HOE KAN EK DIE DUIWEL WEERSTAAN?
Sakkie Parsons
Wat ek nou met jou gaan deel, kan en sal natuurlik net werk, as jy – wie dit wil gebruik – in jou hart glo dat die Bybel, die onfeilbare Woord van God is.
Sommer vir die interesantheid daarvan.
Die woordeboek sê van “onfeilbaar” die volgende:
onfeilbaar, ..bare. 1. Wat nooit ’n fout maak nie. 2. Wat altyd suksesvol is;
Terwyl ek Jeugleier was in ons gemeente moes ek op ‘n spesifieke geleentheid ‘n boodskap aan die jeug van die gemeente bring. So het dit dan gebeur dat ek op my bed gesit het en op my kitaar begin tokkel het toe die wonderlike gedagte begin vorm kry.
Wat het Jesus gedoen, elke keer as satan Hom aangeval het?
– HY HET DIE BYBEL KWOTEER
LUKAS 4:3-12
3 Die duiwel het toe vir Hom gesê: “As jy die Seun van God is, verander hierdie klip in ‘n brood.”
4 Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee! Die Skrif sê: ‘ ‘n Mens het meer as brood nodig om van te lewe.’”
5 Daarna het die duiwel Hom na ‘n hoogte geneem en in ‘n oogwink vir Hom al die koninkryke van die
wêreld gewys.
6 Die duiwel het vir Hom gesê: “Ek sal vir jou die glorie en die mag oor al hierdie koninkryke gee, want
hulle is myne om vir enigeen te gee vir wie ek wil.
7 Ek sal dit vir jou gee as jy neerbuig en my aanbid.”
8 Jesus het geantwoord: “Die Skrif sê: ‘Jy moet die Here jou God aanbid en Hom alleen dien.’”
9 Toe het die duiwel Hom na Jerusalem geneem, na die hoogste punt van die tempel, en gesê: “As jy die
Seun van God is, spring hier af!
10 Want die Skrif sê: ‘God sal aan sy engele opdrag gee om jou te beskerm.
11 En hulle sal jou soos goud oppas sodat jy nie dalk jou voet teen ‘n klip stamp nie.’”
12 Jesus het hom geantwoord: “Die Skrif sê ook: ‘Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.’”
Jesus leer ons baie duidelik dat ons Hom moet volg. Met ander woorde ons moet ook Sy voorbeeld volg.
LUK 14:27 En jy kan nie my dissipel wees as jy nie jou eie kruis dra en My volg nie.
JOH 12:26 Almal wat in my diens wil staan, moet My aanhou volg; en waar Ek is, daar sal my dienaars ook wees. As julle in my diens staan, sal die Vader aan julle eer betoon.
Jesus het die Woord gebruik om satan te beveg, dus moet dit mos beteken dat dit die beste manier is om die satan te beveg.
Dit is dan geen wonder dat Paulus praat van die Woord as ons swaard nie:
EFE 6:17 Gebruik God se verlossing as ‘n helm om julle koppe te beskerm, en, as swaard, die Gees, dit is God se woord.
Jy kan egter net die Woord as ‘n “swaard” teen satan gebruik as jy die Woord ken. Die slotsom is dus:
Hoe beter jy die Bybel ken hoe beter kan jy teen satan staande bly.
Al die bogenoemde gedagtes het in my kop gemaal, toe die Here in Sy wonderlike liefde my die lied gegee het wat ek nou met jou deel en wat beskikbaar is onder ‘Liedere’ op my Webtuiste met die naam: “Daar Staan Geskrywe.”
Aan die einde van die lied wat die Here my gegee het, gee ek ook die teksverse wat op elke versie in die lied van toepassing is.
Daar staan geskrywe – Lied
Vers 1
Jy staan by die skool en toe sien jy hom kom,
daai maatjie staan nader en stamp vir jou om.
Toe hoor jy ou satan kniel hier langsaan jou,
Sê: “foeter hom boetie hy soek mos vir jou.”
Maar as jy weet, sal jy kan sê:
Koor
Ag bly stil ou satan gaan speel in die veld,
want daar staan geskrywe, van nie met kwaad vergeld.
Ja, bly stil ou satan en hoor wat ek sê,
ek wil dit in vrywe,-
Daar staan geskrywe.
Vers 2
Jy sien op die tafel die tien rand noot lê,
en jy hoor ou satan hier langs aan jou sê:
“Jy kan dit maar neem man, wees nie ‘n pampoen,
as jy nie, sal iemand anders dit tog doen.”
Maar as jy weet, sal jy kan sê:
Koor
Ag, bly stil ou satan, jy praat glad te veel,
want daar staan geskrywe, van jy mag nie steel.
Ja, bly stil ou satan en hoor wat ek sê,
ek wil dit in vrywe,-
Daar staan geskrywe.
Vers 3
Jou ouers sê, jy moet nou so òf so maak.
Ou satan sê: “ Hulle wil jou net kwaad maak.
Want ouers jy weet, kan net skreeu, kan net raas.
Man doen wat jy wil, jy is jou eie baas.”
Maar as jy weet, sal jy kan sê:
Koor
Ag, bly stil ou satan, jy klink glad al hees,
want daar staan geskrywe, van gehoorsaam te wees.
Ja, bly stil ou satan en hoor wat ek sê,
ek wil dit in vrywe,-
Daar staan geskrywe.
Vers 4
Maar sonder die kennis, sal jy nie kan staan.
Ou satan sal vir jou, so hou vir hou slaan.
So sorg dat jy elke dag jou Bybel lees.
En as satan kom, sal jy reg vir hom wees.
Want jy sal weet, jy sal kan sê:
Koor
Ag bly stil ou satan en kry nou jou ry,
want daar staan geskrywe, gaan weg agter my.
Ja, bly stil ou satan en hoor wat ek sê,
ek wil dit in vrywe,-
Daar staan geskrywe.
Ek wil dit in vrywe, daar staan geskrywe.
Teksverse van toepassing op bogenoemde lied
Vers 1 se aanhaling uit die Bybel:
1PET 3:9 Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ‘n seënwens wees. Dít is waartoe God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën.
Vers 2 se aanhaling uit die Bybel:
MRK 10:19 “Maar wat jou vraag betref – jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis gee nie; jy mag niemand benadeel nie; respekteer jou pa en ma.’”
Vers 3 se aanhaling uit die Bybel:
EFE 6:1 Kinders, omdat julle in die Here glo, moet julle aan julle ouers gehoorsaam wees. Dit is mos die regte ding om te doen!
Vers 4 se aanhaling uit die Bybel:
LUK 4:8 En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.