SAL GOD MY VERGEWE? – DEEL 2
Sakkie Parsons
In my vorige skrywe aan jou, oor ons Here se vergifnis het ek genoem, dat ‘n dame se seun onder die indruk is, dat dit wat hy aan sy ma gedoen het in die verlede, van so ‘n aard is, dat ons Here hom nooit sal vergewe nie.
Ek het toe begin deur te wys, van wat ‘n verskriklike groot sonde Dawid by geleentheid gedoen het.
Hoe hy met een van sy getroue onderdane se vrou owerspel gepleeg het en toe sy Dawid se kind verwag, Dawid sake so probeer reël het, dat die man moes dink dit is sy kind.
Toe Dawid se bedrog-toertjie nie wil werk nie, toe, soos dit nou maar met sonde gaan, word die sonde wat die sonde moet bedek, net ‘n veel groter sonde. Soos hulle in Engels sou sê:
“It went from bad to worse.”
Want, toe beplan Dawid moord.
Kyk nou net hoe absoluut harteloos en gewetenloos word Dawid. Want jy sien, as ‘n mens eers jouself in sonde begin verlustig, sal jy as dit in jou pad staan, alle menslike, morele en etiese standaarde oorboord gooi.
Hy skryf Uría se doodsvonnis uit en gee dit vir Uría om vir Joab te neem.
2SAM 11:14-17 Die volgende ogend skryf Dawid ‘n brief aan Joab en stuur dit saam met Urija. 15Die brief het gelui: “Plaas Urija op die voorpunt waar die geveg op sy hewigste is. Val dan terug sodat hy kan sneuwel.” 16Joab was besig om die stad te beleër. Hy het vir Urija op ‘n plek gesit waar daar goeie vegters was. 17Die verdedigers het uitgekom om teen Joab te veg. Verskeie van Dawid se soldate het gesneuwel, ook Urija die Hetiet.
Kom ons vat net gou weer hierdie groot ding wat Dawid gedoen het saam.
Hy pleeg owerspel en toe die vrou swanger is, wil hy nie die verantwoordelikheid van sy kind en sy dade neem nie.
Hy probeer toe deur bedrog, sy kind en verantwoordelikheid op die man aan wie hy hierdie verskriklike ding gedoen het, af te pak.
Toe dít ook nie wou werk nie, toe laat hy die man vermoor.
Kyk na Dawid wat nou voor jou staan. Wat sien jy?
‘n Gewetenlose, owerspelige bedrieër en moordenaar maar – Dawid het werklik berou gekry en sy sonde opreg bely.
Ek gee hier voorbeelde uit Psalm 51.
psalm 51
here, maak my ‘n nuwe mens
PSM 51:1 Vir die koorleier:
‘n Dawidspsalm, na aanleiding van 2die gebeurtenis toe die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba.
PSM 51:3 Wees my genadig, o God. Volgens u troue liefde. Wis tog my sonde uit, op grond van u barmhartigheid.
PSM 51:4 Was my skoon van my skuld. Reinig my van my sonde.
PSM 51:5 Want ek ken my oortredings en my sonde is gedurig voor my.
PSM 51:6Teen U alleen, het ek gesondig; ek het gedoen wat vir U verkeerd is. Daarom is u uitspraak reg en u oordeel regverdig.
Psm 51:11 Moenie let op my sondes nie, en wis al my oortredings uit.
Psm 51:12 Skep vir my ‘n rein hart, o god. gee my ‘n nuwe, standvastige gees.
Psm 51:13 Moenie my verban wég van u teenwoordigheid nie, en moenie u Heilige Gees van my af wegneem nie.
Psm 51:14 Gee my tog weer die vreugde van u redding en laat ‘n gewillige gesindheid my staande hou.
PSM 51:16 Verlos my van bloedvergieting, God, my Redder-God. Dan sal ek voluit sing van u regverdigheid.
PSM 51:17 Help my om te praat, HERE, sodat ek u lof kan verkondig.
PSM 51:19 Die offer wat U wil hê, o God, is ‘n gebroke gees. ‘n Gebroke en berouvolle hart sal U nie verwerp nie, o God.
Dawid het die genade gehad om die enigste Almagtige GOD van liefde te ken, die Here wat sê as Hy vergewe, dink Hy nooit meer daaraan nie.
Jes 43:25 Ek, ja, Ek alleen, is die Een wat julle sondes uitwis. Ek doen dit ter wille van Myself en dink nie weer daaraan nie.
In die Ou Vertaling lees hierdie teks so:
Jes 43:25 Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie.
Heb 10:17 Dan voeg Hy daarby: “Ek sal aan hulle sondes en hulle oortredings nooit weer dink nie.”
HEB 10:18 Inderdaad, waar sondevergisnis ‘n werklikheid is, is geen verdere offer vir die sonde nodig nie.
Ek het gesê, dat ons Here se Woord is so goed, waar, standvastig en ewig, soos Hyself.
Wel kyk nou hier –
Ek en jy sal in ons mensheid na Dawid kyk en dalk sê:
“Dit is nou alles goed en wel maar hy het owerspel gepleeg. Hy het probeer om van die verantwoordelikheid van ‘n kind wat hy verwek het ontslae te raak.
Hy het dit alles aan ‘n lojale onderdaan gedoen.
Hy het moord gepleeg.”
Kyk nou hoe kyk ons Here na ‘n man wat al hierdie verskriklike dinge gedoen het en wat wérklik berou gekry en sy sonde bely het.
1KON 14:8 … maar jy nie soos my kneg Dawid was wat my gebooie gehou en My met sy hele hart nagevolg het om net te doen wat reg is in my oë nie,
Jy onthou wat Dawid gedoen het en ons Here sê:
“maar jy nie soos my kneg Dawid was wat my gebooie gehou …”
Jy onthou wat Dawid gedoen het en ons Here sê:
“maar jy nie soos my kneg Dawid was en My met sy hele hart nagevolg het …”
Jy onthou wat Dawid gedoen het en ons Here sê:
“maar jy nie soos my kneg Dawid was om net te doen wat reg is in my oë nie.
Jy lees wat ons Here van Dawid sê en jy wil amper wonder of ons Here van dieselfde Dawid praat wat jy van gelees het.
Kan jy sien?
Ons Here se Woord is so goed, waar, standvastig en ewig, soos Hyself.
Wat vir Dawid gegeld het, geld vir jou en my en elke ander kind van ons Here wat Jesus Christus aangeneem het as sy/hy se God en Saligmaker.
Bely net soos Dawid met werklike berou, jou sonde en vra vir Sy vergifnis en wat ons Here aanbetref, bestaan daardie lelik in jou verlede nie meer nie. Dit het aste ware wat ons Here aanbetref nie eens plaasgevind nie.
Net ingeval jy dalk dink, dat ek die voorbeeld van 1Konings 14:8 nie reg verstaan nie en met ander woorde uit verband ruk, lees Jesus se woorde op Patmos aan Johannes en jy sien duidelik tussen die lyne, wat Jesus van Dawid dink:
OPG 3:7 Skryf aan die voorganger van die gemeente wat in Filadelfia geleë is. So sê die Heilige, die Betroubre – Hy wat die sleutel van Dawid hou en deure oopsluit, en niemand kan dit toesluit nie; Hy sluit en niemand kan dit weer oopmaak nie:
OPG 22:16 Ek, Jesus, het my engel gestuur om al die dinge aan julle in die gemeentes te verkondig. Ek is die Wortel, die Nakomeling van Dawid, die helder Môrester.
Dieselfde totale vergifnis wat Dawid ontvang het, wil ons Here baie graag ook vir jou gee.
Hy sê vandag vir jou:
Jes 1:18 “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,” sê die HERE. “Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder. Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het. Selfs al is die vlek so rooi soos purper, Ek kan julle wit maak soos wol.”
Groete,
Sakkie
E-pos: bediening@sakkieparsons.co.za
Webtuiste: www.sakkieparsons.co.za
Sel: 083 457 6669
Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.”
Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na: bediening@sakkieparsons.co.za
Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.
Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie. In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.
Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.
Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.
Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is. Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.