WIE EN WAT IS JY?

WIE EN WAT IS JY?

Sakkie Parsons

Baie keer hoor ek mense sê, of aan my skryf en dan is dit iets soos:

“Ek is nikswerd.  Ek beteken niks vir myself of vir iemand anders nie.”

Ek wil nou vir jou sê en ek gaan die sonde by die naam noem.

Ek wil jou vandag vra,

Moet nie jouself en nog erger, ons Here so beledig nie.

Ons Here skep nie iets wat min of geen waarde het nie.

So, wie en wat is jy?

As jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, dan het Hy jou ‘n nuwe mens geskep waarvan die Woord sê:

2KOR 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Jy is nou ‘n kind van ons Here.  Jy het nou ons Here se DNA.

Dit maak nie saak hoe die wêreld jou sien nie, vir ons Here het jy al die familietrekke van Jesus.

Gal 3:26  Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;

Gal 3:27  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

Ek het gesê jy het ons Here se DNA – en so is dit ook.  Want ek lees:

Gal 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Moet nie dat satan mense om jou, of selfs jouself gebruik om jou te laat verstaan jy is, en of beteken niks nie.

Jy is uit die beste van die beste!  Jy is uit God.

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

Jy sê dalk:

“Ja, Sakkie dit is alles goed en wel en dit klink so mooi as jy dit so stel – maar kyk na my lewe, dit is een groot gemors.”

Dit is omdat jy nie soos ons Here die hele prentjie sien nie.

Ek het van af ongeveer my 14de jaar altyd geoefen en waar dit moontlik vir ‘n blinde persoon gewees het, aan een of ander sport deelgeneem en een ding het deur die jare uitgestaan en is vandag nog met my so.  Niks kom maklik nie, of soos ons wat uit die ou skool is nog steeds sê as ons oefen:

“No pain, no gain.”

Een van die mooi voorbeelde uit die Woord in hierdie verband is Josef.

Onthou jy?

Nie deur sy eie toedoen nie.  As gevolg van mense, nogal sy broers.

Eers word hy in ‘n put gegooi. Toe word hy as ‘n slaaf verkoop.

Toe beland hy vir ‘n lang tyd in die tronk.

Iemand wat nie die geskiedenis ken nie, sal by hierdie punt dalk uitroep:

“Dit lyk vir my na baie “pain” en geen “gain” nie!”

Kyk nou wat sê Josef wat sy oog al die tyd op ons Here gehou het:

Gen 45:4-8 

4 Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het.

5  Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.

6  Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie.

7  Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing.

8  Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God;en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland.

Weet jy, persoonlik wonder ek of selfs die groot wyse Josef, die grootsheid van die

prentjie gesien het, toe hy gesê het en toe ook eintlik na my mening geprofeteer het:

GEN 45:7 Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing.

Met “Hindsight” kan jy en ek die profesie in sy woorde sien.

Gen 45:7  … en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing.

Ja, ons kan die groter prentjie nou sien, Dat Josef sy familie van ‘n hongerdood moes

red en hulle in Egipte so ‘n groot volk sou word en dat deur die eeue baie volke

probeer het maar hulle kon nie die Israeliete van die aarde laat verdwyn het nie.  Want

ons Here het nog iets in die grootse prentjie in gedagte gehad, naamlik “‘n groot

verlossing” vir die wêreld en die tyd daarvoor moes nog kom.

Gal 4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, …

Onthou jy wat Jesus by geleentheid gesê het?

JHN 4:22  Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode.

So, kom ek en jy haal ons oë af van die “pain” af en ons onthou die “gain” wat vir ons

wag.

Ek wil jou iets wys oor hierdie “gain” wat vir jou en my wag.

Jesus sê:

JHN 14:2  In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.

JHN 14:3  En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Ons Here het die hele skepping in 6 dae geskep.  Jesus is nou al meer as 2,000 jaar

besig om vir ons plek voor te berei.  Hy sê sodra Hy klaar is met Sy voorbereidings,

kom Hy ons haal.  Kan jy nou dink hoe daardie plek wat Hy voorberei moet lyk?

Iemand sal dalk sê dat ‘n mens nie so daarna moet kyk nie.  Al wat ek hiermee wil sê

is dit:

Hoe jy ook al na Jesus se voorbereiding kyk, dit gaan geweldig wonderlik wees.

1KOR 2:9 .. Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet.

So, kom ek en jy haal ons oë af van die “pain,” naamlik die sorge en probleme en kom

ons onthou wie en wat ons is en watter “gain” wag vorentoe op ons.

As satan of iemand anders jou weer afkraak.  Of as die probleme net na teveel “Pain”

lyk.  Sê dan net vir jouself:

“Dit wat nou met my gebeur is net deel van die reis na die wonderlikheid wat my God

vir my ingedagte het.”

Volg dan Paulus se voorbeeld wat geskryf het.

FIL 3:12  Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.

Terwyl jy al die tyd onthou wie en wat jy is.

Wie en wat is jy?

1PET 2:9  Maar julle is ‘nuitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.