WEES BLY IN DAARDIE DAG

Wees bly in daardie dag

Sakkie Parsons

Ek wil vandag met ‘n vraag begin.

Was jy al in ‘n situasie waar mense jou beskinder, of net nie van jou gehou het nie en daarom ook nie mooi teenoor jou opgetree het  nie, omdat jy ‘n standpunt as gevolg van jou geloof ingeneem het waarvan hulle nie gehou het nie?

Ek vra maar omdat dit al met my gebeur het.

Ek wil nou met jou deel hoe ek in my hart sulke situasies hanteer, want as ‘n mens nie weet hoe die vurk in die hef steek nie, kan jy maklik in wanhoop verval.

Om te begin, moet ek weet dat satan nie van my optrede hou nie en verseker iets omtrent die saak gaan probeer doen.

Gewoonlik begin hy deur jou deur die mense om jou, jou te laat beswadder, want jy sien hy ken die Woord van ons Here net so goed soos baie van ons en baie beter as die meeste van ons.

Hy weet baie goed wat daar van die tong geskryf staan en as hulle jou as gevolg van jou standpunt beskinder, slaan hy dan sommer twee vlieë met eenslag, dink hy.

Hy kry dit reg om hulle te laat sondig en as jy negatief reageer, vang hy sommer vir jou ook.

Jy sien hy weet daar staan geskrywe.

JAK 1:26  As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.

JAK 3:5  Net so is die tong ook ‘n klein lid en beroem hom op groot dinge—kyk hoe ‘n groot hoop hout steek ‘n klein vuurtjie aan die brand.

JAK 3:6  Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ‘n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek.

Het jy nou gesien waar kom daardie beswaddering, of dan skinderstories oor jou vandaan?

Het jy nou gesien waarvandaan word hulle tonge met die stories oor jou aste ware gevoed?

JAK 3:6  Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ‘n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek.

Nou wil ek jou iets wys, wat my altyd so heerlik opgewonde maak, as dit met my gebeur en onthou as dit weer met jou gebeur, dit is op al ons Here se kinders van toepassing.

Jy het mos Jesus se Gees in jou en daarom, sal hulle optrede teenoor jou ook in baie opsigte wees, soos teenoor Jesus, as jy staan vir Sy beginsels.

Hulle het Hom ook beswadder en vieslike benamings gegee.

Mat 11:19  Die Seun van die mens het gekom—Hy eet en drink, en hulle sê: Dáár is ‘n mens wat ‘n vraat en ‘n wynsuiper is, ‘n vriend van tollenaars en sondaars. …

Hulle het oor Hom ook leuens vertel, om Hom in ‘n slegte lig te stel.

Mat 26:59  En die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en niks gevind nie.

Mrk 14:55  En die owerpriesters en die hele Raad het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en hulle het niks gevind nie;

Mrk 14:56  want baie het vals teen Hom getuig en die getuienisse was nie eenders nie.

As mense om jou op jou neerkyk oor wie jy is  en oor dit wat jy glo en waarvoor jy staan, wees bly en loof ons Here want, wat met jou gebeur, het ook met jou Verlosser gebeur.

Mat 13:55  Is Hy nie die seun van die timmerman nie? Is die naam van sy moeder nie Maria en dié van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie?

Mat 13:56  En sy susters, is hulle nie almal by ons nie? Waar kry Hy dan al hierdie dinge vandaan?

Mat 13:57  En hulle het aanstoot aan Hom geneem. Maar Jesus sê vir hulle: ‘n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis.

Mrk 6:4  En Jesus sê vir hulle: ‘n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en onder sy familie en in sy huis.

Mrk 6:5  En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy ‘n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het.

Jy hoef ook glad nie sleg te voel omdat jy niks met sekere mense regkry nie.

Onthou jy wat jy nou net gelees het.

Mrk 6:5  En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy ‘n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het.

Omdat hulle Jesus nie kop toe gevat het nie, of nog beter gestel.  Omdat hulle Jesus nie geglo het nie, kon Hy niks vir hulle doen nie.

Ek het vir jou gesê, dat as mense jou nie wil aanvaar, glo of verdra as gevolg van waarvoor jy staan, verkondig en uitlewe nie, jy opgewonde en bly moet wees.

Mat 5:11  Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.

Mat 5:12  Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.

Om dan op te som.

Hou aan om volgens Jesus se beginsels te lewe, want:

Luk 6:22  Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens.

Luk 6:23  Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, 

Groete,

Sakkie

g