WAT MAAK JESUS CHRISTUS SO UNIEK AS DIE OPPERSTE GESAG EN ALLEEN HEERSER BO ALLE ANDER?
Sakkie Parsons
Wat maak Jesus Christus, ons Christene se GOD, Verlosser en Saligmaker, wie een met die Vader die Almagtige, Alwyse en Alomteenwoordige GOD is, uniek en heeltemal anders as al die ander godsdienste se baie leiers met hulle baie verskillende ampte of name, range ensovoorts?
Wel, in al die ander godsdienste vind jy dat die mens moet na hulle god uitreik en hom tevrede stel, en dan, as hulle hom tevrede stel, glo hulle daar is ‘n kans dat iets gaan gebeur.
Die Christene se leier is God – en die Christene se godsdiens is die énigste godsdiens van al die godsdienste, waar God in Jesus wat mens geword het, in Sy groot goddelike liefdevolle genade na die mens uitgereik het, om ‘n liefdesverhouding met almal te wil hê, almal wat Hom in hulle harte wil ontvang.
Iemand vra dalk: “Nou maar wys ons dat die aanspraak wat jy maak en wat jy sê, Jesus maak dat Hy God is, wel so is.
Omdat ek weet dat hierdie skrywe baie lank gaan wees, probeer ek telkens volstaan met 2 of 3 van die baie gedeeltes uit die Woord wat ek kon gebruik het.
Lees eers hierdie gesprek van Jesus met Sy vriende:
JHN 14:7-11
7 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.
8 Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.
Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?
10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?
Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke.
11 Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.
Lees nou hierdie gedeelte van Jesus met Sy vyande, wie Hom ook uiteindelik gaan kruisig – en Hy het dit natuurlik ook geweet terwyl Hy daar met hulle praat, want hulle gaan Hom juis kruisig oor dit wat Hy vir hulle daar sê:
JHN 8:56-59
56 Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.
57 Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien?
58 Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek. (Jesus sê vir hulle, dat Hy die groot EK IS is, wie Moses in die woestyn ontmoet het).
59 Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig; maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek.
Jy het nou gelees wat Jesus vir Sy vriende en Sy vyande gesê het wie HY eintlik is,
Nou kom ons lees gou wat het Die Skepper van die groot heelal en die son, die maan, die aarde en alles anders wat in die heelal is, Hy God Almagtig wat die laaste sê het, van Jesus aan God Verlosser en Saligmaker vir ons laat skryf het:
JHN 1:1-5
1 In die begin was die Woord, (dit is Jesus) en die Woord (dit is Jesus) was by God, en die Woord (dit is Jesus) was God.
2 Hy (dit is Jesus) was in die begin by God.
3 Alle dinge het deur Hom (dit is Jesus) ontstaan, en sonder Hom (dit is Jesus) het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4 In Hom (dit is Jesus) was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
5 En die lig skyn (nou al vir meer as 2,000 jaar) in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.
JHN 1:14 En die Woord (dit is Jesus ) het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy (dit is Jesus) heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—(Jesus) vol van genade en waarheid.
FIL 2:6-9
6 Hy, (dit is Jesus) wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, (want Jesus was nie net gelyk aan God nie, Hy is God)
7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;
8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee (Jesus Christus) wat bo elke naam is, (dit is bo elke ander naam wat jy al van tevore gehoor het, wat mense sê jy moet gebruik)
FIL 2:10 sodat in die Naam van Jesus (en in geen ander naam nie) sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
FIL 2:11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus (nét Jesus Christus) die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
Nou is ek weer terug by waaroor hierdie skrywe eintlik gaan.
Wat maak die Christen se God en Verlosser, of dan; Wat maak die Christene se Leier so heeltemal anders as al die ander godsdienste se leiers?
Laat ek verduidelik:
Voor die Nuwe Testament wat Jesus vir ons opgestel het, dit is voor Jesus se evangelie, het die mens, buiten vir hulle wat swaar onder die mosaïese wet geleef het, maar voortgeploeter in sy sonde – oppad hel toe. Niemand het die ware God gesoek nie, almal het maar godsdienste gebou en geskaaf soos dit hulle gepas het – maar toe die volheid van die tyd aangebreek het, het God uitgereik na die mens om hom te red:
GAL 4:4-6
4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,
5 om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.
6 En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!
God het uitgereik na die mens om hom te red maar omdat Hy ‘n volmaakte God is, kon net ‘n volmaakte offer dit eens en vir altyd doen en daar was in die hele groot heelal skepping net Een so ‘n volmaakte offer wat geskik was:
HEB 10:7-10
7 Toe het Ek (dit is Jesus) gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God.
8 Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie—wat volgens die wet geoffer word—
9 het Hy daarna gesê: Kyk, Ek (dit is Jesus) kom om u wil te doen, o God. Hy neem die eerste weg om die tweede te stel.
10 Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.
Onthou jy nog hoe daardie uitreiking van God na die mens gemanifesteer het?
Hoe dit plaasgevind het?
LUK 1:28-33
28 En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue.
29 En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken.
30 En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind.
31 En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.
32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee,
33 en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.
LUK 2:6 En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar;
LUK 2:7 en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
So is die profesie vervul wat honderde jare van tevore geprofeteer was:
JES 9:5 Want ‘n Kind is vir ons gebore, (Jesus Christus) ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—
JES 9:6 tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.
Toe stap Jesus vir so ongeveer 3 jaar op aarde en verkondig Sy evangelie van liefde vir God en my naaste en vervul die mosaïese wet en ons Paaslam word op Golgota vir ons geslag:
JHN 19:30 En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
1KOR 5:7 Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.
1KOR 5:8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.
Toe ons Paaslam vir ons geslag was op Golgota, het ook die voorhangsel van bo tot onder middeldeur geskeur en het Jesus dit vir ons so moontlik gemaak, om nou – hoe wonderlik heerlik – self direkte kontak met ons Here te mag hê.
MAT 27:50 Daarop het Jesus weer met ‘n groot stem geroep en die gees gegee.
MAT 27:51 En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;
Nou is Jesus ons Hoëpriester en daarom gaan ons altyd na ons Here in die Naam van Jesus en vra ons ook alles in die naam van Jesus.
Het jy al ‘n volgeling van hierdie unieke Jesus geword?
Met ander woorde:
Het jy al vir Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker?
As jy nie seker is of jy het nie, dan het jy nog nie regtig Hom aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker nie en het jy nog nie regtig ‘n liefdesverhouding met Hom begin nie.
Toe my vrou nog gelewe het, het ek nooit vir een oomblik vergeet of getwyfel dat ek getroud is nie.
As jy vir Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, sal jy dit ook nooit vergeet nie.
Nie omdat daar byvoorbeeld noodwendig iets indrukwekkend of bo-natuurliks gebeur het nie – maar omdat jy in die eerste plek baie bewus sal wees van die ingrypende stap wat jy gedoen het.
Want as jy Jesus werklik aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, is jy verseker van die ewige lewe en moet jy nou net deur die res van jou lewe, vir Jesus volg.
JHN 3:36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.
Dit is ook net reg, dat ek jou daarop wys, dat ‘n mens nooit kan neutraal staan, as jy eenmaal van Jesus gehoor het nie. Want om nié vir Jesus te kies nie, is om teen Hom te kies.
MAT 12:30 Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.
JHN 14:6 Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”
As jy nog nie vir Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie en jy het nou tot hier gelees, sê Jesus weer vir jou deur hierdie skrywe:
OPG 3:20-22
20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
22 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
As jy nou vir Jesus wil aanneem as jou Verlosser en Saligmaker, kan jy nou net hier waar jy sit of lê en lees, hierdie eenvoudige woorde bid:
“Here, ek wil U kind wees.
Ek kom nou na U toe met al my sonde en al my gebreke en swakhede en ek vra vergewe my. Ek draai om Here. Ek maak ‘n omkeer. Ek bekeer my en ek sê, soos daardie man in U Woord by geleentheid gesê het: ‘Here, ek glo, kom asseblief my ongeloof te hulp’ en help my soos U hom gehelp het.
Ek vra dit in die Naam van Jesus.”
Nou soek jy ‘n gemeente wat die hele Bybel as die Woord van ons Here verkondig. Gaan na een van hulle dienste, ontmoet die herder van die gemeente. Vertel hom van jou besluit en vra hom vir verdere leiding.
As jy sukkel om so ‘n gemeente te kry, kontak my en ek probeer help.
Ek het in hierdie skrywe gedeel met mense wie op die minste ‘n Bybel al oop gehad het en ten minste al van Jesus gehoor het, daarom het ek net die Bybel gebruik – maar ek het ook al geskryf oor Jesus en Sy uniekheid wat ek ook oor die onderwerp buite die Bybel deel, wat ek aan jou op aanvraag kan stuur.
Groete met Jesus liefde,
Sakkie
E-pos: bediening@sakkieparsons.co.za
Webtuiste: www.sakkieparsons.co.za
Sel: 083 457 6669
Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.”
Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na: bediening@sakkieparsons.co.za
Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.
Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie. In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.
Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.
Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.
Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is. Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.