MAG DIE KERK OF ‘N KIND VAN GOD LOTTO WENGELD AS GESKENK AANVAAR?

MAG DIE KERK OF ‘N KIND VAN GOD LOTTO WENGELD AS GESKENK AANVAAR?

Sakkie Parsons

Iemand het aan my ‘n e-pos gestuur en onder andere die volgende geskryf:

“Iemand het ‘n rukkie gelede vir my iets gesê wat in my hart bly vassteek het.

Die persoon het ‘n opmerking gemaak dat sy wens iemand wil die lotto wen en vir die kerk ‘n klank stel koop en skenk.

Volgens wat ek weet is lotto vir my ‘n sonde, maar hoekom sal iemand so iets noem en dit toe wens vir die huis van onse Hemelse Vader.

Sê nou iemand doen dit wel, mag die kerk die geskenk aanvaar?

Of indien ‘n familie lid die lotto wen en vir jou daarvan gee?

Kan jy as ‘n kind van God dit aanvaar?”

Ek deel graag my antwoord ook met jou.

Hier is hoe ek na hierdie saak kyk:

Om mee te begin – Dit mag vir jou as ‘n skok kom maar nêrens in die Woord lees ek dat om aan ‘n lotery deel te neem op sigself sonde is nie maar daaroor meer later.

Baie Christene en selfs gemeentes en by implikasie dan met ander woorde op sommige plekke, die kerk, is nie konsekwent wat hierdie saak aanbetref nie.

Laat ek verduidelik.

By geleentheid gaan ek saam met mense na hulle gemeente se jaarlikse basaar toe.

Op ‘n kol terwyl ons met een van die dominees gesels, kom ‘n man na ons en vra of ons nie ‘n kaartjie wil koop en dan die naam van die pop wat hy by hom het  daarop moet skryf en dan die kaartjie in die doos wat hy by hom het gooi nie.  Dan gaan hulle aan die einde van die dag ‘n kaartjie trek en die persoon wie se kaartjie hulle trek, gaan die pop wen en die pop gaan dan die naam kry van die naam wat op daardie kaartjie is.

Die dominee self koop toe ook ‘n kaartjie en vul dit in.

Ek het ook al by ‘n basaar gekom, waar jy moes raai hoeveel boontjies in ‘n botteltjie is en dit op ‘n kaartjie wat jy gekoop het moes skryf.  Die een wat dan aan die einde van die dag reg, of die naaste aan reg geraai het, wen dan die skaap wat iemand geskenk het.

Dit is mos niks anders as lotery nie.

Jy verloor mos jou geloofwaardigheid, as jy verkondig lotery is sonde maar jy gebruik lotery om geld in te samel en satan weet dit  en ek dink hy kraak homself, oor hoe hy dit regkry om ons Here se kinders, as inkonsekwent voor te laat kom.

Ek het aan die begin gesê, dat nêrens in die Woord lees ek dat lotery op sigself sonde is nie.

So ver my kennis strek, lees ons die eerste keer van ‘n lotery in Levitikus 16:8.

Lev 16:8  En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die HERE en een lot vir Asásel.

Die laaste keer, as ek dit nou reg het, lees ons van ‘n lotery in Handelinge 1:24-26.

HAN 1:24-26

24  En hulle het gebid en gesê: U, Here, wat die harte van almal ken, wys uit hierdie twee die een aan wat U uitverkies het

25  om die lot van hierdie bediening en apostelskap te verkry, waarvan Judas afgewyk het om heen te gaan na sy eie plek.

26  Toe werp hulle die lot, en die lot het op Matthías geval; en hy is gekies om saam met die elf apostels te wees.

Ons lees ook in Spreuke 16:33.

Spr 16:33  In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.

In al 3 die voorbeelde wat jy nou gelees het, is ons Here betrokke en in laasgenoemde

sê die Woord vir ons, selfs in die lotery waar die mens Hom nie betrek nie, bepaal Hy

tog die uitslag.

Jy sal tog saam met my stem as ek sê, dat ons Here nooit deel sal hê aan sonde nie.

Nou gaan ek jou, so dink ek, nog verder skok.

As iemand na my toe kom en sê:

“Sakkie ek het R100,000.00 by ‘n perdewedren gewen.  Ek wil dit aan jou skenk, op

die voorwaarde dat jy ‘n derde aan liefdadigheid skenk.”

Dan sal my antwoord aan die persoon wees:

“Hier is my bankrekening nommer” en dan sal ek sommer uit pure lekker in plaas van

een, sommer twee derdes aan liefdadigheid skenk.

Vir my persoonlik, of dit afgodsvleis, lotto, perdewedren geld of halaal kos is, as ek

ons Here se seën daaroor gevra het, is daar wat my aanbetref niks wat my verhinder

om dit te gebruik nie.

Moet nou tog net nie dink, dat jy ons Here se seën kan vra oor geld of besittings wat jy op ‘n oneerlike/onderduimse wyse verkry het nie.

Dit gesê is daar ander dinge wat ‘n Christen wel deeglik ingedagte moet hou:

Om die lotto te speel kan mense verslaaf en na my mening is dit verseker sonde, as jy

geld op ‘n lotery spandeer wat jy eintlik nie het nie, soos byvoorbeeld jou of jou gesin

se geld vir julle daaglikse versorging.

Dan ook, rykdom of baie geld/besittings en die lotto is nie sonde nie – maar dit kan baie

maklik die struikelblok word, wat jou uit die Hemel uit hou!

Mat 19:23  En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan.

Mat 19:24  En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.

My persoonlike mening as ek die Woord lees is, dat as jy nie ryk is aan wêreld se goedere nie, jy in elk geval eintlik beter af is, as die persoon wat baie het.

Pre 5:9   Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs.

Pre 5:10  As die goed baie word, word die eters baie; watter voordeel het die besitter dan daarvan, behalwe dat sy oë dit aanskou?

In my huis is daar nie ‘n oorvloed van geld of rykdom nie maar in my huis is daar die

liefde van ons Here en liefde vir mekaar sowel as vrede en geluk.  Glo my as ek vir

jou sê, dat die mens wat dít kan sê, by verre onder die rykste mense in hierdie wêreld

is.

Spr 15:15  Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.

Spr 15:16  Liewer ‘n bietjie in die vrees van die HERE, as ‘n groot skat en onrus daarby.

Spr 15:17  Liewer ‘n porsie groente waar liefde by is, as ‘n vetgevoerde bees en haat daarby.

Pre 5:11   Soet is die slaap van die arbeider, of hy min en of hy baie eet; maar die oorversadiging van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie.

1TIM 6:10  Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.

Ek wil jou aanraai om na rykdom en of geld as volg te kyk.

Heb 13:5  Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.

So, trek jou lootjie by die kerkbasaar as jy wil maar moet nie dat lotery enige beheer in jou lewe uitoefen nie.

Groete,

Sakkie

foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.