AGAPE LIGA WEDLOOP OP 17 MEI 2025

Ek deel graag met jou die heerlike wedloop wat ek op 17 Mei 2025 saam met my gereelde gids Marix Venter gedoen het.

Dit was ‘n liga wedloop en ons het die 10 kilometer wedloop gedoen en dit was vir my eerstens heerlik om te weet, dat ek punte vir my klub kon verdien.

Marix het weer soos altyd haar so goed van haar taak gekwyt om my veral tussen al die mense te lei.

Sy het my ook so mooi oor al die hobbels, om die gate in die pad, en deur die waterpunte gelei.

Iemand vra my na die wedloop:

“Jy sê Marix is ‘n goeie gids.

Wat maak iemand ‘n goeie gids?”

Ek kan die antwoord in een sin opsom:

Dit is iemand met ‘n Jesus gesindheid.

As jou gids ‘n Jesus gesindheid het, val al die ander dinge wat nodig is om ‘n goeie gids te wees, vir iemand wat blind is, sommer outomaties in plek.

So van Jesus se gesindheid gepraat.

Ek is trots om te noem, dat ek lid van die Agape klub is en ons leuse is:

“Run for the Son.”

Ek sit by ons tent voor en veral na die wedloop en luister hoe vriendelik al die lede van ons klub met mekaar gesels, maak nie saak wat jou ras of kleur is nie.

Ek het genoem, dat ‘n goeie gids vir ‘n blinde in so ‘n wedloop Jesus se gesindheid moet hê en toe het ek nou genoem hoe mooi vriendelik almal wat ek kon hoor ook met mekaar is.

Toe onthou ek weer, toe ek terugdink aan die wedloop –

Die Woord sê die volgende van hoe iemand se gesindheid en vriendelikheid behoort te wees as jy Jesus se Heilige Gees in jou het:

Ek wil begin met die vrug van die Gees wat ons moet dra:

GAL 5:22  Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Met die gedeelte wat ek nounet met jou gedeel het in gedagte, is dit heerlik om te onthou, terwyl ek die vrugte van die Gees dra en die mense dit in my vriendelike optrede teenoor hulle kan sien, is dit ook wonderlik om te onthou, dat deel van my vriendekring, is daar ook die wonderlikste Vriend in die hele heelal wie Homself deel van my vriendekring gemaak het.

Dit is Jesus wat hier praat:

JHN 15:13-15

13  Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.

14  Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.

15  Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. (Ons moet dit nou uitleef.)

Verder sê Jesus, Hy wie ook ons vriend wil wees, dat ons nie in hierdie onsekere tye vol vrees moet leef nie.

HY sê:

LUK 12:4  En Ek sê vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie;

LUK 12:5  maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!

Verder sê Hy ook vir jou Sy vriend, kind en volgeling:

JHN 16:33  Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

Onthou, dat Jesus nooit vir ons gesê het, dat Sy vriende, kinders en volgelinge altyd maanskyn en rose in hierdie wêreld gaan hê nie – maar Hy het wel vir ons verseker gesê – en dit is altyd my vertroosting in wat ook al oor my pad kom:

ROM 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Hoe wonderlik!

Jesus is nie net jou en my vriend nie –

Ons is mos ook kinders van ons HERE.

So, laat die mense die familietrekke van Hom in en deur ons sien en die beginpunt is:

FIL 4:4  Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!

FIL 4:5  Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.

Dankie dat jy my webtuiste besoek het en ek hierdie met jou kon deel.

Groete met Jesus liefde en mooi loop.,

Sakkie