KAN EK TEEN DIE DAK VAS BID?

gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.

KAN EK TEEN DIE DAK VAS BID?

Sakkie Parsons

Iemand het met my gepraat en gesê, dat dit voel vir haar as sy bid, bid sy teen die dak vas.

Dit is natuurlik ‘n leun uit die hel uit.  Jy sien al probeer jy ook, kan jy nie eens aan iets dink wat God aanbetref, net tot by die dak gaan nie.

Ek gaan in als wat ek nou sê my net tot twee gedeeltes in die Bybel bepaal.

Ek het gesê dit is onmoontlik vir my om eens aan iets te dink wat God nié van weet nie, wat nog te sê direk met God praat.

Psalm 139 vers 2:

2U weet van elke beweging wat ek maak

en U ken my gedagtes deur en deur.

Hy ken my gedagtes deur en deur.  Met ander woorde, Hy weet álles wat in my gedagtes aangaan, alles wat ek dink.  Kyk net hoe goed ken God my gedagtes:

Psalm 139 vers 4:

4Here, U weet selfs wat ek gaan sê

nog voordat ek my mond oopmaak.

God weet wat ek gaan sê nog voordat ek dit wou sê.  Selfs voordat ek self daaraan gedink het om dit te sê.

Soos vir Dawid, is dit vir my iets te wonderlik vir my verstand.

Psalm 139 vers 6:

6Ek kan nie begryp hoe U alles weet nie.

Dit is vir my iets wonderliks, vêr bokant my verstand.

Nie net luister Hy na my nie, Hy kóm na my toe, om by my te wees, as ek met Hom wil praat en níks kan Hom keer nie.  Die minste van alles ‘n dak of iets wat deur ‘n mens gemaak is.

Psalm 139 vers 8 tot 12: 

8Al sou ek hemel toe kon gaan—U is daar.

Al sou ek in die doderyk gaan bly—daar is U ook.

9Al sou ek so vinnig soos die lig kon vlieg

van die ooste af tot by die verste punt in die weste,

10dan sou U daar ook agter my aangaan

en U sou my lewe daar ook beheer.

11Ek sou kon wens ek was in duisternis

en alles piknagdonker rondom my,

12maar die donker is vir U nie donker nie

en die nag is helder soos die dag.

Vir U is die donkerte net soos die lig.

Jy sien, die duiwel wil jou gebed kragteloos maak – en die maklikste manier vir hom om jou gebed kragteloos te maak, is om jou te laat twyfel in die krag van jou gebed.  So, as hy jou kan laat dink dat jy teen die dak vas bid, het hy, jy kan maar sê, ‘n “bullseye gescore.”

Jy sien, hy weet dat jy moet glo voordat daar iets kan gebeur.  Hy weet immers dat daar geskryf staan:

Hebreërs 11:1-3

Wat beteken dit om op God te vertrou? Dit beteken om seker te wees dat die dinge waarna ons uitsien, wel sal gebeur. Dit beteken ook om oortuig te wees dat die dinge wat ons nie kan sien nie, wel daar is. 2God praat in die Skrif van mense uit die ou tyd wat so op Hom vertrou het.

3As ons in God glo, dan kan ons verstaan dat Hy die wêreld gemaak het deur net ’n woord te praat. Alles wat ons nou sien, is gemaak uit dinge wat nie gesien word nie.

Die ou Vertaling stel die gedeelte in Hebreërs so:

HEB 11:1  Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n

bewys van die dinge wat ons nie sien nie.

HEB 11:2  Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang.

     HEB 11:3  Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.

So, volgende keer as hy vir jou sê dat jy bid teen die dak vas, jaag hom weg van jou af in die Naam van Jesus Christus. 

Dan praat jy heerlik met jou Vader en wees verseker Hy luister met volle aandag na elke woord wat jy sê.