DIE ‘ICE BREAKER’ WEDLOOP
Sakkie Parsons
Ek deel graag met jou die gedagte wat by my opgekom het toe ek so terugdink aan die ‘Ice breaker’ 10 kilometer wedloop wat ek saam met my gids Marix gedoen het. Wat weer soos altyd met so ‘n mooi gesindheid my deur die 10 kilometer, met al sy uitdagings vir iemand wat ‘n blinde lei, gedoen het.
Ek is ‘n baie koulike mens.
Selfs die wintersonnetjie in die middag is soms in die winter vir my koud, so jy kan maar net dink hoe het ek fisies gevoel toe ons daardie oggend oor die gras stap en ek hoor die ryp onder my tekkies!
Maar ek wil graag met jou deel wat by my opgekom het, toe ek na hierdie wonderlike ondervinding met Marix, wat so mooi na my gekyk het, terugdink.
Ek het so gesit en dink, hoe koue omstandighede in die lewe ‘n Christen, ‘n kind van ons Here – omdat ons, ons oë van Jesus afhaal – ons, onsself soms in haglike geestelike koue omstandighede kan bevind.
Net so ‘n kort tydjie gelede, was hy bereid om tot die dood toe vir Jesus te veg:
Onthou jy, hier kom hulle en nie net ‘n paar of 10 of 20 mense nie:
JHN 18:3 En Judas het die afdeling soldate en die dienaars van die owerpriesters en die Fariseërs geneem en daar gekom met fakkels en lampe en wapens.
Dit egter, het nie vir Simon Petrus afgeskrik nie!
Ons lees:
JHN 18:10 En Simon Petrus wat ‘n swaard gehad het, het dit uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. En die naam van die dienskneg was Malchus.
JHN 18:11 Toe sê Jesus vir Petrus: Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?
Petrus het nie probeer om die man se oor af te kap nie, hy het gegaan vir sy kop – maar hy, die visserman was net nie goed met ‘n swaard nie.
Toe net ‘n tydjie later, gaan sit hy vanweë die koue wat hy ondervind het, by ‘n vuur, tussen Jesus se vyande en spotters, om warm te word en toe!
Wat doen hierdie man wat ‘n kort tydjie gelede bereid was om ‘n hele afdeling soldate en ‘n klomp ander mense man alleen aan te vat?
Ons lees:
MAT 26:74 Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken die man nie.
MAT 26:75 En dadelik het die haan gekraai, en Petrus het die woord van Jesus onthou wat Hy vir hom gesê het: Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het buitentoe gegaan en bitterlik geween.
In die NLV lees MAT 26:74 as volg:
MAT 26:74 Daarop het Petrus hewig begin vloek en gesê: “Ek sweer voor God, ek ken hierdie man hoegenaamd nie!” Onmiddellik het die haan begin kraai.
Sien jy?
Eers is hy bereid om tot die dood toe vir Jesus te veg – maar omstandighede, waaraan hy toegee, laat hom tussen spotters en vyande van Jesus beland en hy vloek en sweer selfs in die naam van ons Here vals, om onder andere te demonstreer:
‘Kyk ek is een van julle ek kan net so lekker vloek soos julle en selfs in die naam van die Here vals sweer.’
Dit is daarom, dat Jesus vir ons waarsku en sê:
MAT 26:41 Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.
Ja, dit is daarom, dat Petrus, uit dure ondervinding met die leiding van die Heilige Gees ook by geleentheid, lank na die gebeure wat jy nou gelees het – en naby die dag dat hulle hom gaan kruisig en hy verkies het dat hulle hom onderstebo moet kruisig – want hy is nie werd om soos sy Jesus gekruisig te word nie.
Ja, nie te lank voor daardie dag nie, skryf hy en onderstreep wat jy gelees het, wat Jesus gesê het:
1PET 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.
So, laat jy en ek waak en bid, dat ons nie dalk omdat ons in die koue van alleen, of daarmee gepaard, eensaam is – dalk deur groepsdruk, of om iemand vir wie jy omgee tevrede te stel ens, – dat jy ook in daardie geestelike koue omstandighede, jou wil warm maak, jy dalk Jesus wie vir jou aan die kruis gaan hang het, sodat jy, wie Hom aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, nie in die hel beland nie – jy ook maar liewer vals sweer en vloek.
Met ander woorde net soos die mense in die wêreld begin lewe – en jy dalk so die ewige lewe in die hemel verruil vir die ewige verskriklikste dood in die hel en tog nooit daar sterf nie!
Groete,
Sakkie