KOM ONS LEWE SO NA AAN DIE WOORD AS MOONTLIK

KOM ONS LEWE SO NA AAN DIE WOORD AS MOONTLIK

Nuwe openbarings wat die kerk ingesluip het.

Sakkie Parsons

Ek deel hierdie skrywe met jou, na aanleiding van ‘n skrywe van my, oor die vrou se hoofbedekking as vraag aan my en daarna ‘n oor en weer geskryf gesels plaasgevind het.

Ek wil net reg hier aan die begin die volgende net weer baie, baie duidelik stel:

Die hemel se poort gaan nie vir jou en my oopgaan, as ons uit hierdie lewe uittree, oor wat ons hoe gedoen, of hoe ons dit nie gedoen het nie.

Die Hemelse poort gaan vir jou en my oopgaan, omdat ons aan die anderkant van die graf met Jesus arriveer.

Ek het egter ook in my lewe gesien en self belewe en belewe ek dit nog steeds, dat hoe nader jy aan die Woord en dit wat jy daar lees lewe, hoe beter hoor jy ons Here se Woord en verseker, hoe beter is jou liefdesverhouding met Hom.

Ek probeer net met my bediening om onder andere Christene, soms is hulle nie Christene nie maar net baie godsdienstige mense, so ver kry om so naby aan die woord as moontlik te lewe.

Want glo my, hoe nader jy aan die Woord Jesus Christus deur hierdie lewe stap, hoe beter hoor jy Sy gesels met jou en hoe beter/dieper is jou liefdesverhouding met Hom.

Soos ek genoem het.

Ons Here het my ook daarop gewys, toe Hy my hierdie bediening gegee het, dat ek net uit die Woord, en alleenlik uit die Woord, en niks anders as die Woord nie, sal antwoord.

Na aanleiding van ‘n skrywe van my, oor die vrou se hoofbedekking en daarna ‘n oor en weer, en ook gesels oor die internet was, omdat sommige mense met die Woord wil verskil of daaroor wil redeneer of hulle eie sieninge wil inbring, of die sieninge van andere wil aanhang, wil ek graag met jou oor die volgende, omdat dit in my leeftyd ontstaan het, een van die hele paar nuwe openbarings wat die kerk ingesluip het, deel.

Ek kon natuurlik oor ‘n klompie ander nuwe openbarings ook gesels het.

Soos die huwelik en wie mag met wie trou volgens die Woord.

Of oor die gesag in die kerk en wie mag die hoof van die gemeente wees.

Toevallig, vir die wat in toeval wil glo, almal nuwe openbarings, wat, “Paulus die geroepe apostel deur Jesus Christus, volgens die wil van God” (1KOR 1:1) vir ons deur ons Here laat skryf het – maar wat toe deur nuwe openbarings verander is.

Dit is alles nuwe openbarings en na my mening, valse openbarings, wat in my leeftyd van 52 jaar die evangelie van Jesus verkondig die kerk ingesluip het en ek het al oor hulle geskryf en kan dit met jou deel as jy my vra. Nou deel ek egter met jou oor ‘n ander een, omdat dit nou weer in my bediening ter sprake gekom het, al het ek al daaroor geskryf.

Ek kan natuurlik net ‘praat van al die nuwe openbarings wat ek in my lewe in die tyd wat ek die evangelie van Jesus verkondig praat wat ek gehoor en beleef het.

Die een waaroor ek nou gaan gesels, het natuurlik al mense baie ongelukkig met my gemaak omdat ek dit ‘n valse openbaring noem maar ek deel dit met jou ook en ek vra, dat as jy dink ek is verkeerd, om dit ‘n valse openbaring te noem – neem groot asseblief die Skrif wat ek gebruik om te wys dat dit ‘n valse openbaring is en vertel my, waar ek verkeerd redeneer volgens die Woord soos ek dit verkondig en hoe ek die Skrif wat ek gebruik nou moet verstaan, sonder dat die Woord Homself weerspreek.  Want laat ons ook onthou Wié is

Die Woord:

JHN 1:1-5

1  In die begin was die Woord, (dit is Jesus) en die Woord was by God, (dit is Jesus) en die Woord was God (Dit is Jesus).

2  Hy (dit is Jesus) was in die begin by God.

3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, (ook die Bybel/Woord in jou hand, woord vir woord) en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

4  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense (en dit sluit natuurlik Sy Woord, die Bybel in).

5  En die lig (Jesus die Woord, soos jy aan die begin gelees het, ook die Woord/Bybel wat jy in jou hand neem om te lees) skyn in die duisternis, en die duisternis het (ten spyte van al die sogenaamde nuwe openbarings wat hierdie of daardie in Sy kosbare Woord ongeldig wil maak) dit nie oorweldig nie.

Ek deel dan nou met jou een van die nuwe openbarings wat ek beleef het en wat toe soos ‘n veldbrand deur al die Afrikaanse denominasies versprei het, maar ek dink dit het van oorsee gekom en was toe al seker, lankal klaar in volle werking in die Engelse denominasies maar ek sal nie weet nie want ek het net in die Afrikaanse denominasies rond beweeg as Evangelis.

Ek gaan eers ‘n bietjie verder terug, ‘n hele paar jaar, die middel sestigs van die vorige eeu,  voor my bekering.

Ek was in Worcester in die destydse skool vir blindes en omdat ek nie ‘n kerkverband gehad het nie en ook nie eintlik ouers in die ware sin van die woord gehad het nie, het die skool my saam met die kinders wat in die NG kerk was laat Sondagskool en kerk toe gaan en ek het ook in die NG kerk gekatkiseer en is daar voorgestel en aangeneem.

Ek het toe ook destyds, dit was in die laat sestigs van die vorige eeu beleef en gesien, (want ek kon toe nog goed gesien het), dat die omies almal hulle hoede afhaal voor hulle die kerk vir die erediens instap en binne in die kerk, het ek in die gemeente gesien, dat al die dames ‘n hoofbedekking op het.

Toe het ek vir ‘n klomp jare nie meer kerk toe gegaan nie, want ek was nie bekeer nie.

Toe kom ek in 1973 tot bekering in ‘n Pinkster gemeente en ek sien, dit is nog alles soos dit laas was toe ek in ‘n NG gemeente gewees het. Die vroue het nog almal hoofbedekkings gedra en die omies wat hoede gedra het, het dit afgehaal voor hulle die kerk in gestap het waar die mense ‘n ere diens gaan hou –

Maar toe beleef ek, terwyl ek vir ons Here begin werk het, dat in die grootste Pinkster denominasie van destyds die vroue al hoe minder hoofbedekking dra, want blykbaar het daar nou hierdie nuwe openbaring gekom:

“Ons leef nou in ‘n ander tyd en tye het verander, destyds toe die apostels en by name Paulus verkondig het, dat ‘n man nie waar mense bymekaar kom om ons Here te dien ‘n hoofbedekking mag op hê nie en ‘n vrou ‘n hoofbedekking moet dra nou nie meer op ons van toepassing is nie.”

So, daardie gedeelte in die Woord kan ons maar eenkant toe skuif, dit het nie meer betekenis vir ons vandag nie.

So, al die kerkleiers voor en ons voorvaders en die groot kerkleiers, soos die hervormers destyds, kom ons sê dan maar, voor die tweede gedeelte van die vorige eeu in al die eeue van te vore, het ongelukkig vir hulle, nie hierdie groot nuwe openbaring gehad nie.

Al die ander Pinkster gemeentes waar ek gekom het, van die ander denominasies buiten die groot een, het egter hand en tand teen hierdie nuwe openbaring gestaan, dit was nou daar aan die begin van my bekering en my werk in die kerk.

Maar hoe langer ek vir ons Here gewerk het en hoe meer ek rond beweeg het, het ek gesien, soos ek reeds genoem het, het hierdie nuwe openbaring, wat vandag natuurlik lankal nie meer nuut is nie, soos ‘n veldbrand deur die Pinkster gemeentes versprei en ek wil jou  ‘n voorbeeld gee van net hoe vinnig dit later gegaan het:

Een van die pastore van ‘n denominasie wat hand en tand teen hierdie, destydse nuwe openbaring gestaan het, nooi my een jaar uit om daar ‘n reeks dienste te kom hou en toe ons by die kerk stilhou, my vrou was nog in die motor, buk die pastoor by die venster en sien my vrou het klaar haar hoed op en sê vir haar hy is so bly om te sien, dat sy nog ‘n hoofbedekking dra.

Net ‘n bietjie meer as ‘n jaar later, nooi dieselfde pastoor ons uit, dat ek weer ‘n reeks dienste daar moet kom hou en weer hou ons voor die kerk stil en buk die pastoor by die motor om ons te groet en sê vir my vrou, dat sy maar haar hoed kan afhaal, want hulle glo nie meer, dat ‘n vrou ‘n hoofbedekking hoef te dra in ‘n diens nie.

My vrou antwoord hom toe:

“Maar pastoor ek glo nog , dat ek ‘ hoofbedekking moet dra waar mense bymekaar kom om saam ‘n ere  diens  vir ons Here te hou.”

Kom ek deel nou met jou oor hierdie destydse maar nou natuurlik lankal nie meer nie, openbaring, en hoe ons dit in die Woord vind.

Kom ons kyk net eers vinnig hoe lyk die pen waarmee ons Here se Heilige Gees  1Korintiërs geskryf het.

Ons lees aan die begin van 1 Korintiërs:

1KOR 1:1  Paulus, geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God, 

Dan gaan ons Here, die Woord en Hy skryf met hierdie “geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God” pen vir ons in Sy Woord:

1KOR 11:3-5

3 Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.

4  Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof, doen sy hoof oneer aan;

5  maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan; 

Dan gaan ons Here, die Woord, en Hy skryf verder met hierdie Paulus “geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God” se pen:

1KOR 11:10  Daarom moet die vrou n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.

Nou, ek weet nie hoekom “ter wille van die engele“ ons so moet optree as ons meer as net ek/een bymekaar kom om ons Here te eer en te dien nie.  Net soos ek op hierdie oomblik in my lewe sommige ander, wat geskryf is in ons Here se Woord vir ons Christene, ook nie verstaan nie – maar ek weet verseker wat dit beteken “om gehoorsaam te wees” en ek weet ook verseker hoe ons Here na dit wat ek graag wil doen en my gehoorsaamheid aan Hom kyk.

Ek deel met jou ‘n voorbeeld uit ons Here se Woord en ek vertel die voorafgaande gebeure so kort as moontlik ek dit kan doen, maar jy kan die hele verhaal daar van 1Samuel 15:1 af gaan lees.

Ons Here het vir Saul, wie Hy koning gemaak het, ‘n opdrag gegee, wat koning Saul toe uitgevoer het maar hy het dit gedoen soos wat hý dit wou doen en nié soos ons Here vir hom gesê het om dit te doen nie –

En dan lees ons en hoe verskriklik as ons Here so oor jou voel, dat ons Here berou gehad het oor wat Hy met en vir Saul gedoen het.

Dan lees ons verder, wat gehoorsaamheid aan ons Here aanbetref die volgende:

1SAM 15:22  Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.

1SAM 15:23  Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.

As jy nou die verdere geskiedenis van koning Saul gaan lees, lees jy hoe absoluut fataal dit was wat hy gedoen het en hoe tragies sy lewe en geskiedenis geëindig het.

Terug by my onderwerp.

Wanneer dan, volgens die Woord, moet ‘n vrou se hoof bedek wees en wanneer moet ‘n man se hoof nou nie bedek wees nie as ons iets met ons Here te doen het?

Persoonlik sien ek dat ‘n man en vrou, wanneer hulle saam bid of stilte-tyd hou, natuurlik nie hierdie instruksie op hulle van toepassing moet maak nie – want hulle is voor ons Here “een vlees,” of anders gestel as jy wil, een entiteit.

Wat ek persoonlik baie duidelik sien as ek lees:

1KOR 11:4  Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof, doen sy hoof oneer aan;

1KOR 11:5  maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan; want dit is een en dieselfde asof haar hoof geskeer is.

Jy kan tog nie profeteer as jy alleen is nie, want wie gaan jou profesie hoor, en elke keer as ons Here met die Paulus “geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God”-pen vir ons ‘n voorbeeld neergeskryf het, van wanneer ons mans ons hoofbedekking moet afhaal, en die vroue hulle hoofde moet bedek, skryf Hy vir ons as een voorbeeld, wanneer ons profeteer.

So, dit is dan duidelik vir my altans – Altyd, wanneer iemand profeteer, wat hy/sy net kan doen as daar een of meer mense is om te hoor wat hy of sy profeteer, sy hoof ontbloot moet wees en haar hoof bedek moet wees en elke keer wat die voorbeeld van profeteer genoem word, word bid, om dit so te stel in dieselfde asem genoem.

So, daar is dit.

Elke keer as ek in ander mense wat my profeteer of bid/aanbidding kan hoor, of beleef, geld die een vir my as man en die ander vir haar as vrou.

As ek dit so doen, weet ek, ek doen ten minste, terwyl ek met God die Allerheiligste te doen het, nie verkeerd nie.

Terwyl ek veral waar dit by die vroue kom, ek lees dat ons Here met die Paulus “geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God”-pen laat skryf het:

1KOR 11:10  Daarom moet die vrou n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.

Nou vra ek maar net vir almal wat ‘n probleem met so ‘n absolute eenvoudige opdrag, soos om jou hoed af te haal mans, of jou hoed op te sit vroue – En ek wys dit wat so duidelik daar geskryf staan weer: 1KOR 11:10  Daarom moet die vrou n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.

Het die engele in die hemel in die tussentyd, sê van die middel van die vorige eeu af, in die hemel van geaardheid of wat ookal verander en ons daarom ‘n nuwe openbaring in die verband van ons Here gekry het?

Sodat ‘n vrou nie meer haar hoof hoef te bedek as sy saam met ander bid of profeteer nie?

Ek vra ook met groot respek teenoor ons Here:

Het enige iets in die hemel, sê van die middel van die vorige eeu verander, vandat ons Here met die “geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God” Paulus-pen, waarmee ons Here die meeste van die wyse waarvolgens ons as Christene volgens Sy Nuwe Testament moet lewe, geskryf het?

Kan iemand my asseblief antwoord.

Wat het verander onder die engele en met groot respek teenoor my Here, wat het in ons Here se hart verander van volgens wat ek dit belewe het – en ek praat net van die kerk van Christus onder die Afrikaner, van ongeveer die laat sestigs van die vorige eeu soos ek dit in die kerk gesien het?

Ek vra weer.

Kan iemand my asseblief antwoord.

Wat het in die hemel onder die engele en soos ek dit van toe af al hoe meer in die kerk beleef het en ook in ons Here se hart verander?

Waar en hoe het ons Here dit bekend gemaak, dat Hy baie van dit wat Hy die Woord, met die “Paulus, ‘n geroepe apostel deur Jesus Christus volgens die wil van God”-pen geskryf het, Hy in ongeveer die middel van die vorige eeu Sy siening oor baie dinge begin verander het?

Want baie van die nuwe openbarings wat baie Afrikaanse denominasies, (ek kan nie van ander tale praat nie, omdat ek nie onder hulle beweeg het nie), vanaf ongeveer die middel van die vorige eeu begin uit die Woord gehaal, of verander het, omdat tye sogenaamd verander het, kom uit dit wat ons Here deur “Paulus, ‘n geroepe apostel deur Jesus Christus volgens die wil van God” vir ons laat neerskryf het.

So het iets in die hemel verander?

Het die engele in die hemel verander?

Het ons Here Jesus Christus verander?

Nee!

Natuurlik nie.

Maar ek sal jou sê wat verander het:

Die satan, omdat hy weet sy tyd word kort en is nou al baie kort, het net meer aggressief doelgerig geraak, om so veel as moontlik mense so ver as moontlik van ons Here af te kry, voor ons Here se wederkoms.  Daarom het Jesus self ook by geleentheid hierdie so hartseer vraag gevra, met die wete watter verskriklike prys Hy gaan betaal, om so mense van die hel te red:

LUK 18:8  … maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

Sal Jesus nog geloof vind – Geloof van mense wat hulle bes probeer om so naby as moontlik aan die Woord van ons Here te leef en ook so te verkondig, omdat hulle weet en dit ook so uit leef?

HEB 13:8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

HEB 13:9  Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; 

Kontak my as ek met jou nog valse nuwe openbarings wat so ongeveer, volgens wat ek dit beleef het so van die middel sestiger jare af ontstaan het, wat nou al (en sê satan seker by homself, “dankie tog”) deur omtrent al die Christen-denominasies versprei het.

Ekself sal, soos dit ook die leuse van hierdie bediening is, bly by die leuse van die kerkhervormers wat al die verkeerd in die katolieke kerk gesien en toe uit die katolieke kerk gestap het gesê het:

Die Woord, net die Woord en niks anders as die Woord nie.

Groete,

Sakkie