IS DIE BYBEL VANDAG OP MY VAN TOEPASSING SOOS DIT GESKRYF EN SAAMGESTEL IS?
Moenie na mense luister wat GOD se Woord verdag maak nie
Sakkie Parsons
My doel in hierdie skrywe, is om jou weer aan te moedig om weg te bly van mense wat probeer om die kosbare onfeilbare Woord van God verdag te maak.
Ek luister Sondag 15 Februarie 2025, net na die 7nm nuus na ‘n program op RSG, waar hulle oor die vrou se plek in die kerk gesels.
Hulle het daar toe ‘n dame wie ‘n professor en dominee is. Die dame het haarself al by ‘n vorige geleentheid laat voorstel as ‘n ‘buitengewone professor.’
Ek is nou nie so op die hoogte met die term van ‘buitengewone professor’ nie maar soos ek gehoor het is dit ‘n professor wat in hul hoedanigheid uitgenooi is en optree as ‘n tipe van ‘gas professor’ maar ek mag hier dalk nie heeltemal reg wees nie.
So ‘n mens sou die dame dan seker ‘n ‘buitengewone professor dominee’ noem.
Sy het toe ‘n klomp dinge kwytgeraak wat ek al baie oor die jare gehoor het maar die een skokkende redenasie wat ek nog nie gehoor het nie, wat sy toe ook nog gebruik is die volgende:
“Die Timotheüs briewe is een en selfs twee geslagte later geskryf. Ek neem aan een of twee geslagte na Paulus se geslag.”
Laat ek net gou iets sê oor die oudste geskrifte wat ons tot ons beskikking het om te gebruik en die dame, omdat sy ‘n buitengewone professor dominee, met ander woorde ‘n goed geskoolde teoloog is, weet dit natuurlik baie goed.
Die mense destyds het nie ‘printers’, of dan drukkers, en al die wonderlike tegnologie gehad wat ons het nie. So as hulle byvoorbeeld ‘n brief ontvang, het iemand gaan sit en ‘n kopie met die hand geskryf en dit dan vir die mense gestuur en nog ‘n kopie gemaak en dit vir die ander mense gestuur en die wie dit ontvang het, het natuurlik op dieselfde wyse te werk gegaan om die evangelie van Jesus te versprei – Maar hoe wonderlik is die versekering vir ons wat glo, om te weet:
Die mense wat geskryf het, was instrumente, of dan penne in die hand van die Groot Outeur wat sou sorg en ook gesorg het, dat byvoorbeeld die Nuwe Testament wat Jesus opgestel het:
MAT 26:26 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.
MAT 26:27 Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.
Die Nuwe Testament, wat Jesus toe aste ware met sy bloed op Golgota onderteken het:
MAT 26:28 Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.
Daarom stem die kopieë so merkwaardig ooreen met mekaar, al is van die kopieë deur mense gemaak waarvan die meeste heel waarskynlik mekaar nog nooit in hulle lewe hier op aarde ontmoet het nie en baie van hulle nie eens deel was van die selfde geslag in die tyd wat hulle gelewe het nie.
Daarom gebruik Heilige Gees geïnspireerde skrywers nog vandag net daardie oudste geskrifte wat tot ons beskikking is.
Want jy sien, ons lees van die groot Outeur van hierdie Woord:
JHN 1:1-5
1 In die begin was die Woord, (dit is Jesus) en die Woord was by God, en die Woord (dit is Jesus) was God.
2 Hy (dit is Jesus die Woord) was in die begin by God.
3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, (ook Sy heilige onfeilbare Woord) en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
5 En die lig (Sy Woord) skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. (Al misbruik satan baie groot teoloë deur al die eeue heen om dit te probeer regkry.)
JHN 1:14 En die Woord (dit is Jesus) het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
As dit nou al die ekstreme redenasies is wat gebruik word, soos die dame wie die buitengewone professor dominee is, om die Woord verdag te maak en vir ons te sê, dat nie alles wat ons Here is Sy Woord laat skryf het, ons sommer vir soetkoek moet op eet nie.
Want dit is wat die mense te kenne gee, deur die Woord, of dan gedeeltes van die Woord so verdag te maak, kan ek verstaan, dat dit nie meer moeilik vir mense is om ander groot teoloë te glo, wat verkondig, dat Jesus se maagdelike geboorte ook nie waar is nie en dat Hy ook nie na drie dae self uit die graf gestap het nie.
Onthou nou, dat ek nie bevraagteken, dat die briewe aan Timotheüs eers ‘n geslag of wat later op papier neergepen is nie.
So ver ek weet, het ons nie een skrywe wat deur die oorspronklike skrywer met sy eie hand geskryf is nie.
Soos ek verduidelik het –
Alles wat ons het, is kopieë van kopieë, van kopieë, wat die Almagtige Outeur van Sy onfeilbare Woord presies vir ons tot stand gebring het, soos wat Hy dit vir ons tot stand wou bring.
Terug by die buitengewone professor dominee se stelling van dat die Timotheüs briewe een of meer geslagte later geskryf is en sy die inhoud van die briewe so verdag wil maak.
Wat haar, vir my, moedswillige stelling vir my so skokkend gemaak het, is dat sy deur haar stelling gesuggereer het, dat ‘n mens daarom nie alles so kan glo soos wat dit daar geskryf is nie.
Nee, ons moet ons onttrek van mense wat enige iets in die Woord wil verander, byvoeg of weglaat, of op watter wyse ook al aan die Woord torring.
Want dan verkondig hulle ‘n ander evangelie – en die Woord sê vir ons in die verband en onthou ook as jy die volgende lees, dat dit Paulus is wat dit sê. Dieselfde Paulus wat ook 1 en 2 Timotheüs geskryf het en aan wie ons Here die grootste gedeelte van Sy Nuwe Testament, wat ons leer hoe om volgens Jesus se Evangelie te lewe, vir ons laat neerskryf het:
GAL 1:6-9
6 Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe,
7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.
8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!
9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!
Want eintlik, as jy dit afsny tot op die been, laat die mense ons verstaan, asof die Outeur van die Woord, dit is Jesus, die Woord, wat Sy lewe as mens op die skrikwekkendste wyse aan die kruis geoffer en so aste ware, Sy Nuwe Testament vir ons so verseël het, nie heeltemal beheer gehad het oor die Nuwe Testament wat Hy vir die Christene van alle tye laat opstel het nie, of dat Hy oor die eeue beheer oor Sy onfeilbare Woord verloor het, wat Hy vir ons tot stand gebring het en dat daardie onfeilbare Woord vandag nie meer so onfeilbaar is, soos wat ons weet en glo en verkondig nie.
Sy wou natuurlik net die gedeeltes waarvan sy nie gehou het nie verdag maak, soos baie ander sogenaamde groot teoloë van die tyd waar ons in lewe, maar dit is nie wat sy gedoen het nie, alhoewel dit wat sy wou doen, al klaar vir my skrikwekkend skokkend was. Want as ‘n geleerde dame soos die buitengewone professor dominee so iets verkondig, wat is daar dan nog alles in die Woord van God wat, gewone mense soos jy en ek, nie moet glo nie?
‘n Mens sou selfs kon vra:
Is daar inderdaad dan nog iets in die Bybel wat ons kan glo? Siende, dat die hele Bybel oorspronklik kopieë van kopieë en soms nog kopieë is en mense soos die hooggeleerde dame wie ‘n buitengewone professor dominee is vir ons laat verstaan, dat sy as gevolg van hierdie feit nie alles glo wat ons in ons Here se onfeilbare Woord lees nie.
Ek vra dan weer –
Wat is daar dan nog in die Woord van God wat ons kan glo?
Sy het nie net alles in daardie briewe vir dié wie haar soort redenasie aanhang verdag gemaak nie.
Nee sy het veel meer gedoen.
Sy het met haar redenasie die hele Bybel verdag gemaak.
Want, as sy met een of twee geslagte na die lewe van ‘n boek in die Nuwe Testament ‘n probleem het, kan ek net raai wat haar siening is, met ‘n boek soos Genesis en ‘n hele paar ander boeke in die Ou Testament wat net na Genesis gevolg het, wat baie geslagte later eers op papier geskryf was.
So daardie redenasie maak die hele Bybel verdag, omdat die redenasie te kenne gee, dat die Almagtige Alwetende God nie die Outeur van die onfeilbare Woord van God is en die skrywers maar net die instrumente, aste ware, die penne waarmee Hy geskryf het, gewees het nie.
Die buitengewone professor dominee in haar redenasie laat my dink aan wat ‘n groot Godsman eendag gesê het en ek kan nou nie die presiese woorde onthou nie, maar dit was iets soos en onthou, dit is my woorde, nie ‘n kopie van sy woorde nie:
“Die evangelie van Jesus Christus is soos ‘n wonder dam.
Die dam is so vlak, dat Jesus se gelowige kindertjies te heerlik daarin kan speel maar die dam is so diep, dat teoloë daarin kan verdrink en baie het al.”
Duidelik kyk hierdie buitengewone professor dominee nie na die Woord soos ek en ek hoop die meeste Christene na die Woord kyk nie.
Wel, hoe moet ons na die Woord kyk?
Te heerlik eenvoudig soos gelowige kindertjies en ek begin dan sommer deur Jesus wie die Woord is wat mens geword het en onder ons kom woon het en sy student vir ongeveer drie jaar opgelei het om Sy Nuwe Testament vir ons op skrif te laat sit en te kwoteer, hoe Hy dit vir ons verduidelik:
MAT 11:25-27
25 In daardie tyd het Jesus (die Woord wat mens geword het) gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge (dit is Sy Nuwe Testament wat Hy vir Sy volgelinge laat opstel het) verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies (Jesus se gelowige kindertjies) geopenbaar het.
26 Ja, Vader, want so was dit u welbehae.
27 Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit (veral deur sy onfeilbare Woord) wil openbaar.
MRK 10:15 Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.
Hoe moet ons soos kindertjies wat te heerlik in Jesus se evangelie-dam speel na Jesus se evangelie in die Woord en daarom ook na die hele Woord kyk?
Wel, dit is heerlik kinderlik gelowig eenvoudig:
2TIM 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.
Dan kom Petrus en onderstreep aste ware wat Paulus geskryf het, as hy skryf:
1PET 1:24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,
1PET 1:25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.
Dan kom die skrywer aan die Hebreërs en daardie skrywer bevestig en verduidelik Paulus en Petrus se woorde as ons lees:
HEB 13:8 Jesus Christus (die Woord wie mens geword het) is gister en vandag (en daarom ook Sy Woord) dieselfde en tot in ewigheid.
HEB 13:9 Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; …
So, hoe lees ek die Woord of dan die Bybel?
Wel, ek onthou wie die Outeur van die Woord is wat mense gebruik het om Sy Woord vir my te skryf.
Ja, ek onthou wie die mense opgelei het om Sy Nuwe Testament wat Hy opgetrek het op papier neer te sit vir jou en my en wie toe aan Paulus die grootste gedeelte van daardie Testament vir ons laat neerskryf het, hierdie Paulus van wie een van Jesus (die Woord wie mens geword het) se top student die volgende laat skryf het:
2PET 3:15-17
15 En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het,
16 net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige (soos ook vir baie hooggeleerde teoloë) swaar is om te verstaan, wat die (geestelik) ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.
17 Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense (dit sluit na my mening geestelike sedelose mense wie die Woord verdraai om hulle te pas in) en wegval uit jul eie vastigheid nie.
Hou altyd in jou gedagte as jy ons Here se onfeilbare Woord oopmaak en lees wat daar geskryf staan:
HEB 11:6 En sonder geloof (byvoorbeeld in dit wat jy in ons Here se onfeilbare Woord lees) is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom (veral deur Sy Woord) soek.
ROM 10:17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
2TIM 4:2-5
2 verkondig die woord; (dit is die hele evangelie van Jesus) hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;
3 want daar sal ‘n tyd wees (soos reeds ook vandag) wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars (soos sommige buitengewone professors en dominees en buitengewone professor dominees en wat hulle hulleself ook al graag noem) sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
(Soos dat sommige gedeeltes in ons Here se onfeilbare Woord nie meer vir vandag geld nie of soos sommige groot teoloë vandag ons graag wil laat verstaan, dit in die eerste plek nie eens daar moes gewees het nie.)
5 Maar wees jy (ook jy wie nou hier lees) in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.
Watter bediening het jy en ek, wat elke wáre kind van ons Here het, wat ons kan vervul?
HAN 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.
Ons kan nie almal preek nie.
Ons kan nie almal sing nie.
Ons kan nie almal die Woord mooi verduidelik nie en so kan ek aan en aan en aan gaan maar ons almal het ‘n lewe waardeur ons ons bediening hier op aarde kan vervul.
Kom ons leef eerstens ten alle tye so, dat die mense deur en in ons Jesus kan sien.
Ons is mos ons Here se kinders.
So, Kom laat die mense die familie-ooreenkoms in ons sien – deurdat ons Jesus se Evangelie uitleef, soos wat dit in Sy kosbare onfeilbare Woord vir ons opgeteken is.
Wat die kosbare onfeilbare Woord van ons Here aanbetref, sluit ek af met die volgende twee gedeeltes uit Sy onfeilbare Woord, waarvan ek die eerste gedeelte ook reeds kwoteer het:
Oeps, dit is al weer Paulus en dit is al weer uit sy skrywe aan Timotheüs:
2TIM 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.
Dan, as jy weer jou kosbare Bybel in jou hand neem, oopmaak en lees, onthou jy wat ons Here ook in Sy kosbare onfeilbare Woord vir ons laat skryf het en dit is weer Paulus:
Ek kwoteer net 1KOR 1:18-19 maar gaan lees gerus van 1KOR 1:18 tot die einde van die hoofstuk as jy geleentheid kry:
1KOR 1:18 Want die woord van die kruis (soos wat ons dit uit die oudste, soos ons dit noem, oorspronklike geskrifte lees) is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;
1KOR 1:19 want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.
Ander gedagtes uit die Woord wat jy dalk sou wou lees, wat ‘die vrou aanbetref is:
- Die vrou se posisie in die kerk in gehoorsaamheid aan die woord
- Oor die vrou in die huwelik
- Oor die vrou se hoofbedekking
Groete,
Sakkie
E-pos: bediening@sakkieparsons.co.za
Webtuiste: www.sakkieparsons.co.za
Sel: 083 457 6669
Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.”
Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na: bediening@sakkieparsons.co.za
Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.
Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie. In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.
Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.
Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.
Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is. Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.