WIE IS SATAN, KAN HY ONS GEDAGTES LEES EN BESTAAN HY WERKLIK?
DEEL 3
Sakkie Parsons
Hierdie is die laaste skrywe in hierdie kort reeks oor: Wie is satan, kan hy ons gedagtes lees en bestaan hy werklik.
Ek deel dan nou met jou oor die, na my mening Godslasterlike vraag, wat sommige mense vra naamlik, bestaan satan werklik?
Ek kon nou ‘n enorme hoeveelheid teksgedeeltes gekwoteer het om te wys dat die Woord dit duidelik stel dat satan ‘n werklikheid is, maar ek gaan met jou een gedeelte uit die Woord deel om aan te toon hoe satan dit nou al regkry dat godsdienstige mense onder die vaandel van soek na die waarheid oor satan, teen ons Here laster.
Ek deel met jou die volgende uit die Woord en dan moet jy maar self besluit of ek reg is as ek sê dat satan dit nou al regkry dat mense in hierdie laat stadium, voor ons Here se koms, in die naam van godsdiens teen God Almagtig laster en omdat hulle hulle nie deur die Heilige Gees laat lei nie, hulle nie eens besef wat ‘n verskriklike sonde hulle besig is om te doen nie.
Lees eers net hier:
MAT 4:1-11
1 “Daarop het die Gees Jesus die woestyn ingelei om deur die duiwel op die proef gestel te word.
2 Nadat Hy vir 40 dae en 40 nagte gevas het, het Hy naderhand baie honger begin word.
3 Toe kom die duiwel, die groot versoeker, na Hom toe en sê vir Hom: “Kyk, as jy dan die Seun van God is, beveel hierdie klippe om brode te word.”
4 Maar Jesus het hom geantwoord: “Nee! Daar staan in die Skrif geskryf:
“’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond.”
5 Daarna neem die duiwel Hom Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste spits van die tempel staan.
6 Toe sê hy (die duiwel) vir Hom: “As jy regtig die Seun van God is, spring dan hier af. Daar staan mos in die Skrif geskryf: ‘God sal aan Sy engele opdrag
gee om jou te beskerm. En hulle sal jou soos goud oppas sodat jy nie dalk jou voet teen ‘n klip stamp nie.’
7 Jesus het hom geantwoord: “Daar staan ook geskrywe: ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.’
8 Vervolgens neem die duiwel Hom na die top van ‘n baie hoë berg en wys vir Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en praal.
9 Daarop sê hy (die duiwel) vir Jesus: “Dit alles sal ek vir jou gee. Al wat Jy moet doen, is om neer te kniel en my te aanbid.”
10 Toe sê Jesus vir hom: “Trap, satan! Daar staan in die Skrif: ‘Jy moet die Here jou God aanbid en Hom alleen vereer.’
11 Daarna het die duiwel die aftog geblaas. En daar het engele na Hom toe gekom en Hom versorg.”
Toe Jesus in die woestyn deur satan versoek is, was Hy volgens die Woord alleen daar. Ons lees:
MAT 4:1 “Daarop het die Gees Jesus (alleen) die woestyn ingelei om deur die duiwel op die proef gestel te word.”
Dan volg wat daar in die woestyn gebeur het. Die enigste wyse waarop Matteus byvoorbeeld hierdie inligting kon bekom het, is by Jesus self.
Wat ek nou sê, sê ek met die grootste respek teenoor my God en Verlosser Jesus Christus en gelukkig ken Hy my hart. Dit wat jy nou gelees het, laat almal wat wonder oor die bestaan van satan, met twee opsies:
Óf daar is ‘n satan wat byvoorbeeld vir Jesus in die woestyn versoek het; óf, Jesus het gelieg toe Hy vertel het wat met Hom gebeur het. Want Jesus moes hierdie gebeure met byvoorbeeld Matteus gedeel het, anders kon Matteus nie hieroor geskryf het nie.
Ek het dit so sterk gestel sodat jy die volle omvang van die optrede van mense wat wil ondersoek instel of daar ‘n satan is, kan insien.
Wat doen jy, as jy net wonder of daar ‘n satan is – Jy wonder of God Almagtig nie by geleentheid gelieg het oor iets wat Hy vertel het nie. Want wie is hierdie Jesus wat byvoorbeeld vertel het wat bo-op die tempel se dak gebeur het?
HY is God Almagtig wat mens geword het.
JOH 1:1 “Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God.”
JOH 1:14 “En die Woord (die Woord wie God is) het mens geword en by ons kom woon. Ons het Sy heerlikheid duidelik gesien, ‘n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.”
So, van waar ek staan en kyk, as jy wil ondersoek instel of daar ‘n satan is, is om te ondersoek of Jesus, God wat mens geword het, gelieg het; en om net te suggereer dat God dalk gelieg het, in my boek, is om God te laster.
Terloops, na my mening is Jesus in die Woord ook die Een wat die meeste oor die Hel praat.
Daar is verseker ‘n satan
Daar is verseker ‘n hel.
Almal wat Jesus nié aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker nie, gaan verseker saam met satan en sy engele in die hel vir ewig gepynig word.
Dit is nie wat ek sê nie, dit is wat Jesus sê:
MAT 13:41 “Ek, die Seun van die Mens, sal my engele uitstuur. Hulle sal alles wat sonde veroorsaak en almal wat God se wet oortree uit my koninkryk verwyder
MAT 13:42 en hulle in die brandende oond gooi. Daardie mense sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.”
So – ek sluit dan hierdie kort reeks van 3 gedagtes uit die Woord aan jou af met hierdie baie goeie raad aan jou en my, uit ons Here se Heilige Woord:
1PET 5:8 “Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.
1PET 5:9 Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. …”
Groete,
Sakkie
E-pos: bediening@sakkieparsons.co.za
Webtuiste: www.sakkieparsons.co.za
Sel: 083 457 6669
Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.”
Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na: bediening@sakkieparsons.co.za
Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.
Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie. In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.
Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.
Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.
Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is. Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.