GODVRESEND, OF VREESAGTIG? HOE MOET EK GOD VREES EN WAT BETEKEN ‘N GODVRESENDE LEWE?

GODVRESEND, OF VREESAGTIG?

Hoe moet ek GOD vrees en wat beteken ‘n Godvresende lewe?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en sê sy het na ‘n preek geluister, waar die prediker gesê het, dat mense die vrees vir die Here verloor het.  Anders gestel, dat mense nie meer Godvresend leef nie.

Ek gaan nou na die beste van my vermoë hoe ek dit verstaan en probeer uitlewe, ook met jou wie nou hier lees verduidelik.

Dan wil ek die vraag so vra:

Wat beteken dit as ‘n kind van God ‘n Godvresende-lewe, lewe?

Wel, dit beteken verseker eerstens nie dat jy nou met die bang en angs soort vrees vir God moet lewe nie.

Die bang en selfs angs vrees vir God beleef ‘n mens net as jy nie ‘n liefdesverhouding met Jesus het nie.

Ja, daardie soort vrees vir God belewe jy net as jy nog nie vir Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie en daardie soort vrees van bang-wees vir God “omdat Hy net wag dat ek ‘n voet verkeerd sit en Hy my dan gaan looi,” gaan ek in die oortreffende trap ervaar, as ek aan die anderkant van die graf sonder Jesus arriveer.

Om die Godvresende wyse van lewe te verstaan is eintlik kinderlik eenvoudig, soos wat die hele evangelie van Jesus Christus kinderlik eenvoudig is om te verstaan.

Laat ek verduidelik:

Ons is mos ons Here se kinders.  Wel hoe kyk jy na jou ouers? Jy kyk na hulle met liefde vol eerbied, respek en ontsag.

So kyk ek na ons Here:

Met ‘n liefdevolle Godvresende eerbied.

Met ‘n liefdevolle Godvresende respek.

Met ‘n liefdevolle Godvresende ontsag

Want Hy, die Almagtige God van hemel en aarde, is my Vader en my Vriend.

Met hierdie Godvresende liefde vol eerbied, respek en ontsag, eer ek Hom bo almal en alles.

Met hierdie Godvresende liefde vol eerbied, respek en ontsag, onthou ek dat Hy, my liefdevolle Skepper, die hele heelal in stand hou en dat daar nêrens in die skepping chaos is, buiten daar waar die mens dit veroorsaak of nie verstaan nie.

Met hierdie Godvresende liefde vol eerbied, respek en ontsag, probeer ek na die beste van my vermoë, om te lewe soos wat Hy my in Sy Woord wys, hoe Hy verlang dat ek moet lewe.

Luister mooi na hierdie woorde –

Jy en ek is na die beeld van God geskape en een van die eienskappe van God wat ons het, omdat ons na Sy beeld geskape is, is ‘n eie vrye wil en met hierdie eie vrye wil, kies ek om Jesus Christus aan te neem as my Verlosser en Saligmaker, OF ek besluit om dit nié te doen nie – en die besluit wat ek neem, gaan bepaal waar ek die ewigheid gaan deurbring – die ewige lewe in die Hemel, en of ek die ewige verskriklike dood in die Hel gaan deurbring en tog nooit sterf nie.  Want dít is die ander eienskap van God wat jy en ek het, omdat ons na God se beeld geskape is.  Ons is onsterflik.

Ons gaan die een of ander tyd uit ons liggaam hier op aarde beweeg na een van twee plekke waar ons verewig gaan lewe, OF vir ewig die verskriklikste dood gaan sterf en tog nooit sterf nie.

Ek onthou ook, dat om nié vir Jesus te kies nie, is om te kies om nié ‘n volgeling van Jesus te wees nie.  Met ander woorde, om te kies om Jesus nié aan te neem as my Verlosser en Saligmaker nie.

Jesus sê: 

LUK 11:23  Hy wat nie met My is nie, (van Jesus weet en neutraal teenoor Jesus staan) is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, (Jesus nie deur my lewe, woord en daad volg nie)verstrooi.

Baie mense weet van Jesus, want hulle het êrens van Hom gehoor – maar daar is mense wat ook van mý weet, ook jy wie nou hier lees – maar om net van Jesus te weet, is nie dieselfde, soos om ‘n liefdesverhouding met Hom te hê nie

JHN 8:42  En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur.

JHN 14:23  Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, (volgens Sy Woord leef en deur voorbeeld/getuienis/dade)en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.

Het jy al vir Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker?

Het jy sekerheid oor wat ek jou nou gevra het?

As jy nie weet nie of selfs onseker is, dan het jy nog nie.

Ek was 37 jaar getroud met my vrou wie nou by Jesus is en ek het nooit vir een oomblik getwyfel of ek haar gevra het om met my te trou nie.

As jy werklik vir Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, sal jy weet dat jy het.

Wel, vandag as jy nie daardie sekerheid gehad het nie, kan jy nou sekerheid kry en dan nie in vrees vir God lewe nie – maar heerlik Godvresend met ‘n verhouding van eerbied, respek en ontsag-verhouding begin wat in liefde eerstens van ons Here af en dan ook van jou kant af, sal groei en groei en groei.

Jy kan net hier waar jy nou lees in alle opregtheid in jou binneste vir Jesus sê:

“Here, ek weet dat ek nog nie regtig U kind is nie maar ek wil nou hier seker maak, dat ek aan U behoort.

Ek bely, dat ek ‘n sondige lewe vêr van U af gelewe het – maar ek kom nou na U toe en ek draai my rug op my verkeerde lewe wat ek geleef het en ek vra U Here, help my van hier af en kom my geloof wat nog baie klein is te hulp.  Dankie dat ek nou weet ek is U kind, ‘n dissipel van Jesus Christus.”

Luister wat sê ons Here is Sy woord as jy dit gedoen het:

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

Nou soek jy as ‘n saak van groot dringendheid ‘n gemeente wat die hele Bybel as die onfeilbare Woord van ons Here aanvaar en woon een van hulle dienste by.

Maak kontak met die herder van daardie gemeente, vertel hom wat jy gedoen het en vra hom vir verdere leiding.

Kontak dan ook weer vir my as jy wil en ek en my medewerker in Christus gaan vir jou bid, dat jy wonderlike leiding gaan kry.

As jy nie so ‘n gemeente kan kry nie, kontak my ook en ons sal van ons kant af probeer help dat jy by so ‘n gemeente kan uitkom.

Lees ook hier, en kry groot vrede oor jou verlede:

ROM 8:1  Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

Groete,

Sakkie