MAG EK WAARSÊERS OF GEESTE VAN AFGESTORWENES RAADPLEEG?

MAG EK WAARSÊERS OF GEESTE VAN AFGESTORWENES RAADPLEEG?

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra:

“Hoe voel ons Here oor iemand wat hom of haar met waarsêery bemoei?”

Hier is dan nou hoe ek dit sien en verstaan uit die Woord:

Ten eerste is jy in Sy oë vuil en onrein:

LEV 19:31  “Moenie op geeste en waarsêers vertrou nie, want hulle sal jou onrein maak.  Ek, die HERE, is julle God.”

Ons Here sê, dat ons, ons nie met sulke gemors moet ophou nie en hoekom nie?

Want, Hý is ons Here ons God.

LEV 19:31  … Ek, die HERE, is julle God.”

Weet jy wat dink ons Here van iemand wat so iets doen?

Weet jy hoe sien ons Here so iemand?

Hy sien so iemand as ‘n satan prostituut.

LEV 20:6  “As iemand onder die volk ontrou is deur geeste of waarsêers te raadpleeg, sal Ek teen hulle optree en hulle afsny van die gemeenskap.”

Nie alleen sien Hy so iemand as ‘n prostituut van satan nie, maar Hy voel so sterk, dat, so sê Hy, Hy sal so iemand uitroei en as God uitroei, dan bly dit uitgeroei.

Die Ou Vertaling stel dit so:

LEV 20:6  En as ‘n persoon hom begewe tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê om agter hulle aan te hoereer, sal Ek my aangesig teen dié persoon rig en hom uitroei onder sy volk uit.

Ons Here voel só sterk oor hierdie saak, dat Hy sê, dat as iemand so ‘n gees in hom of haar het, verdien so ‘n persoon volgens ons Here nie om te lewe nie.

LEV 20:27  “Mans en vroue onder julle wat hulle besig hou met geeste of beswerings moet gestenig word.  Hulle is skuldig aan ‘n baie ernstige oortreding.”

As ek nou die Woord reg verstaan, dan, so lyk dit vir my, is iemand wat hierdie soort bose geeste in hom of haar het, besoedel met van die vieslikste, gruwelikste bose geeste wat satan het.

So, of iemand wat hom/haar ophou met hierdie sinnelose gemors – bekeer jou en lewe.  Of, hulle hou aan om in die gemors te ploeter en sterf vir ewig in die hel en tog – hoe graag hulle ook al sou wou, hulle sal nie sterf nie.

ROM 6:16  Besef julle nie dat dít waarvoor ‘n mens jou as slaaf beskikbaar stel, jou baas word nie?  Jy kan die sonde kies en daarmee saam die dood, of jy kan kies om God te gehoorsaam en volgens Sy wil te lewe.

Hoe kan ek ontslae raak van hierdie gemors waarmee ek deurmekaar geraak het?

Wat kan ek doen om ons Here se vergifnis te kry?

Gelukkig is dit so maklik vir ons deur Jesus Christus se kruisdood gemaak.

Ek moet teenoor ons Here met werklike berou in opregtheid my sonde bely en dan ‘n daadwerklike besluit neem om dit nie meer te doen nie.

Dan geld die volgende vir my:

1JHN 1:9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

Iemand sê dalk:

“Sakkie, as dit halfpad so erg is soos wat jy sê, dan kan niks my mos meer teen God se toorn beskerm nie.”

Lees net weer gou hier, dan glo jy dit – en dan doen jy dit – en dan is jy verlos.”

1JHN 1:9 As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Al wat jy hoef te doen,

Nee, al wat jy móét doen –

Maak met werklike opregte berou gebruik van Sy uitnodiging.

JES 1:18  “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,” sê die HERE.  “Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder.  Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het.  Selfs al is die vlek so rooi soos purper, Ek kan julle wit maak soos wol.”

Mense vra my baie, of mense wat ontslaap het, weet wat hier by of met ons op aarde gebeur.

Volgens die Woord, soos ek dit verstaan, is jy in die hemel en net besig met die hemelse dinge en maak niks anders, om dit so te stel, meer vir jou saak nie as jy daar is. En as jy in die hel is, is jy net besig om die hel te ervaar en kan jy nie daar van ontsnap nie en ek deel met jou ‘n voorbeeld wat Jesus ons gee en soos wat ek altyd sê,.

Jesus is die enigste persoon wat ooit op hierdie aarde geloop het wat ten volle in diepte kennis van albei hierdie plekke het:

LUK 16:22  En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.

LUK 16:23  En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.

***U kan ook “Is dit van ons Here om met dooies te gesels” bestel wat ook uitbrei oor wanneer ‘n waarsêer sê die Here wys vir hom ‘hierdie of daardie’ in jou lewe.

 Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.