BABAS WAT WIL LEWE, WORD WETTIG VERMOOR
Sakkie Parsons
Ek het ‘n gedig gelees wat deur regter Roy Moore van Alabama in Amerika geskryf is.
Die woorde wat my laat dink het, was die volgende:
“Too soft to place a killer in a well deserved tomb,
But brave enough to kill a baby before he leaves the womb.”
Toe dink ek daaraan, dat dit maar so oor die hele wêreld gaan en in Suid-Afrika is dit ook nie anders nie.
Mense wat moor, mag lewe, maar babas wat wil lewe, word wettig vermoor.
Volgens wet, kan ons babas vermoor voordat hulle gebore is, maar moordenaars word in tronke gesit en die meeste wat nie ontsnap nie, kry na verloop van tyd parool, om weer te moor.
Dit is genoeg om ‘n mens hardop saam met Johannes te laat uitroep:
OPG 22:20 “Hy wat dit getuig, sê: ‘Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!”
In ‘n nuwer Vertaling lees hierdie gedeelte so:
OPG 22:20 “Die Een wat al hierdie dinge vir ons gesê het, sê nou weer: “Ja, dit is so, Ek kom gou!” Laat dit so wees, Here Jesus! Kom!”
Ten slotte iets waaroor jy kan dink wat ek ook in ‘n ander skrywe noem. Die mens soek na antwoorde vir vigs en baie ander dinge. Christene bid vir oplossings vir hierdie en al die ander probleme in die wêreld.
Ek wonder soms hoeveel mense, met die antwoorde wat ons Here geskep het en omdat ons daarvoor gebid het, het die mens sommer al in die moederskoot vermoor.
Terwyl jy daaroor dink kind van God, laat ek jou, met hierdie wonderlike waarheid uit die Woord wat op jou en my, Sy kinders, van toepassing is:
EFE 1:3 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,
EFE 1:4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld (toe nie jou of my ma en pa of hulle voorgeslagte en jy of ek, of al die geaborteerde babas geskape was nie) om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.”
Ek sluit hierdie skrywe aan jou af, deur jou ook net weer te wys op hoe Jesus se groot offer op Golgota, in Sy grootse groot liefdevolle genade in jou en my lewe gestalte kry.
Dit maak nie saak hoe groot, of watter beskrywende woord jy ook al wil gebruik om sonde in jou lewe te beskrywe is nie.
Lees wat sê ons Here en dit geld vir wat jy ook al in jou lewe gesondig het. Ja, al het jy selfs ‘n aborsie gehad, of was jy al in die een of ander wyse deel van ‘n aborsie wat iemand ondergaan het:
1JHN 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
Onthou nou –
Dit wat ek nou kwoteer het en dit wat ek nou gaan kwoteer, geld vir alle sonde, buiten die sonde teen die Heilige Gees:
HEB 10:17 en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede (wat hulle gedoen het) sal Ek nooit meer dink nie.
Dit geld vir elke mens wie Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker.
Nou, terwyl ek dit genoem het, wil ek jou vra:
Het jy, wie hier lees, al vir Jesus Christus aangeneem as Jou Verlosser en Saligmaker?
Onthou, as jy selfs dalk onseker is of jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, wel dan het jy Hom nog nie werklik aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker nie.
As jy nog nie vir Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie, en jy wil ook een van Sy volgelinge wees en hierdie heerlike wonderlike sekerheid hê, dat jy nou deel is van Sy familie, van wie die Woord sê:
ROM 8:28-30
28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.
29 Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters.
30 Dié wat Hy vooruit aangewys het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, aan hulle het Hy heerlikheid gegee.
Dan kan jy nou net hier waar jy sit en lees, in alle opregtheid vir ons Here sê, in die wete, dat ons Here in jou hart kan sien dat jy dit werklik bedoel:
“Here, ek weet dat ek sonder U in my lewe oppad Hel toe is en as U my nou uit hierdie lewe kom haal, ek die ewigheid in die Hel gaan deurbring.
Ek maak my hart oop vir U.
Help my om U te volg en ek die ewigheid by U sal kan deurbring.”
Nou soek jy ‘n Christen gemeente wat die hele Bybel as die onfeilbare woord van ons Here verkondig.
Woon hulle dienste by.
Reël met die herder vir verdere leiding en raak betrokke in die gemeente se bedrywighede.
Hou jou oë op Jesus, deur gereeld met ons Here in gebed te gesels en Sy Woord te bestudeer – en jy is op jou pad Hemel toe.
Groete,
Sakkie