MOET EK MY WEER LAAT DOOP WANNEER EK AFGEDWAAL EN GESONDIG EN DAN BELY HET VOOR ONS HERE?

MOET EK MY WEER LAAT DOOP WANNEER EK AFGEDWAAL EN GESONDIG EN DAN BELY HET VOOR ONS HERE?

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en gevra:

“As ek my bekeer het en my laat doop het, maar ek dwaal af en doen sonde, en ek kom na ‘n tyd weer by die Here uit en bely my sonde, moet ek my weer laat doop?”

Hier is dan hoe ek hierdie saak sien:

Ons moet verstaan dat die doop my nie red of my van sonde reinig wat ek gaan doen nie.  Daar is maar net één manier om die saligheid deelagtig te word en dit is om Jesus aan te neem as my Verlosser en Saligmaker.

JHN 3:16-19 

16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

19  En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

Deur die doop maak die kind van God in die openbaar ‘n verklaring aan die wêreld  wat net glo dit wat hulle sien:

“Die mens wat julle geken het is nou dood, my God het my ‘n nuwe mens geskep.  Ek het nou Jesus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker.”

Die Woord sê in die verband onder andere die volgende:

ROM 6:3-5 

3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?

4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

5  Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding;

Verseker hoef en behoort ek nie weer gedoop te word as ek af of dan weg gedwaal het en weer terug gekom het nie.

Die nuwe mens wat jy is kan nooit weer sterf nie.  Jou samestelling is nou heeltemal anders.

KOL 3:10  en julle jul met die nuwe mens beklee hetwat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.

Onthou jy die gelykenis van die verlore seun?

Toe jy teruggekom het, het jou Vader jou tegemoet gehardloop met oop armes en jou omhels, Hy het nie ‘n lyk gaan optel nie.

Daar is gevalle waar iemand haar/hom kan laat oor doop en ek noem hoe ek so ‘n situasie sien.

Dit is ongelukkig so, dat mense soms in oorywerigheid, mense wat nog nie gereed is en met ander woorde nie werklik verstaan wat hulle doen nie, in die doopbad in praat.

As jy byvoorbeeld nie werklik verstaan het waaroor dit gegaan het toe jy jou laat doop het nie maar nou met meer kennis besef waaroor dit werklik gaan en jou oor wil laat doop, glo ek dit is dan nie verkeerd om weer gedoop te word nie, want in die eerste plek moes jy nie gedoop gewees het toe jy gedoop was nie.

Dan ook, as jy verkeerd gedoop is en hiervan het ons ‘n voorbeeld in die Woord, dat jy verkeerd gedoop kan word.

HAN 19:1-6 

1 En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind

2  en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie.

3  En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes.

4  Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.

5  En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.

6  En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Vir my persoonlik is een van die wyses van, om verkeerd gedoop te wees, om as baba gedoop te wees.

Om dan op te som hoe ek hierdie saak sien:

Nee, jy hoef nie, ek sal selfs sê jy behoort nie jou weer te laat doop, omdat jy afgedwaal het nie.

Die ou mens is dood en begrawe, die nuwe mens kan nie doodgaan nie en mag dus ook nie begrawe word nie.

Ja, jy behoort, ek wil eintlik sê, jy moet jou weer laat doop as jy verkeerd gedoop is, want ‘n mens kan verkeerd gedoop word.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.