WANNEER SATAN FLUIT EN BOO

WANNEER SATAN FLUIT EN BOO

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en my gevra:

“Hoekom voel dit vir my, dat ek nie ons Here se stem in my lewe hoor nie en met ander woorde ervaar dat Hy nie eintlik iets met my te doen wil hê nie?”

Ek deel my antwoord aan die persoon met jou. Miskien weet jy van iemand wat ook so voel en dan kan jy dalk hierdie skrywe aan die persoon stuur.

Net die feit dat jy hierdie vraag vra, is al klaar ‘n bewys dat ons Here reeds met jou iets te doen het en dat jy wel Sy stem hoor.

Ek wil jou iets wys.

Het jy al gesien in ‘n Rugbywedstryd wanneer die een span ‘n strafskop kry?

Die man wat gaan skop stel die bal en dan tree hy terug.

Dan, wat gebeur dan…

Die skare wat vir die ander span skreeu begin raas en fluit.  Kortom, hulle probeer alles om hom so te “distract” dat hy nie die bal kan oorskop nie.

Die woordeboek gee vir “distract” in Afrikaans onder andere die volgende woorde:

“distract: verwar, steur; verbyster, gek maak; weglok; sy aandag is afgetrek.”

Dit is presies wat satan met jou en my probeer doen en dan sommer, as dit moontlik is, ons te laat voel die hele wêreld is teen ons. 

Presies wat die skare op die pawiljoene probeer doen as die skopper aanlê pale toe.

Wie is hierdie skare wat probeer om jou te “distract.”  Ek bedoel, jou te verwar,steur,verbyster, gek maak, weglok of jou aandag aftrek?

Die Woord sê:

EFE 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Kan jy onthou wat doen die man wat aanlê pale toe terwyl die skare so fluit en boo?

Hy konsentreer op die bal en die pale en sluit die skare uit sy gedagtes uit.

Dit is natuurlik presies wat die Woord ons leer wat ons moet doen as die skare, die owerhede, die magte, die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, die bose geeste in die lug, kortom, dit is presies wat ons moet doen as satan ons wil “distract,”met ander woorde ons wil verwar, steur, verbyster, gek maak, weglok, ons aandag wil aftrek van ons Here af met sy bose fluit en geboog.

Die Woord sê in hierdie verband byvoorbeeld die volgende:

Heb 12:1  Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,

HEB 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof,wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

Kyk net wat wag vir ons, as ons ten spyte van die satan skare se fluit en geboo ons oog op Jesus hou.  Ek bedoel, kyk net wat “score” ons.

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

OPG 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon,soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

Daar is natuurlik nog iets wat ons kan leer by daardie man wat nou daar op die veld staan en gereed maak om te “score.”

Hy het nie sommer net op die veld gestap nie.  Hy moes hard werk en oefen en oefen om daar te kan staan. 

Daar was baie dinge wat hy moes doen en baie dinge wat hy nie moes doen nie, om daar te mag staan en te mag “score.”

Net nadat ons in die Woord lees, dat ons stryd teen die gefluit en geboo van die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug is – lees ons ook wat ons moet doen, om gereed te wees om die “punch” te kan vat, sodat ons kan aanlê pale toe en “score.”

 EFE 6:13-18 

13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op,sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.

14  Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,

15  en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.

16  Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.

17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—

18  terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, …

Van my kant af wil ek nog net dit ook voorstel:

Raak betrokke by ‘n gemeente wat Christus as hoof van die gemeente het en wat die

hele Bybel as grondslag van Sy evangelie aanvaar.  Omring jou met ‘n vriendekring van belydende Christene.

Met ander woorde;  Soos daardie man op die veld, omring jou met ‘n span of dan vriendekring van Christene, saam met wie jy kan oefen om vir ons Here te speel en te wen.

Groete,

Sakkie