10KM BROOKLYN MALL ROAD RACE

Hier volg nou ‘n baie kort getuienis oor die 10 kilometer wedloop van die 7de September 2024.

Ek deel soos altyd vir die lekker en ook die groot dankbaarheid teenoor ons Here, dat Hy my toelaat en deur die wonderlike gids wat hy in my lewe gestuur het, so ‘n ietsie oor die

10 kilometer wedloop wat ek die wonderlike genade van ons Here gehad het om op 7 September 2024 kon gedoen het.

My gids Marix en haar man Hennie het vir my, Pedro my gidshond, en Lynette, wie my altyd by wedlope bystaan en met alles voor en na die wedloop help, Saterdagoggend by my woonstel kom optel en ons almal, Pedro inkluis, was in ‘n heerlike gemoedstoestand.

Toe ons wegspring, was dit natuurlik vir Marix, seker maar baie senutergend, so met meer as ‘n 1,000 mense om ons waar sy my moes lei.

Almal wil mos maar so gou as moontlik oor die weg springstreep en aan die gang kom en daar was maar teen my gestamp en voor ons ingedruk.  Ek weet van drie keer dat ons moes gaan staan het sodat die mense wat voor ons indruk maar liewer kon gaan.

Ek noem dit maar net om te wys, dat dit vir my gids nou nie juis maanskyn en rose is om ‘n blinde te lei in so ‘n wedloop nie en dan moet sy nog dink aan 10 kilometer wat voorlê.

Sy het my egter met die mooiste gesindheid en grootste geduld deur daardie situasie en verder op die pad en deur al die waterpunt, sonder enige probleme gelei.

Toe ons die laaste bult uit is, sonder dat ons enigsins, soos ek dit beleef het, sonder om een keer ons pas te verstadig en ons oor die kruin gaan en ek kon voel, dat ons nou die afdraande begin, was dit vir my net so wonderlik om te mag lewe en die geleentheid het om deur die liefdevolle genade van ons Here so iets te mag doen.

Ek sluit dan hierdie kort dankbare getuienis, oor wat ons Here my deur sy liefdevolle genade toegelaat het om te doen, met die volgende uit Sy kosbare Woord en ek hoop tog so, dat as jy nog nie onder die groep mense is waarop hierdie gedeelte van toepassing is nie, jy dadelik werk daarvan sal maak, dat dit ook op jou lewe van toepassing gemaak kan word:

TITUS 3:3-7

3  Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.

4  Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het

5  nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees

6  wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser;

7  sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.

JHN 1:16  En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.

Ten slote van my kant af aan jou wie nou hier lees:

HAN 20:32 “En nou vertrou ek julle aan God toe en aan die boodskap van die genade wat Hy aan mense bewys. Dié boodskap is in staat om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfporsie belowe het.

Groete,

Sakkie.