wat jy het, próé.

Groete

Sakkie

E-pos:            bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:   www.sakkieparsons.co.za

Sel:                083 457 6669

Judas 1:24-25Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,

     aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.