GOD KEN JOU HART WANNEER JY BID
Jy mag praat met die Almagtige GOD – ook jou VADER en jou VRIEND
Sakkie Parsons
Ek deel graag met jou ‘n vraag oor gebed waaroor iemand my gekontak het. Die persoon noem aan my, dat daar mense is wie sulke mooi lang gebede bid byvoorbeeld, 5 minute lank – en dat hy/sy wonder hoekom hulle dit nie kan doen nie.
Hier volg my antwoord soos ek dit verstaan vanuit ons Here se kosbare Woord:
Ek wonder ook soms oor sommige mense se lang gebede, veral die wie dan in daardie gebede ‘n ander stemtoon en selfs ‘n heel ander wyse van praat het.
Alhoewel daar mense is wat werklik mooi lang gebede bid, het ek ‘n probleem met mense, soos ek genoem het, veral as hulle veral in ‘n amper ander soort stem en op ‘n ander spreekwyse begin praat maar Jesus self, Hy wie God is wat mens geword het, het ook ‘n probleem met sommige mense se manier van bid gehad.
Onthou jy:
MAT 6:5-8
5 En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het.
6 Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.
7 En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.
8 Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.
Dit meen natuurlik nie, dat ons nie in die openbaar saam met ander mense kan bid nie. Natuurlik mag ons.
Jesus het dikwels in die openbaar gebid.
Ons moet egter Jesus se woorde wat jy nou net gelees het altyd onthou.
Ek persoonlik, omdat ek blind is en baie op klank ingestel is, word sommer gou ongelukkig as ek by is waar iemand bid, en hy/sy hierdie ander temerige manier van praat bid, amper skryf ek teem of sanik as hulle bid.
So met ‘n glimlag gesê, dan kry jy ook hierdie mense wat begin bid en in ‘n hele mooi uitgewerkte preek aan die mense om hulle ingaan.
Kyk hulle mag nou nie ‘n kans kry om agter die kansel te staan en preek nie maar preek gaan hulle preek.
Hier is in kort hoe ek om te bid uit die Woord verstaan.
Eerstens onthou ek met wie ek praat en die wete moet in my binneste die nodige eerbied, respek en ontsag oproep en ek gee twee voorbeelde:
JES 43:11-13
11 Ek, Ek is die HERE, en daar is geen Heiland buiten My nie.
12 Ék het verkondig en verlos en dit laat hoor, en daar was geen ander god onder julle nie; en julle is my getuies, spreek die HERE, en Ek is God.
13 Ook van vandag af is Ek dit, en niemand red uit my hand nie; Ek werk, en wie kan dit keer?
JES 45:5-7
5 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,
6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;
7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Dit is wat ek nooit uit die oog moet verloor nie. En dan, terwyl ek hierdie dinge weet, wil my God hê, dat alhoewel hy hierdie grote enigste almagtige God is, Hy ook my Vader is – en in Sy groot goddelike liefdevolle genade Hy wil hê ek moet weet, dat Hy ook my Vader wil wees.
Daarom kom Jesus en sê vir ons met daardie selfde grootse liefdevolle genade van ons Verlosser en Saligmaker:
MAT 6:9 Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
MAT 6:10 laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; …
Ek mag ten laaste in my gebed ook onthou, en hoe wonderlik heerlik is dit nie en hoeveel heerlike vrede gee dit my nie, as ek met die Almagtige God van hemel en aarde praat, wie ook my Vader is, as ek dan ook onthou, dit is my Verlosser en Saligmaker en ook Vriend, wat Sy lewe gegee het, sodat ek nie net nou met Hom mag gesels nie maar dat, as gevolg wat Hy vir my gedoen het, as ek Hom al die pad deur hierdie lewe eer as my God, my Vader en my Vriend – dat ek as gevolg van wat Hy vir my gedoen het, ek sonder enige vrees ook kan onthou, dat ek die ewigheid saam met Hom gaan deurbring:
En wat vrees aanbetref, sê Hy wie my God, my Vader en my Vriend is ook vir my, Sy vriend:
LUK 12:4 En Ek sê vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie;
LUK 12:5 maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: (as julle nie my vriende is, of nie meer my vriende wil wees nie)vrees Hom wat, nadat (jy uit hierdie lewe getree het) Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; (waar jy die verskriklikste dood gaan sterf en tog nooit sterf nie) ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!
Nou wil ek vir jou noem:
Uiteindelik dan, wat jou gebed aanbetref.
Dit is nie belangrik hoe lank of hoe mooi jou woorde of ja, selfs jou stem is, wanneer jy bid nie.
Wat saak maak is, of jy eerstens werklik besef met wie jy praat as jy bid en of jy werklik ‘n intieme liefdesverhouding met jou God, jou Vader en jou Vriend het en hierdie werklik opregte intieme liefdesverhouding, kan net begin, as jy vir Jesus Christus opreg aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker.
Soos ek al so baie in die verlede gesê het, sê ek nou maar weer.
As jy vandag terwyl jy hier lees onseker is of jy al vir Jesus aangeneem het as Jou verlosser en Saligmaker, wel dan kan jy seker wees, jy het Jesus nog nie aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker nie.
As jy hier lees en by jouself sê: “Ek het nog nie vir Jesus in soveel woorde aangeneem as my Verlosser en Saligmaker nie maar ek is darem ook nie teen Jesus nie.”
Dan sê Jesus vandag weer vir jou, dat jy nou reg teen hom is:
MAT 12:30 Hy wat nie met My is nie, (met ander woorde neutraal teenoor Jesus staan)is teen My; en hy wat nie saam met My (of deur sy/Haar lewe, word, of daad) versamel nie, verstrooi.
Onthou by dit alles wat jy tot hier gelees het, dat elke mens, omdat jy Na God se beeld geskape is en daarom ook soos Hy, ‘n wil van jou eie het, gaan as ek hierdie lewe uittree die hiernamaals lewendig intree. Ook omdat ek onsterflik is want ek is na God se beeld geskape en soos Hy onsterflik is gaan ek die ewigheid onsterflik in een van twee plekke intree.
As ek aan die anderkant van die graf met Jesus die ewigheid intree, gaan ek die ewige heerlikheid van die hemel intree om daar verewig saam met Jesus te wees en nie net saam met Hom te wees nie maar aan Hom gelyk te wees:
1JHN 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
As ek egter aan die anderkant van die graf die ewigheid intree sonder Jesus se Heilige Gees wat in my woon, gaan ek die hel intree, om daar verewig die verskriklikste dood te sterf. Ja, om daar verewig op, om dit so te stel, op die verskriklikste sterfbed te lê en verewig te wens, dat ek tog net kan sterf en tog nooit tot in alle ewigheid te sterf nie.
Luister mooi – en ek kwoteer die NLV, omdat dit sulke heerlike hedendaagse Afrikaans is:
HEB 3:7-12
7Julle moet dus luister wanneer die Heilige Gees die volgende sê:
“Vandag wanneer julle sy stem hoor,
8 moet julle nie julle harte verhard soos Israel gedoen het toe hulle gerebelleer het nie,
toe hulle God se geduld in die woestyn getoets het.
9-10 Dáár het julle voorvaders my geduld beproef ten spyte daarvan dat hulle vir 40 jaar
my magtige dade aanskou het.
Daarom het Ek vir daardie geslag kwaad geword en gesê: ‘Hulle harte dwaal altyd
van My af weg.
Hulle wou nie doen wat Ek van hulle verwag nie.’
11 Daarom het Ek in my toorn onder eed verklaar:
‘Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.’”
12 Wees dan versigtig, broers en susters. Maak seker dat daar nie by enigeen van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof posvat wat julle vervreem van die lewende God nie.
Jy weet jy het weer vandag, nou hier, ‘n geleentheid om Jesus aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker.
Jy weet nie of jy ooit weer so ‘n geleentheid gaan kry en of ons Here ooit weer so duidelik in jou hart met jou gaan praat soos nou hier nie.
As jy nou van hierdie geleentheid wil gebruik maak, kan jy net hier waar jy nou is in volle opregtheid vir Jou God, wie ook Jou Vader en jou Vriend wil wees sê:
“Here ek, hierdie so vol sonde mens bely nou hier teenoor U, dat ek weet, dat as ek nou uit hierdie lewe tree, ek nie die hemel gaan intree nie.
Ek draai van vandag af my lewe om.
Ek draai my rug op die lewe wat ek geleef het en ek vra U.
Vergewe my die lewe wat ek geleef het.
Ek maak my hart nou vir U oop kom in Here en laat U Heilige gees my van vandag af lei en help my Here dat ek U stem sal hoor in my hart en ek U gehoorsaam sal volg en ek sal weet, elke keer as ek bid, hoor U my en verhoor U my as ek iets vra volgens U wil.
Ja Here, dat ek met volle sekerheid sal weet”:
1JHN 5:14 En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.
Nou soek jy ‘n gemeente wat die hele Bybel as die kosbare Woord van ons Here aanvaar.
Gaan so gou moontlik na een van hulle dienste.
Maak kontak met die herder van daardie gemeente en vertel hom wat jy gedoen het en vra hom vir verdere leiding.
As jy probleme het om so ‘n gemeente te kry, kontak my en ek en my medewerker sal probeer help.
Groete,
Sakkie